Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy Februarie-verslag oor veesiektes wat by die vereniging aangemeld is, in een geval was vyf kalwers in ’n vleisbeeskudde van 550 koeie met geboorte ondergewig. Hulle het binne twee tot drie dae gevrek. Toetse in ’n veeartsenykundige laboratorium het spore van beesbrucellose getoon. Die hele kudde is getoets en daar is gevind 110 koeie het brucellose.

Beeste wei op baie plase op mieliereste sonder dat voorkomende biosekerheidsmaatreëls getref word om dieregesondheid (spesifiek brucellose en tuberkulose) te verseker. In die betrokke geval is ’n verkopersverklaring nie van die eienaar verkry voordat die diere gekoop is nie. Die vroulike diere is ook nie volgens wetgewing op vier tot agt maande met die nodige entstof ingeënt nie. Boonop moes die boer wat die diere gekoop het, hulle eers op sy plaas in kwarantyn gehou en vir brucellose en TB laat toets het.

Malan vertel van nog ’n voorval waar beeste in ’n gebied gekoop is waar Asiatiese rooiwater endemies is. Hulle is na ’n plaas geneem in ’n streek wat vry van rooiwater is. ’n Aantal beeste het drie weke later van Asiatiese rooiwater gevrek. Weer eens het een verkeerde besluit ’n boer duur te staan gekom.

Hy sê die lesse wat die boere hopelik geleer het, is om ’n veearts te raadpleeg en deeglik te beplan voordat hulle diere elders aankoop om siektes soos beesbrucellose, TB, trichomonose, vibriose, knopvelsiekte, kriptosporidiose, Asiatiese rooiwater en anaplasmose te bekamp.

Klik hier om die lys van siektes te sien wat gedurende Februarie 2021 by Ruvasa aangemeld is.