Hy waarsku vee- en wildboere in sy Februarie-verslag daarteen en sê boere by Thabazimbi het navraag gedoen oor vee wat gevrek het nadat hulle lam geraak het.

Luidens ’n dokument wat deur Malan, dr. Johan Steyl van die departement parakliniese wetenskap aan die fakulteit veeartsenykunde van die Universiteit van die Pretoria en dr. Johan Cronje, ’n private veearts van Thabazimbi, opgestel is, is daar ontluikende, insekoordraagbare virussiektes wat die senuweestelsel van perde, beeste, skape, wild en mense aantas. ’n Groep virusse kom voor wat deur insekte oorgedra word en as arbovirusse bekend staan. Dit kom in draerwerweldiere voor. Muskiete en muggies dra dan virusse soos die Wes-Nyl-, Middelburg-, Shuni- en Simbu-virus na vatbare diere oor. Die Wes-Nyl-virus kom byvoorbeeld in voëls voor.

Hierdie virusse tas die senuweestelsel aan. Diere word stadigaan verlam en kan naderhand nie meer opstaan nie. Dit kan met lamsiekte en drie-dae-stywesiekte verwar word.

Hierdie virussiektes kom veral voor wanneer die muskiet- en muggiebevolkings ná goeie reën in die somer (Februarie tot Mei) die hoogte inskiet. Uitbrekings kom tans in die sentrale en westelike gebiede van Limpopo voor.

Nuwe metodes word ontwikkel om hierdie siektes te diagnoseer. Voorlopige resultate is bemoedigend, sê die span kundiges. Daar is nog nie middels vir behandeling beskikbaar nie en diere kan slegs simptomaties behandel word. Herstel kan langer as twee weke duur.

Insekbeheer is noodsaaklik om nuwe gevalle te voorkom. Verskuif diere weg van vleie, riviere en ander waterbronne waar insekte uitbroei. Diere kan ook met insek-afweerders gespuit of gedip word. Vir perde is ’n entstof teen die Wes-Nyl-virus ontwikkel. 

Bosluise en insekte

Aanmeldings van ander siektes wat deur insekte en bosluise oorgedra word, is gedurende Februarie by Ruvasa aangemeld. Malan sê siektes wat op groot skaal voorkom, is knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, anaplasmose en Afrika- en Asiatiese rooiwater by beeste, bloutong by skape en Afrika-perdesiekte by perde. “Al hierdie siektes kan met inentings voorkom word. Boere moet dus ’n program vir inentings saam met ’n veearts opstel,” gee hy raad.

Danksy harde werk deur Limpopo se staatsveeartsdienste (departement van landbou, bosbou en visserye) en die private sektor sedert bek-en-klouseer in dié provinsie uitgebreek het, is voorkom dat dit oor die provinsiale grens gaan. Geen nuwe gevalle is in die afgeslote gebied waar die siekte uitgebreek het, aangemeld nie.

Malan sê die nasionale dieregesondheidsforum is met die samewerking van die nasionale departement van landbou, vissery en bosbou besig om die grondslag vir ’n stelsel te lê om die identifisering en beheer van vee moontlik te maak. Alle betrokkenes behoort hierdie projek te ondersteun. As die stelsel reeds in werking was, sou die verspreiding van bek-en-klouseer nie gebeur het nie.

Klik hier vir die tabel wat die siektes en toestande wat gedurende Januarie aangemeld is opsom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.