“Die merk is nie net daar omdat ons meen dit is ’n goeie idee nie, maar omdat daar ’n werklike vraag is daarvoor van internasionale verbruikers,” sê mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools.

“Mense wil met Suid-Afrikaanse wol identifiseer, nie net omdat die wol sonder Mules se operasie geproduseer is nie, maar om ’n merk te kan aanbring wat sê dit is Suid-Afrikaanse wol, sodat dit vereenselwig kan word met naspeurbaarheid en gestaafde volhoubare produksiepraktyke.”

Die merk bied ’n ware geleentheid vir Suid-Afrikaanse wolboere, meen Saayman.

Die bedryf het ’n handelsmerkriglyn saamgestel waarvolgens die merk gebruik sal word en ’n internasionale registrasieproses aan die gang gesit in spesifieke lande.

Dié merk sal op verbruikers gerig wees. Spinners, wewers, vervaardigers en kleinhandelaars sal op spesifieke produkte kan aandui dat die produkte van volhoubare en naspeurbare wol gemaak is.

Die bedryf sal ’n ooreenkoms aangaan met maatskappye of vervaardigers en hulle sal die nodige lisensie moet verkry om die merk te kan gebruik.

“Ons sal die nodige huiswerk doen ten opsigte van die produkte wat hulle gebruik en ook die produkte toets, of vir voorbeelde vra om getoets te word.”

Gesertifiseerde wolprodukte

Gesertifiseerde wolprodukte van die Responsible Wool Standard (RWS) en Abelusi sal ook vir die merk in aanmerking kom, mits dit deur die Cape Wools-platform gestaaf is.

Die bedryf se standaard wat vir die plaaslike wolbedryf geskep is, is ook besig om al hoe meer vastrapplek te kry.

Saayman voeg by dat dit die bedryf se doelstelling is dat enige handelaar Suid-Afrikaanse wol met vertroue kan aankoop.

Die Sustainable Cape Wools-standaard sal danksy ’n ooreenkoms met die Schneider-groep erken word op sy Authentico-platform as ’n volhoubare en naspeurbare wol, en sal saam met RWS-wol erken word as ’n gesertifiseerde bron van wol van Suid-Afrika. ’n Soortgelyke ooreenkoms is ook met die Australian Wool Exchange aangegaan.

Sonder Mules

Volgens mnr. Paul Lynch, van Standard Wool SA, sal Suid-Afrika se wolbedryf as produsent wat nie Mules se operasie toepas nie, ’n ál groter rol speel in die toekoms, met sommige maatskappye wat reeds aangedui het dat hulle van 2025 af geen wol sal koop van produsente wat Mules se operasie toepas nie.

“Dit plaas Suid-Afrika in die regte posisie om wol te verskaf aan kopers wat dié wol soek.”

Hy waarsku egter dat die bedryf nie moet staatmaak op sy status as produsent wat nie Mules se operasie toepas nie, en dat die bedryf steeds vorentoe moet beweeg.