Serfontein, eienaar van Sernick-Bonsmaras by Edenville, het die hoogste bod gemaak vir die bul HART 17-0007 op Briedenhann se Hartebeestloop-Bonsmara-veiling by Stampriet waar 38 SP-bulle en 97 vroulike diere aangebied is.

Die veiling is deur Agra Namibië met die samewerking van BKB-aanlyn Suid-Afrika gehou gedurende fase 2 van die Namibiese grendelperiode. Streng protokolle is gevolg.

Briedenhann sê dit was die eerste keer dat sy veiling ook ’n aanlyn opsie gehad het. Altesame 58 aanlyn kopers het aktief deelgeneem en 30% van die beeste gekoop. Daar was ook 250 mense wat die veiling regstreeks as kykers gevolg het.

Die 38 bulle het gemiddeld R108 816 behaal. Benewens die hoogste prys van R400 000 het mnr. Streicher Coetzee van Hochfeldstreek-Bonsmaras, in die distrik Hochveld in Namibië, die bul HART 16-0266 vir R300 000 gekoop, terwyl mnr. Hendrik de Klerk van Gochuras-Bonsmaras, van die distrik Koës in Namibië, die bul HART 17-0182 vir R260 000 aangeskaf het.

Daar was slegs enkele bulle wat draers van die geen vir dubbele bespiering is. Daar was ook groot belangstelling in goedbespierde bulle met goeie vleiseienskappe wat nie draers van die geen vir dubbele bespiering is nie. Nege bulle is vir R100 000 of meer verkoop.

Dragtige verse het gemiddeld R15 829,27 behaal en oop verse gemiddeld R13 101, 85.