Die Simbra is die afgelope ses jaar die vinnigste groeiende

vleisbeesras in Suid-Afrika. Dié ras is nou 17 jaar oud en reeds op drie na die

grootste vleisras in die land op grond van die getal aangetekende vroulike

diere.

Die Simbra het sy ontstaan te danke aan 'n raadsbesluit van die Simmentaler-telersgenootskap in die vroeë 1980's om 'n geharde ras vir Suid-Afrikaanse veldtoestande te ontwikkel wat in dieselfde stal as die Simmentaler sal tuishoort. Die besluit om die Simmentaler en Brahman te kombineer, is geneem omdat albei rasse 'n groot genepoel het - hulle is twee van die talrykste rasse ter wêreld.

Tien jaar later het die ras egter eers momentum begin kry ná 'n raadsbesluit in die vroeë 1990's, naamlik om enige kombinasie van 1/2-Simmentaler x 1/2-Brahman tot 3/4-Simmentaler x 1/4-Brahman as F1-diere te aanvaar. Hiermee is 'n aanvanklike besluit van 1986, naamlik om die F1-diere by 'n bloedverhouding van 3/4-Simmentaler x 1/4-Brahman te stabiliseer, as 't ware oopgegooi. Met laasgenoemde kombinasie kon goeie groei op natuurlike veld behaal word - gepaard met 'n goeie temperament.

Maar waarskynlik die belangrikste bydrae tot die vinnige vordering van die ras wat nie altyd gesnap word nie, is die slim gebruik van die gewone opteeltegniek vanaf basisdiere deur nageslagte van F1 tot by volgeregistreerde F4-diere.

Mnr. Llewellyn Angus van Whispering Willows, Arlington, voorsitter van die Simmentaler- en Simbra-telersgenootskap, sê die geheim van enige opteelprogram lê nie daarin "om generasie te jaag" deur so gou moontlik by F4-diere uit te kom nie. Die klem moet liewer op beter gehalte geplaas word in die lig van 'n vooraf bepaalde teelideaal. Dan volg generasievordering vanself.

'n Deel van hierdie waarheid word weerspieël in die goeie prestasies wat Namibiese telers op die onlangse internasionale kampioenskapskou vir Simbras op Vryburg behaal het. Nog vóór die Simbra beslag gekry het, was Namibiese boere reeds gewoond om die twee ouerrasse in 'n korrektiewe teelprogram kommersieel aan te wend, met die klem op gehardheid en produksie in ekstensiewe toestande.

Deesdae word ook F1cum-diere as Simbras aanvaar. Dit is 'n dier waarvan die pa of ma onbekend is, maar wat op die oog af vir die genootskap se tegniese span soos 'n tipiese Simbra lyk. Daar was reeds baie sulke diere van hoë gehalte in Namibië toe met die ras begin is. 'n Mens moet onthou die grootste deel van dié land is beeswêreld waar waarneming en ervaring saam met reën die deurslaggewende elemente vir oorlewing is, sê mnr. Angus.

Hy wys daarop dat op die jongste rassimposium dit by hernuwing onderstreep is dat 'n Simbra soos 'n Simbra moet lyk en nie soos 'n Simmentaler of 'n Brahman nie. Daarmee word bedoel dat by die tipiese Simbra wel kenmerke van die Simmentaler en Brahman raakgesien kan word.

Voorbeelde hiervan is die effens ovaal en geboë kop van die Brahman teenoor die effense hol kop van die Simmentaler met langer ore as die Simmentaler. Van agter gesien toon die Simbra genoeg breedte en vol bespiering. Die Simbra se raam word regoor die agterbeen tot by die heupbeen gemeet, terwyl dit by die Simmentaler regoor die voorbeen tot by die kambene gemeet word. Voorts het die ras nie probleme ten opsigte van temperament nie en daar word deurgaans na goeie skedes gekyk, veral die grootte en hoek van aanhegting.

Mnr. Angus wys daarop dat die Simbra nie 'n basterras is nie. Dit is fenotipies en genotipies 'n Simmentaler-Brahman-kombinasie wat oor minstens vier geslagte vasgeteel is.

Die opwindendheid van dié program is dat dit ruimte laat om gehalte te bou. As 'n mens byvoorbeeld 'n klompie F3-vroulike diere het wat nie na wens is nie en jy kry 'n F2-bul wat dié tekort kan regstel, gebruik jy hom en die kalwers bly F3 - die ekonomies belangrike verskil is dat die nageslag verbeter word.

Met behulp van Breedplan-waardes is ideale teelwaardes vir elke gemete eienskap by die Simbra bepaal. Dit is 'n goed gebalanseerde stel optimum pleks van maksimum teelwaardes wat die genootskap se beleid van middeweg-grootte weerspieël.

Die waardes is (met gemiddelde teelwaardes vir die ras tussen hakies): Geboortegewig - 0,3 tot 1,9 (1,1); Speengewig - 11 en hoër (12); gewig op 400 dae - 15 en hoër (17); gewig op 600 dae - 19 tot 31 (22); volwasse koeigewig - 15 tot 28 (22); en melk - 2 tot 4 (3). Die volwasse koeigewig dui op 'n mediumraamdier wat dit 'n goeie moederlyn maak teenoor die Simmentaler wat as tipe meer na 'n groot raam neig.

Die Simbra se nis is aanpasbaarheid, gehardheid en genoeg produksie in ekstensiewe toestande en stelsels. "Teel in balans" is die wagwoord.

Daar is deesdae baie diere wat as Simbra-tipes verkoop word, maar sonder dokumentêre bewys. Vir dié doel het die genootskap die identifikasiemerk, S+ as brand- en handelsmerk geregistreer. Die brandmerk word op die dier se linkerblad aangebring en is die koper se waarborg dat dit nie net 'n geregistreerde dier is nie, maar boonop beter is as sekere minimum standaarde wat gestel word. Dit verseker dus aanvaarbare strukturele korrektheid sowel as prestasie.

Die brandmerk is nie verpligtend nie, maar Simbratelers meen dit is 'n stap in die regte rigting.

Volgens navorsingsresultate aan die universiteit van Georgia in Amerika is die beste beginpunt om 'n Simmentalerbul by Brahmankoeie te gebruik. Dit behoort kruiskalwers te gee wat gemiddeld 31 kg by geboorte weeg. Wanneer 'n Brahmanbul by Simmentalerkoeie gebruik word, kan die kalwers by geboorte gemiddeld 38 kg weeg - dalk te na aan die gevaargrens van kalfprobleme.

Drie Simbrabulle wat op die oog af min verskil, maar hul teelwaardes bepaal hul genetiese potensiaal en hoe hulle gebruik moet word (die rasgemiddeld is in hakies). Die bul links het teelwaardes van +1,2 (1,1) vir geboortegewig, +20 (17) vir jaaroudgewig en +29 (22) vir volwasse gewig. Dit is dus 'n goeie bul om op verse te gebruik. Die middelste bul is vir gebruik op verse. Hy gee klein kalfies. Die bul regs se teelwaardes vir groei op verskillende ouderdomme is deurgaans bo die rasgemiddeld - hy is dus 'n groeibul net vir gebruik op koeie.

Twee rasse vul mekaar aan

Mnr. Llewellyn Angus boer met Simmentalers en Simbras op 'n plaas in die Oos-Vrystaat - op die oorgang tussen intensiewe en ekstensiewe boerderygebiede en waar aangeplante weidings 'n belangrike rol in die voervloeiprogram speel. In só 'n situasie kom die aanvullende eienskappe van die twee rasse tot hul reg - veral ten opsigte van produksie.

'n Mens kan eintlik tereg praat van 'n verspreiding van die risiko's binne sy vleisbeesboerdery. Hy sê dat as die Simmentaler voldoende kos kry, daar kwalik 'n ander ras is wat dit kan klop met melk- en vleisproduksie. In moeiliker jare is dit weer die geharder Simbra se beurt om te wys waartoe hy in staat is. Tussen die twee rasse verskil die speengewig nie dramaties nie, maar dit is interessant dat die gemiddelde speengewig van die tien belangrikste vleisbeesrasse (die dubbeldoel-Simmentaler uitgesluit), soos gepubliseer in die Landbounavorsingsraad se publikasie, Beef Breeding in South Africa. Op die lys van die gemiddelde speengewig van prestasiegetoetste diere vanaf 1993 tot 1998 is die Simbra bo-aan met 232 kg, gevolg deur die Santa Gertrudis met 225 kg en die Beefmaster met altesame 224 kg.

In sy eie beesboerdery bly die belangrikste klem op reproduksie - dit is vyf keer belangriker as groei en tien keer belangriker as karkaseienskappe. Daarom moet sy koeie elke jaar 'n kalf produseer, selfs in moeilike toestande, sê mnr. Angus. Hy gebruik twee teelseisoene: Een in die herfs en een in die lente - elke keer met 'n dekseisoen van vier maande. Laasgenoemde gaan tot drie maande verkort word.

Dit is verkieslik dat sy verse op 2 1/2 jaar kalf. Dié wat nie betyds dragtig is nie, kry die volgende dekseisoen 'n tweede kans en behoort dus nie later nie as op drie jaar te kalf. Dit is sulke verse se laaste kans voordat hulle uitgeskot word.

Die nuutste aanpassing in dié boerdery is om na een kalfseisoen laat in die winter of in die lente oor te skakel. Wanneer sulke kalwers ses tot agt weke oud is en sterk begin suip, val dit gewoonlik saam met die eerste lentereën. Die groen somerweiding laat die kalwers beter groei sodat hulle teen speentyd in April gemiddeld 25 kg swaarder weeg as dié van die somerkalf-seisoen. Die groen veld help ook om die koeie gouer herbeset te laat raak. Dit is boerdery saam met die natuur.

Daar sal altyd vleisbeesboere wees wat met Simbras wil begin. Die kortpad is om gewaarborgde rasegte diere te koop of die moeiliker, maar opwindende leer-skoolpad van opteling vanuit die moederrasse te volg.

Teelwaardes se rol erken

Die Simbra is die ras wat ook nuwe betekenis aan skouprestasies gegee het. Dit was die eerste ras wat drie jaar gelede met 'n skouklas vir teelwaardes begin het.

Aspekte wat op skoue meer aandag gaan geniet, is teelwaardes vir eienskappe van ekonomiese belang, soos geboortegewig, speengewig en raamgrootte met afsnypunte by byvoorbeeld die swakste 5 % van die ras, soos in die geval van te swaar kalwers by geboorte en gewig op 600 dae. Sulke diere se onderhoudbehoeftes is te groot en hulle verdien dus nie 'n plek in die skouring nie. Reproduksie, soos vervat in die ras se "Simbradex", bly egter die belangrikste maatstaf.

Die tempo waarteen vleisbeesboere met teelwaardes vertroud raak, neem wel toe, maar vir sommiges bly dit 'n raaisel. Prof. Gert Erasmus van die Vrystaatse Universiteit sê graag "die twee groot probleme van wetenskaplike teelwaardeberaming (BLUP) is dat dit te aardskuddend is om te glo en te omvattend om te verstaan". Nogtans is dit die belangrikste hulpmiddel vir vinnige teelvordering, hetsy in die regte of verkeerde rigting.

Daar is egter twee belangrike kerse wat 'n mens kan aansteek vir meer lig:

Vergelyk 'n dier se teelwaarde vir 'n bepaalde eienskap altyd met die gemiddelde teelwaarde van die ras vir daardie bepaalde eienskap.

Teelwaardes gebruik drie bronne van inligting, naamlik die dier se eie nageslag, sy stamboom en die dier self. Die figuur hierby verduidelik dat 'n dier se teelwaarde by geboorte net van sy stamboom (dus voorgeslagte en familiebande - tydgenote en vroeër - afkomstig is. Wanneer hyself byvoorbeeld 'n nageslag van 50 diere het, bepaal hul besonderhede sy eie teelwaardes en verdwyn die invloed van die geërfde besonderhede grootliks. Gegrond op die illustrasie beteken dit dan dat die dier se eie teelwaarde in daardie stadium 95 % akkuraat is. Die krag van seleksie aan die hand van teelwaardes word dalk die beste weerspieël in die verandering van die genetiese neiging by die Amerikaanse Angus-ras. Vanaf 1975 tot 1984 het die gewig van volwasse koeie en kalwers op die ouderdom van 400 dae albei sowat 10 kg toegeneem. Die koeie het egter te groot geword. Dit is reggestel deur bulle te gebruik met 'n laer teelwaarde as die rasgemiddelde vir volwasse koeigewig, maar met steeds 'n hoër teelwaarde as die rasgemiddeld vir speen en groei. Dit het tot gevolg gehad dat die gewig op 400 dae vanaf 1985 tot 1991 met nog sowat 10 kg toegeneem het, terwyl die koeie met sowat 10 kg ligter (dus kleiner en meer ekonomies) geword het. Daar is reeds begin om die Simbra se teelwaardes met dié van die twee moederrasse in Suider-Afrika te koppel. Synde 'n afdeling van die Wêreld-Simmentalerfederasie is internasionale koppeling die uiteindelike doel, aldus mnr. Angus. 19 September 2003