Dit is vanjaar 100 jaar sedert pres. M.T. Steyn, in lewe die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, die eerste Simmentalers uit Switserland ingevoer het. Terselfdertyd kan dié tydperk ook gesien word as die goue eeu van die ras wêreldwyd. Pioniertelers in Suider-Afrika het 'n leeue-aandeel hieraan gehad.

Die Suider-Afrikaanse Sim-familie (Simmentalers en Simbras) betree dié ras se eeufeesjaar met 472 stoeterye en gesamentlik 61 000 diere - 38 000 Simmentalers en 23 000 Simbras. Naas die Holstein het die Simmentaler tans die grootste wêreldfederasie. Die telers in 28 lidlande besit gesamentlik 15,3 miljoen aangetekende Simmentalers.

Die honderd jaar strek oor vier geslagte - genoeg tyd om die eerste spore toe te waai. Daarom dat 'n vars bewuswording van die voetpaaie van die verlede dikwels groeikrag vir die toekoms inhou. Hier volg enkele van die mylpale in die verlede wat dalk nuwe geesdrif vir die Simmentaler van môre kan opwek.

Gedurende die winter van 1902/03 het pres. M.T. Steyn, destydse president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, Switserland weens gesondheidsredes besoek. Die melkproduksie van die rooibont gevlekte beeste uit die Simme-vallei het hom só beïndruk dat hy besluit het dis die ras om die melkproduksie van sy Afrikanerkoeie op sy plaas, Onze Rust, suid van Bloemfontein 'n hupstoot te gee.

In 1905 het hy 'n bul en 'n dragtige vers ingevoer - onderskeidelik Toni en Miss met SWISS as rasidentifikasie in die vroeë volumes van SA Stamboek. Miss se verskalf, Oranje, is as die eerste Simmentaler aangeteken wat in Suid-Afrika gebore is.

Die Steyn-diere was weliswaar nie die eerste Simmentalers in Suider-Afrika nie. Dié was al in 1893 deur die Duitse Imperiale Regering na hul kolonie Duitswes-Afrika (nou Namibië) gestuur. Geskrifte uit dié tyd dui daarop dat die Simmentaler 'n goeie invloed op die vleis-, maar veral die melkproduksie van die plaaslike beeskudde gehad het. Maar hulle is ook as ry- en trekdiere gebruik. Slagdiere is in groot troppe bymekaar gemaak vir trek op die hoef deur die Kalahari na die huidige Vryburg, die naaste mark. Die diere moes dus 'n sterk konstitusie en 'n besonder goeie loopvermoë gehad het om aan dié eise te voldoen.

Teen 1948 was daar Simmentalerboere in Suidwes met letterlik duisende diere wat van die veld af gemelk is. Hierdie sogenaamde "dairy-ranching" het talle beesboere deur die depressiejare gedra. Die Simmentaler met sy goeie melkeienskappe het nie net goed by die nuwe stelsel ingepas nie - hy het in die eerste plek die stelsel moontlik gemaak.

In Suid-Afrika het die Simmentaler bra stadig uit die blokke gekom. Die laaste geregistreerde SWISS-dier uit die Steyn-kudde is in 1913 gebore. Die volgende inskrywing in die SA Stamboek verskyn egter eers 23 jaar later onder die rasidentifikasie "Swiss Simmental". Dit was 'n bul, Rigoletto nr. 1, in 1936 deur L.B. Odendaal van Poortje, Vrede, uit Switserland ingevoer. Hy het ook twee koeie ingevoer. Nog enkele diere is in 1937, 1948 en 1950 uit Switserland na die Oos-Vrystaat ingevoer. Volgens SA Stamboek is minder as 100 Simmentalers tussen 1905 en 1950 vir registrasie aangemeld.

In Europa word die dubbeldoel-eienskappe van Simmentalers ten volle benut en alle koeie word gemelk. Nagenoeg 850 000 melkgetoetste dubbeldoel-Simmentalers in Duitsland en Oostenryk produseer gemiddeld 6 500 kg melk met 'n gemiddelde ontleding van 4,2 % vet en 3,5 % eiwit in 305 dae.

Die getoetste seuns van hierdie melkkoeie weeg gemiddeld 637 kg op die ouderdom van 15 maande. Hulle het 'n gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) van 1,23 kg vanaf geboorte. Dit is beter as die gemiddelde GDT van 1,15 kg vir alle getoetste Suid Afrikaanse spesialisvleisrasse (intensiewe fase C-toetse).

Buite die Europese vasteland word die Simmentaler veral vir vleisproduksie gebruik en is sy gewildheid hoofsaaklik aan sy geskiktheid vir kruisteling te danke.

Die belangrikste oorkoepelende beginsel in die ontwikkeling van die ras in Suider-Afrika was egter die hoeksteenbesluit van die begin af, naamlik dat geen dier vir registrasie aangemeld mag word voordat hy deur 'n amptelike keurder van die ras aanvaar is nie. Hiermee het die eerste telers al die parameters vir toekomstige rasontwikkeling vasgelê - 'n gebruik wat eers heelwat later deur ander rasse oorgeneem is.

Die Simmentaler het egter sy Rubicon, nie net in Suider-Afrika nie, maar wêreldwyd, oorgesteek met die interrasproef wat in 1951 deur die Suidwes-administrasie by die Omatjenne-navorsingstasie begin is. Die resultate van dié proef was onteenseglik een van die belangrikste redes vir die ras se voorspoedgolf in die laat 1960's - 'n ontploffing van getalle in Suider-Afrika, Amerika, die Suid-Amerikaanse lande en Australië.

Dié proef met tien rasse het oor tien jaar gestrek met die kollig op vrugbaarheid, aanpasbaarheid, groei van die nageslag tot op drie jaar en vatbaarheid vir siektes - dus mortaliteit, produksie, ekonomiese waarde en karkasmate. Die Simmentaler het as dubbeldoelras na vore gekom met resultate wat gerugsteun is deur dié van Suid-Afrikaanse pioniertelers ten opsigte van goeie groei wat bulle by groeitoetssentrums behaal het.

Veral drie ander gebeure het die krane vir die Simmentaler in Suider-Afrika oopgedraai, naamlik 'n vroeë aanpassing in die genebron van ingevoerde diere, die Johannesburgse Paasskou van 1961 en die totstandkoming van 'n geordende telersgenootskap.

  • Ná 1950 het plaaslike telers net diere uit Duitsland, Oostenryk en Suidwes (Namibië) ingevoer. Dit kan as 'n aanpassing in die genebron van die plaaslike ras gesien word - 'n klemverskuiwing ten gunste van vleis. Dit word aanvaar dat daar tans geen Switserse bloed in die Suider-Afrikaanse Simmentaler-kudde is nie.

  • Die Omatjenne-resultate is opgevolg met 'n gesamentlike praguitstalling van Simmentalers deur Suidwesters en enkele Suid-Afrikaanse telers by die Johannesburgse Paasskou in 1961. Hierdie diere saam met Van der Merwe van Bethlehem se ingevoerde bul, Hamburg, het vars en ongekende belangstelling in die ras laat opflikker.

  • Altesame 17 Namibiese telers het die eerste Simmentaler-telersvereniging van Suider-Afrika op 13 September 1950 in Windhoek gestig, met mnr. H.K. Gerhard Voigts as eerste voorsitter. Reeds op dié vergadering is in die vooruitsig gestel om ook telers van Suid-Afrika in te sluit, met SA Stamboek te affilieer en 'n regspersoonlikheid te verkry.

    Laasgenoemde twee stappe word sewe jaar later by die jaarvergadering van 1957 op Otji-warongo geloods - 'n hortende proses wat uiteindelik nóg sewe jaar sou duur voordat dit op 28 Februarie 1964 'n werklikheid geword het met Voigts as eerste voorsitter van die huidige Simmentaler-beestelersgenootskap van Suider-Afrika.

    Tydens 'n besoek aan Duitsland om beeste te koop, oorreed wyle mnr. Willie Angus, vierde voorsitter van die genootskap, mnr. Peter Massmann, toentertyd skakelbeampte vir die Duitse Fleckvieh, om die pos as eerste rasdirekteur van die genootskap te aanvaar.

    In 1974 verteenwoordig Massmann die genootskap by die stigtingsvergadering van die Wêreldfederasie van Simmentaler-telersgenootskappe in Zagreb, Joegoslawië (nou Kroasië). Suid-Afrika word een van die 19 stigterslede. By dieselfde geleentheid doen Mass-mann aansoek dat die federasie se eerste tweejaarlikse wêreldkongres saamval met die Pretoria-skou in 1976. Dit word aanvaar en 180 oorsese besoekers uit 17 lande trek in Pretoria saam en beleef ook die wêreld se grootste Simmentaler-skou tot op hede. Suid-Afrika is die enigste land wat dié kongres al drie keer aangebied het.

    In 1976 word op 'n eie onafhanklike kantoor in Bloemfontein besluit om alle administratiewe werk, rasbevordering en verbeteringsprogramme te hanteer. En daarmee betree die genootskap 'n unieke diensfase wat jare lank al die status van rolmodel in die bedryf het.

    Die resultaat van hierdie verbintenis tot diensgerigtheid word, volgens Massmann, weerspieël in die ras se prestasies vergeleke met die elf belangrikste prestasiegetoetste vleisrasse in Suid-Afrika. Die Simmentaler is eerste ten opsigte van die volgende:

  • Voortplantingsindeks (tussenkalfperiode en ouderdom by eerste kalf).

  • Speengewig.

  • Jaaroudgewig van verse op die plaas.

  • Voerkraalgroei (intensiewe bulgroeitoetse).

    In die nasionale karkaskompetisie waar karkasse van alle rasse en raskombinasies jaarliks op 'n groot aantal skoue beoordeel word, was Simmentalers en Simmentaler-kruisings die Suid-Afrikaanse kampioene vir 11 uit 19 jaar. Voorts is 40 % van al die geregistreerde diere van die 16 Britse- en Europese vleisrasse in Suider-Afrika Simmentalers.

    "Die hoofrede vir die volgehoue gewildheid van die Simmentaler in Suider-Afrika berus op die groot sukses wat met dié ras in kruisteelprogramme behaal word met die teel van koeie met baie melk asook groeikragtige speenkalwers en osse," aldus Massmann.

    19 Augustus 2005