PROMOSIE

Beeste en skape benodig net beperkte hoeveelhede sink, mangaan, koper, selenium, jodium en kobalt, maar as hulle dit nie inkry nie, is die gevolge 'n dramatiese afname in kondisie, voortplantingvermoë en groei.

Verskillende spoorelemente is belangrik vir verskillende fisiologiese prosesse, soos vitamiensintese, hormoonproduksie, ensiemaktiwiteit en energieproduksie. Hierdie tyd van die jaar behoort sinkaanvullings egter bo-aan jou lysie te wees, siende dat kalfseisoen asook die lente- en somerdekseisoen net om die draai is.

Sink is 'n integrale komponent van talle ensieme en beïnvloed selvermeerdering, wat uiters belangrik is vir diere se groei, maar sy grootste rol is in reproduksie. In manlike diere is sink noodsaaklik vir die gesondheid, ontwikkeling en kwaliteit van sperm en dra dit dus by tot bevrugting.

Die element se antioksidanteienskappe in die seminale plasma ondersteun die normale fisiologiese aktiwiteit van spermselle. Daarbenewens dien sink as 'n buffer vir giftige en swaar metale wat die dier mag inneem, hou dit hormone in balans en tree dit op as 'n natuurlike antibakteriële middel in manlike diere se urienstelsels.

'n Sinktekort verminder spermatogenese (die ontwikkeling van sperm), wat aanleiding gee tot spermafwykings en 'n negatiewe impak op serum-testosteroonkonsentrasie het. Die rol wat sink in epiteel-integriteit speel maak dit onontbeerlik vir die handhawing van die voering van die voortplantingsorgane.

In vroulike diere is laasgenoemde van kritiese belang. Dit verseker eerstens dat embrio-inplanting optimaal plaasvind, en ondersteun tweedens die baarmoeder se terugkeer na normaal nadat die kalf of lam gebore is. In die derde plek moedig sink weefselherstel aan, asook die terugkeer na oestrus.

Navorsing het getoon dat oestrus in koeie met optimale sinkvlakke binne slegs agt dae 'n aanvang neem.

Afrivet se Bovimin- en Ovimin-sinkaanvullings is maklik om toe te dien en gee jou kudde die perfekte dosis om vrugbaarheid, immuniteit en groei te ondersteun. Bovimin en Ovimin is beskikbaar by jou plaaslike koöperasie.