Dít is een van die verrassende gevolgtrekkings wat prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), gemaak het nadat hy die pas vrygestelde provinsiale landbousensus bestudeer het. 

Sedert 2013, toe die vorige landbousensus gedoen is, was daar ’n groot verskuiwing van bees- na skaapvoerkrale in die Wes-Kaap. Die getal beesvoerkrale het met 43% gedaal. Die grootste afnames het aan die Weskus en in Kaapse Wynland voorgekom. Terselfdertyd het die aantal skaapvoerkrale met 86% toegeneem, veral in die omgewing van Eden en van die sentrale Karoo. 

Wes-Kaap meer geskik vir skaapproduksie

Meyer meen die prys van speenkalwers het weens die droogte onbekostigbaar geraak. Boonop is die grootste beeskuddes in die Vrystaat en in die noorde van Suid-Afrika geleë, wat beteken Wes-Kaapse beesvoerkrale se aankoopbasis is ver. Boonop het die mielieprys ook die hoogte ingeskiet. Dit het alles daartoe bygedra dat dit onekonomies is om beesvoerkrale in die Wes-Kaap te bedryf. 

Die prentjie lyk egter aansienlik beter vir skaapvoerkrale.

“Die aankoopbasis is baie nader – in die Karoo en die droër dele van Suid-Afrika. Die Vrystaat en die noorde is ook nie meer so geskik vir skaap- en lamproduksie as die Wes-Kaap nie.”

Meyer reken ’n strukturele verandering het plaasgevind wat nie sommer sal verander nie, tensy speenkalfpryse dramaties daal. 

“Ons sien waarskynlik ’n verskuiwing wat ’n mededingende voordeel vir die Wes-Kaap bied.” 

Tussen 2013 en verlede jaar se landbousensus was daar boonop ’n 12%-toename in die aantal hoenderhokke in die Wes-Kaap. Volgens Meyer was dit in 2015 redelik winsgewend om met hoenders te boer omdat die mielieprys laag was. Dit het toe vir produsente sin gemaak om in hoenderhokke te belê. 

Die grootste uitbreidings was waarskynlik in 2014 en 2015, kort voor die droogte aan die landbou se deur kom klop het.

“Ons kan ’n betekenisvolle toename in hoenderproduksie in die provinsie sien, veral as ons voerpryse goed bly, aangesien ons meer hoenderhokke het waarin hoenders geteel kan word.” 

Waardevolle data

Vir die landbousensus, wat sowat R8 miljoen gekos het om te laat doen, moes SiQ, die maatskappy wat dit behartig het, landerye op datum bring en karteer, en ook aantekeninge byhou van die ligging van winter- en somergewasse. Daarbenewens is veeproduksie en akwakultuuraktiwiteite (asook die infrastruktuur vir albei tipes boerderye) gekarteer. SiQ het ook die landelike gemeenskappe, die regerings- en ontspanningsgeriewe wat plaasbewoners ondersteun en geriewe vir landboutoerisme op kaarte aangedui. 

SiQ se navorsers het met vliegtuie en helikopters oor die gebiede gevlieg en boek gehou van wat op die grond was. Die sensus moes twee keer – in die winter en in die somer – gedoen word. Daarna is opnames met voertuie gedoen, wat uiteindelik met telefoniese onderhoude opgevolg is. 

Volgens dr. Mike Wallace, ’n spesialiswetenskaplike by die Wes-Kaapse departement van landbou, verskaf die gedetailleerde inligting ’n ruimtelike (spatial) voetspoor oor die aktiwiteite en hulpbronne in die landbou. 

“Dis baie belangrik in ’n ontwikkelende land waar daar strawwe mededinging om grond is tussen boere, ontwikkelaars, bewaringskundiges en vir alternatiewe energie- en grondhervormingsdoeleindes. Die sensus sal nie net besluitneming help vergemaklik nie, maar as ons dit met verloop van tyd monitor, kan ons ook ongeëwenaarde data kry oor die trajekte van verandering.”

Landbouweekblad berig binnekort volledig oor die sensus.