De Kock, wat ook ’n veearts is, het verlede week ’n werksessie oor slenkdalkoors in Pretoria bygewoon.

Hy sê volgens navorsing wat wetenskaplikes van Eco Health Alliance, ’n internasionale organisasie vir omgewingsgesondheid, in die Vrystaat uitgevoer het, is die Smithburn-entstof wat deur Onderstepoort vervaardig word, doeltreffend, mits die regte prosedures gevolg word. Navorsing het getoon dat die entstof ondoeltreffend is wanneer die koueketting van die entstof verbreek is of as die entstof te lank nadat dit aangemaak is, gebruik word. Hy sê boere moet daarom let op die hantering van die entstof en dat hulle korrek moet inent.

“Boere kan nie vroegoggend by die huis ses bottels entstof aanmaak, kraal toe neem en dan van die entstof eers teen die namiddag gebruik nie.”

Hy sê dit is ook noodsaaklik dat die entstof te alle tye, met die vervoer van Onderstepoort, in die winkel, tydens vervoer na die plaas en wanneer dit opgeberg word, by yskastemperatuur van tussen 4 °C en 10 °C gehou moet word. Hy sê die entstof moet ook net voor gebruik aangemaak word, aangesien die entstof binne 24 uur afbreek. 

‘Ent nou in’

De Kock rig weer ’n ernstige versoek tot boere in die Vrystaat, die Noord-Kaap en die noorde van die Oos-Kaap om nou hul kleinvee teen die siekte in te ent nadat ’n geval vroeër vanjaar naby Jacobsdal in die Vrystaat aangemeld is. “As dit ’n nat somer is, sal die siekte vir seker in dié gebiede uitbreek.”

Hy sê volgens die navorsers is dié gebiede kwesbaar vir die uitbreking van die siekte, omdat die gebiede oor die regte grondtipes, plantegroei en panne beskik. Ná ’n uitbreking sal ander muskietspesies die siekte na ander gebiede versprei as die klimaat gunstig is.

Volg dié stappe

De Kock beveel aan dat alle niedragtige ooie nou ingeënt word. Ooie moet twee maal ingeënt word. Roetine-inenting moet ’n gevestigde praktyk word van ooibestuur in die kwesbare streke.

Terwyl die lammers vir hul eerste hantering ingebring word, moet die ooie hul eerste inenting met lewende entstof teen slenkdalkoors en dan weer twee maande later wanneer die lammers gespeen word. Ooilammers moet met speen die eerste inenting met lewende entstof kry, gevolg deur ’n opvolg-inenting drie maande later. Hy sê skape behoort daarna lewenslank beskerm wees teen die siekte. Dit is belangrik om lewende slenkdalkoorsentstof nie saam met bloutongentstof of ander lewende entstowwe toe te dien nie.

Hy sê volgens die prys wat hy by sy plaaslike koöperasie op Caledon betaal het, werk dit op ongeveer R6,50 per inenting of R13 per skaap uit. As ’n ooi sewe jaar oud word, is die koste per ooi dus minder as R2 per jaar.

“Teen huidige vleis- en wolpryse is dit ’n minimale belegging wat reusedividende sal lewer.”

De Kock beveel ook aan dat boere wat in die verlede hul ooie eenmalig teen slenkdalkoors ingeënt het, die ooie ‘n skraagdosis moet gee. Dit is egter belangrik om te onthou dat die lewende entstof verkieslik nie aan dragtige ooie gegee moet word nie. Ramme moet ook nie gouer as ses weke voor paring met die entstof ingeënt word nie.

Hy sê dit is onnodig om voor ’n uitbreking slegs een naald per inenting per skaap te gebruik, maar dat dit beslis geld as daar ’n uitbreking in die omgewing is.