Skaapboere in somerreëngebiede word egter aangeraai om nie-dragtige diere gedurende die winter in te ent om ’n toekomstige uitbreking te voorkom.

Dr. George de Kock, voorsitter van Cape Wools en die groep se slenkdalkoorswerkgroep, sê Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het bevestig dat hy voldoende voorraad van die entstof het. As boere betyds entstof koop, sal die OBP gereed wees as daar ’n tekort ontstaan.

’n Enkele geval van die siekte is verlede Mei by Jacobsdal in die Vrystaat aangemeld. Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, sê daar is voorsiening gemaak dat Suid-Afrika vanjaar ’n slenkdalkoorsseisoen sou beleef.

“Die gebiede rondom Jacobsdal was egter vir die grootste deel  van die reënseisoen droog en daarom kon die vektore daarvan, muskiete, nie uitbroei nie. Dit is dalk hoekom daar tot dusver nog nie uitbrekings aangeteken is nie.”

Hoewel dit aan die einde van die seisoen in die gebied gereën het, sê Vervoort die kans op ’n uitbreking raak by die dag skraler. Hoewel die eerste ryp al aangeteken is, sal dit ’n ruk duur voordat diere simptome van slenkdalkoors toon en gevalle kan nog aangeteken word. 

Tweeledig

Vervoort sê die voordele van inenting is tweeledig: Dit beskerm die boer ekonomies deurdat hy na sy kudde se gesondheid omsien, terwyl dit ook sy mense beskerm aangesien die siekte na mense oorgedra kan word.

Hy sê dit is belangrik dat boere nóú stappe moet doen om hul kudde te beskerm vir die volgende reënseisoen, aangesien inenting voorkomend is en die siekte nie behandel kan word nie. Boere moet inentings in oorleg met hul veeartse fyn beplan saam met diere se paarseisoen. Al is boere se kuddes reeds tydens ’n vorige seisoen ingeënt, moet boere steeds met hul veeartse saamwerk om inenting vir die seisoen te beplan.

Hy sê dat die vatbaarheid vir die siekte in die nasionale kudde nou hoër is, omdat daar lanklaas ’n groot uitbreking was en minder boere onlangs ingeëent het. 

Aanbevelings

De Kock sê daar moet gewag word dat dragtige diere klaar gelam of gekalf het voordat hulle ingeënt word.

Hy sê die koste per dier vir twee inentings beloop R13, maar aangesien die program lewenslange immuniteit verskaf, werk dit op ongeveer R2 per produktiewe ooilam uit.

Boere kan die volgende riglyne volg by inenting:

  • Die gebruik van lewende entstowwe kan nadelig wees vir dragtige diere en kan tot aborsies lei.
  • Die virus kan tydens ’n uitbreking deur spuitnaalde oorgedra word en boere moet een naald per dier gebruik.
  • Die siekte kan in sommige gevalle slegs ’n verbygaande, onopsigtelike reaksie by volwasse skape veroorsaak, maar tot grootskaalse vrektes onder jong diere lei.
  • Die winter is die geskikste tyd om voorkomend teen die siekte in te ent. 

Volgende seisoen

Met die onlangse wydverspreide reën, met panne water wat steeds staan en die grondwatertafel wat nou hoër is, bestaan die kans dat die vektore in die komende reënseisoen in die droë gebiede kan uitbroei en die siekte sal versprei.

Vervoort sê ’n uitbreking in 2020 in die skaapbedryf kan beteken dat woluitvoer na onder meer China vir ’n tweede agtereenvolgende jaar verbied kan word.

Hy sê hoewel beeste nie so vatbaar is vir die siekte soos skape nie, raai hy beesboere aan om hul beeste in te ent aangesien entstof baie goedkoop is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.