Die departement herinner boere daaraan dat kliniese toetse nie genoeg is om ’n diagnose te bevestig nie. Die kliniese simptome en geskiedenis moet ook in ag geneem word. In hierdie geval het ’n ondersoek van die plaas slenkdalkoors uitgeskakel en getoon dat die skape waarskynlik weens ’n ander rede gevrek het.

Hoewel dit beteken dat daar dus nie tans ’n uitbreking van slenkdalkoors in die land is nie, sal die departement aanhou om situasie te monitor. Veeboere word ook versoek om op die uitkyk vir moontlike gevalle van slenkdalkoors te wees en sulke gevalle by die naaste staatsveearts aan te meld sodat dit ondersoek kan word.

Die departement moedig boere ook aan om hul vee teen slenkdalkoors in te ent omdat uitbrekings van slenkdalkoors tot grootskaalse vrektes en aansienlike finansiële verliese kan lei.