Broeiparasitisme het die mens van vroeg af geboei. Shakespeare en Chaucer het al die gedrag van koekoeke besing (en verguis) en Opperman dig byvoorbeeld oor die piet-my-vrou.

Heuningwysers is meestal onopsigtelik en geheimsinnig, juis omdat hulle broeiparasiete is. Hulle is dof van kleur, hoewel hul wit buitenste stertvere gewoonlik sigbaar is tydens hul tipiese golwende vlug. Hierdie voëls word meer gereeld gehoor as gesien en hul eentonige, vêrdraende roepe moet gewoonlik geken word om hulle op te spoor. Die meeste roep vanaf ’n vaste plek in die blaredak van bome.

Die heuningwysers vreet gereeld byewas, maar nie heuning nie. Hulle het ’n taaier vel, waarskynlik om hulle teen bysteek te beskerm. Verder het hulle spesifieke bakterieë in hul derms om te help om byewas te verteer, ’n verskynsel wat by baie min, indien enige, ander diere voorkom.

Die grootheuningwyser (en die gevlekte heuningwyser in ’n mindere mate) is alombekend vir hul vermoë om mense met hul geroep na byekorwe te lok. Dan word daar geduldig gewag dat die bye uitgerook word sodat die oorblywende heuningkoek gevreet kan word. Hierdie simbiotiese verhouding met die mens is egter besig om geleidelik te verdwyn weens die verstedeliking van die plattelandse bevolking.

Heuningwysers het ook ’n simbiotiese verhouding met ratels om by byewas uit te kom. Dié verhouding met mense en ratels kom egter in sommige streke van die land glad nie voor nie.

Heuningwysers gebruik ’n ander strategie as broeiparasiete om hul gasheerspesies te uitoorlê. Die wyfie lê die eier, meestal wit, in die gasheer se nes. Die kuikens het haakvormige snawels waarmee hulle instinktief die gasheerkuikens verskeur sodra hulle uitbroei. Die haakvormige snawel verdwyn ná sowat tien dae, wanneer al die ander kuikens doodgemaak of die eiers gebreek is.

Die gashere is meestal voëls wat in gate broei, soos houtkappers, spegte, hoep-hoepe, byevreters en spreeus.

Die meeste van hierdie voëls lê wit eiers, waarskynlik om dit beter te sien in ’n donker nesgat. Uit die aard van die saak verpes die gashere die parasiete – houtkappers sal soms die wyfie van die heuningwyser in die nes vaskeer en doodmaak.

Slim strateë

Die rooibekkies en paradysvinke is ’n ander groep broeiparasiete. Hulle het stewige, vinkagtige bekke omdat hulle hoofsaaklik saad vreet. Hulle is eiesoortig omdat hulle met albei pote saam agtertoe in grond krap om saad te soek. Dan spring hulle om agtertoe om die saad op te pik.

Hul strategie om gasheerspesies te uitoorlê, is in die meeste gevalle om die roep van die gasheer na te boots. Meer ongelooflik egter is dat die binnekant van die kuikens se bekke presies soos dié van die gasheerspesie se kuikens lyk. Die kuikens gebruik ook dieselfde gedrag as die gasheerkuikens om vir kos te smeek.

Die bekende, en vir baie mense, irriterende koningrooibekkie kies verskeie sysies, soos die rooibeksysie, die suidelike swie en die rooiassie as gashere. Die pylstertrooibekkie gebruik net koningblousysies en die gewone paradysvink weer net die gewone melba as gashere.

Ander broeiparasiete wat nie algemeen bekend is nie, sluit in blouvinkies en koekoekvinke. Die blouvinkies is naby verwant aan die rooibekkies en verbastering tussen hierdie twee families kom selfs soms voor. Blouvinkies parasiteer op vuurvinkies en die roep van die gashere word ook nageboots.

Die verhouding tussen die blouvinkies en vuurvinkies is baie spesifiek. Dit is byvoorbeeld interessant dat vuurvinkies nie in die Wes-Kaap voorkom nie en daarom ook nie blouvinkies nie.

Die koekoekvink is nader verwant aan die blouvinkies as aan vinke en die een deel van hul wetenskaplike naam beteken “afwykende vink”. Hulle parasiteer op tinktinkies en langstertjies. Die kuikens is groter as die gasheerkuikens en hulle versmoor gewoonlik die gasheerkuikens.

Alle broeiparasiete gebruik standvoëls wat algemeen en volop voorkom as gasheerspesies. Dit sal onsinnig wees om seldsame en bedreigde spesies te gebruik, want dit sal die broeiparasiete se voortbestaan kan benadeel, maar ook harde werk wees om die skaars spesies se neste te soek.

Nuwe wetenskaplike bevindings oor hierdie slim en “skelm” voëls word gereeld en deurlopend gepubliseer. Die wonders van die natuur sal altyd mense se belangstelling bly prikkel.

’n Geïllustreerde aanlyn praatjie oor die broeiparasiete wat in Suid-Afrika voorkom, kan by birding@overberg.co.za bestel word. Kontak Elaine by mwjasser@mweb.co.za of 082 455 8402 om meer inligting oor die aanlyn praatjies oor voëls en voëlidentifikasiekursusse te ontvang.

’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by e-pos membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou omgewing.