Melkboere van George en Knysna vind dat voervloei verbeter omdat somer- en herfsproduksie in weidings verhoog word, melkproduksie verbeter en onkruid in ’n mate onderdruk word as smalweëblaar by weidings ingesluit word.

Tweejarige of meerjarige smalweëblaar (Plantago lanceolata), ook bekend as lamstong, tongblaar of smalweëblaar, is deesdae algemeen in melkbeesweidings in die Suid-Kaap nadat kultivarevalueringsproewe op die Wes-Kaapse departement van landbou se Outeniqua-navorsingsplaas sy opbrengspotensiaal gewys het.

In die proewe het smalweëblaar 50 ton droëmateriaal (DM) per hektaar gelewer oor ’n tydperk van twee jaar, wat nie die vestigingstydperk van ses weke insluit nie. Dit het bestaan uit ’n opbrengs van 25,8 ton DM/ha in die eerste jaar, gevolg deur 24,2 ton in die tweede jaar. Die data het ook die volgehoue opbrengsvermoë van die spesie in die tweede jaar uitgewys.

Drie jaar gelede was daar nog heelwat vrae oor die insluiting van smalweëblaar in ’n bestaande weidingstelsel, veral wat die beste manier is om dit te vestig. In daardie stadium was inligting uit Nieu-Seeland ál wat beskikbaar was. Dit is toe gebruik as ’n riglyn vir saaidiepte, planttyd en moontlike mengsels.

Plaaslike melkboere het begin eksperimenteer met verskillende vestigingsmetodes en maniere van benutting. Die waardevolle kennis wat hulle só opgedoen het, het hulle in September op die jaarlikse Outeniqua-inligtingsdag aan medeboere oorvertel.

Mnre. George Kuyler, Gert Byleveld en Philip Muller gebruik smalweëblaar op verskillende maniere. Kuyler gebruik ’n mengsel van meerjarige raaigras en smalweëblaar, asook suiwer smalweëblaar. Byleveld plant suiwer smalweëblaar, wat mettertyd ingeneem word deur ander spesies totdat ’n mengsel vorm.

Muller vestig komplekse mengsels met smalweëblaar as een van die komponente. Kuyler, wat naby George boer, het met ’n suiwer stand smalweëblaar begin, waarvan hy 30 ha in November geplant het teen ’n saaidigtheid van 8 kg/ha. Aanvanklik was onkruid ’n probleem, maar nadat die weiding gewei en gesny is, het hy opbrengste van 18-20 ton DM/ha vir die jaar met ’n diskmeter gemeet.

Die mengsel van meerjarige raaigras en smalweëblaar is in die herfs op 120 ha onder besproeiing gevestig. Raaigras het in die mengsel begin oorheers en die gemete opbrengs was 16 ton DM/ha vir die jaar. Volgens Kuyler gee smalweëblaar goeie somer- en herfsgroei, dog vereis dit optimale toediening van water en kunsmis om hoogs produktief te wees. ’n Weidingsiklus wat nie te kort is nie, is belangrik vir goeie produktiwiteit.

Kuyler het ook waargeneem dat daar ’n neiging is vir melkvastestowwe om effens af te neem, terwyl koeie suiwer smalweëblaar bewei. Vir hom bly meerjarige raaigras die belangrikste bestanddeel van sy melkbeesweidings, met smalweëblaar as sekondêre bestanddeel om produksie in die somer en herfs te verhoog.

Mnr. George Kuyler

ONDERDRUK ONKRUID

Byleveld boer naby Knysna en het sy weidings radikaal verander na smalweëblaar, wat in die begin as ’n suiwer stand geplant was. Met sy eerste poging om smalweëblaar in sy weidings in te sluit, het hy die bestaande kikoejoe-en-raaigrasweidings met glifosaat uitgespuit op 25 ha, daarna tradisionele bewerking gedoen en toe smalweëblaar teen 9 kg saad per hektaar met ’n Duncanplanter gevestig.

Hy meen hierdie metode het daartoe gelei dat hy te veel tyd verloor het voordat die nuwe weiding gevestig en produktief was en die stand van die smalweëblaar was ook nie na wens nie. Op die volgende 25 ha het hy smalweëblaar gevestig teen 8 kg/ha sonder om die bestaande weidings dood te spuit, maar dit het ook nie gelei tot goeie vestiging nie.

Byleveld se voorkeurmetode, wat hy daarna gevolg het op die volgende 66 ha, was ’n suiwer stand, gevestig teen 12 kg/ha, nadat hy die bestaande weiding net ná beweiding met ’n kapploeg (rotavator) bewerk het, en onmiddellik daarna geplant het. Op hierdie manier het hy ’n goeie stand gekry sonder om tyd te verloor en het hy ook gesien dat die smalweëblaar die onkruid redelik goed onderdruk het.

Hierdie metode stel hom ook in staat om smalweëblaar enige tyd van die jaar te plant, wat die druk om alles in die herfs gevestig te kry, baie verlig. Sodoende het sy voervloei verbeter en het hy ook beter buigsaamheid in sy weidingstelsels.

Mnr. Gert Byleveld

Vir Byleveld lê die sleutel tot sy sukses in die vestigingsfase. Hy meen die drastiese ingryping van die kapploeg reg in die begin is geregverdig, aangesien die kikoejoeweidings gelei het tot ’n opbou van koolstof in die grond. Die kapploeg word slegs gebruik wanneer daar oorgeskakel word na die smalweëblaar-gebaseerde weidings, wat nie gereeld gebeur nie. Uiteindelik word dié weiding mettertyd ’n mengsel van smalweëblaar, klawer en raaigras.

Die belangrikste vir Byleveld is dat die nuwe weiding gereed was vir benutting reeds ses weke ná planttyd, wat ses weke ná beweiding van die vorige kikoejoe/raaigrasweiding was. Byleveld gebruik ’n baie kort weidingsiklus (rondom 18 dae) met die insluiting van smalweëblaar, maar sê dit is belangrik dat die weiding ’n hoogte van 30-35 cm moet bereik voor dit bewei kan word. Nóg ’n belangrike aspek is om die kragvoer aan te pas by hierdie hoogs verteerbare weiding. Byleveld gebruik ’n hoëveselkragvoer met sojadoppe wat slegs 35% mielies bevat. Dié kombinasie het tot hoër melkopbrengste gelei.

Byleveld meen dat die insluiting van smalweëblaar ’n gunstige impak op sy boerdery gehad het met ’n meer uniforme voervloei regdeur die jaar. Sy plaas bestaan nou uit ’n mosaïek van smalweëblaar-gebaseerde weidings met ’n reeks botaniese samestellings wat mettertyd ontwikkel.

Mnr. Philip Muller saam met Rosie en Tom, twee van sy drie kinders.

KOMPLEKSE MENGSELS

Muller boer ook naby George en het besluit om ’n gemengde weiding aan te plant, met smalweëblaar as een van die komponente, met sy oorskakeling vanaf kikoejoe-en-raaigrasweiding. Die meeste van die weiding op sy plaas is lusern, maar in kampe waar hy nie suiwer lusern kan plant nie, of nie lusern kan aanplant nie omdat dit nie produktief is nie, of waar hy voorheen kikoejoe-en-raaigrasmengsels gehad het, skakel hy nou oor na komplekse mengsels.

Muller se doelwitte is hoër opbrengs, beter voervloei en groter veerkragtigheid op sy plaas, waar die beskikbaarheid van water ’n probleem kan wees. Sy metode van vestiging is om die kikoejoe-en-raaigrasmengsel uit te haal nadat dit kort afgewei is deur dit te spuit sodra die hergroei uitkom. Hy het 28 dae ná die bespuiting gewag en daarna die mengsel met ’n geenbewerkingsplanter geplant.

Hy plant twee verskillende mengsels. Die een is 20 kg langswenkgras, 2 kg smalweëblaar, 6 kg lusern en 3 kg rooiklawer per hektaar. Die tweede mengsel bevat nie gras nie en bevat 10 kg lusern, 2 kg smalweëblaar en 3 kg rooiklawer per hektaar. Hy kon die eerste beweiding reeds 56 dae ná planttyd doen en is bereid om ’n bietjie te wag met die oorskakeling na die nuwe mengsels – solank hy sy geenbewerkingsregime in stand kan hou. Ná ’n jaar word die tweede mengsel versterk deur Westerwolds-raaigras in die herfs in te plant.

Vir Muller is die belangrikste bevinding dat hierdie mengsel hoër melkproduksie gelewer het as suiwer lusernweiding. Hy maak egter seker dat sy kragvoer gebaseer is op ’n hoë veselinhoud. Hy beplant ook ’n deel van die plaas met ’n mengsel van lusern en smalweëblaar en het gevind dat die smalweëblaar se saaidigtheid hoër as 2 kg/ha moet wees om ’n meer gebalanseerde mengsel te vestig.

Al drie hierdie boere is dit eens dat smalweëblaar ’n groot bydrae lewer tot die voervloei én die melkproduksie op hul plase. 

Me. Sigrun Ammann is ’n weidingsnavorser op die Wes-Kaapse departement van landbou se Outeniqua-navorsingsplaas, George.

Navrae: Me. Sigrun Ammann, e-pos: sigrunA@elsenburg.com