Dié eienskappe van kampioen-veldboere vorm deel van die voorlopige resultate van opnames wat wetenskaplikes van die landbounavorsingsraad (LNR) en departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling reg oor die land doen.

Mnr. Clement Cupido, weidingsekoloog by die LNR in Kaapstad, het op Landbouweekblad en GWK se onlangse droogtehersteldag op Prieska gesê kampioen-veldboere het in baie gevalle hul welslae te danke aan die voortsetting van bewarings- en bestuurspraktyke van die vorige generasie.

“Hulle kan ook die veld ‘lees’ deur na sekere indikatorplante te kyk en hou ’n fyn ogie oor hul vee se toestand en gedrag.”

Cupido sê hul opnames by en besoeke aan groot en klein, kommersi?le en kommunale boere in die Sukkulente Karoo, Nama-Karoo en Ruigteveld toon dat kampioen-veldboere opgelei is en veldkursusse bygewoon het. “Hulle gebruik dikwels ou tegnologie, soos herders, en inheemse kennis, maar ook nuwe tegnologie, soos hommeltuie, selfoontoepassings en globale inligtingstelsels om veldtoestande te bepaal.”

Die opnames vorm deel van ’n projek waarin wetenskaplikes van die LNR en die department van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling hoop om riglyne vir veldbestuur te ontwikkel met die hulp van wetenskaplike veldassessering en praktiese bestuurswenke van kampioen-veldboere in vyf van Suid-Afrika se nege biome.

Cupido sê hulle het verder gevind die boere is aktief betrokke by alle aspekte van hul boerderye en beplan vir droogte.

Die groot bekommernisse wat hulle by kampioen-veldboere waargeneem het, is die kwessie van prosopis-indringing in die Sukkulente en Nama-Karoo en indringing van bosse soos swarthaak en driedoring in die Nama-Karoo. Eweneens is klimaatsverandering en die gebrek aan landbouvoorligting knelpunte.