Mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools, sê dié standaard moet in pas wees met bestaande, internasionaal gesertifiseerde standaarde. Dit moet uitvoerbaar wees vir boere, gebruikersvriendelik en op ’n geïntegreerde platform. Dit sal in ’n elektroniese formaat wees.

Volgens Saayman moet die bedryf hierdeur kan wys presies wat Suid-Afrika aan die internasionale mark lewer. “Die riglyne moet deur die bedryf vasgestel en reg deur uitgevoer word. Dit vereis goed opgeleide en bevoegde raadgewers om dit te versprei.”

Volgens Saayman was Suid- Afrika die res van die wêreld ligjare voor met die inwerkingstelling van die kode vir beste praktyke, maar die bedryf moet hom nou in pas bring met internasionale praktyke en wat die mark wil hê. Hy sê die bedryf se strewe na volhoubaarheid vereis ook dat hy by ’n geïntegreerde, volhoubare platform inskakel, “sodat ons dit as geheel kan aandryf en as bedryf kan sê ons het ’n afsonderlike produk op die internasionale mark geskep, en dít is waarom Suid-Afrikaanse wol gekoop moet word.”

VOORDELE

Saayman sê ’n volhoubare, Suid-Afrikaanse handelsmerk vir vesel sal risiko’s vir produsente en die plaaslike bedryf verminder, en ook vertroue by handelsmerke en verbruikers skep. “Suid-Afrika het ’n mededingende voordeel. Ons het iets om te bied wat ons kan onderskei van alle ander internasionale produsente. Daar is reeds maatskappye wat hierdie geleentheid gesien het en gebruik, maar die bedryf as geheel sal meer moet doen om ’n produk te skep wat die mark in die toekoms soek.”

Suid-Afrika is tans reeds die wêreldleier in die verkoop van volhoubaar gesertifiseerde wol volgens volhoubare standaarde van onder meer ZQ, die Responsible Wool Standard (RWS) en die Savory-instituut. Volgens Saayman is internasionaal erkende produksiestandaarde, soos die RWS van die Textile Exchange en ZQ van The New Zealand Merino Company, geskep omdat markte daarvoor gevra het.

Textile Exchange het reeds ’n internasionale donsstandaard en ’n verantwoordelike standaard vir leer en vleis, met die moontlikheid van ’n verantwoordelike bokhaarstandaard later vanjaar. “Die standaarde het ’n plek op die wêreldmark waarop die boere lewer en is geskep deur vraag, en alle boere moet dit verstaan en aanvaar,” sê Saayman.

Suid-Afrika se bokhaarbedryf het ’n plaaslike volhoubaarheidstandaard, wat die bedryf in staat gestel het om optrede van diereregte-aktiviste teen te staan. Die mikpunt is om alle boere volgens dié standaard te sertifiseer.

VORENTOE

Volgens Saayman moet die plaaslike platform dit vir boere moontlik maak om ’n selfevalueringsvorm in te vul indien nodig. Dit sal gepaard gaan met ’n assessering op die plaas en die gesamentlike inligting sal op ’n geïntegreerde platform geplaas word, saam met toets- en biosekerheidsresultate. Hy sê dié platform sal dit onder meer makliker maak om risiko’s van uitbrekings te versag, en ook vir staatsveeartse om die nodige inligting te bekom om uitvoersertifikate te kan uitreik.

Saayman sê dat Cape Wools hom op drie sleutelgebiede wil toespits, onder meer volhoubaarheid, biosekerheid en transformasie, as deel van sy geïntegreerde benadering. Hy sê volhoubaarheid sal vermag word deur die nuwe platform te skep. ’n Gekoördineerde strategie is nodig om biosekerheid te verseker, wat moontlik sy eie bedryfskomitee sal verlang.

Die International Wool Textile Organisation (IWTO) speel in hierdie verband reeds ’n belangrike rol vir die hele internasionale wolbedryf. Suid-Afrika het inspraak deurdat dr. George de Kock, voorsitter van Cape Wools, voorsitter is van die IWTO se werkgroep vir biosekerheid.

TRANSFORMASIE

Saayman sê die bedryf moet transformasie doeltreffender aandryf en dit in pas met die nasionale landboubemarkingsraad se doelwitte bring. Sigbaarheid in die wolproduksieketting, wat voorgeloop word deur naspeurbaarheid, raak ál belangriker, van plaasvlak tot die verskaffingsketting. Hy sê boere produseer reeds volhoubaar en volg die regte etiese praktyke. Dis nie nodig vir hulle om radikale veranderinge te maak nie.

Vir die komende jaar sal raadgewers van die Nasionale Wolkwekersvereniging gebruik word om assesserings op plase uit te voer. Hy sê die volhoubaarheidstandaard sal ook in die toekoms derdepartybevestiging moet kan ondergaan, en dat die mikpunt is om die standaard uiteindelik op ’n internasionale platform te kan aanbied.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.