Jy glo in 'n unieke beweidingstelsel. Hoe werk dit?

Daar is nie ’n kort antwoord nie. Ek word deur die natuur gelei, soos dit in sy oorspronklike  toestand was toe wild die veld bewei en laat herstel het. Ek hou beeste in ’n hoëdrukstelsel  aan — op ’n klein gedeelte vir  ’n kort tydperk (ure, nie dae  of weke nie) en sorg daarna dat die veld genoeg son, reën en tyd kry om te herstel. Dit is soos in die tyd voor die mens  die veld-ekostelsel versteur het  met sy geweer, ploeg, teerpaaie  en stede. 

Hoeveel beeste hou jy op 'n hektaar aan?

Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is ons veld se drakrag 1 grootvee-eenheid per 2 ha. Ons het egter 1 eenheid per 1,3 ha bereik (65% meer) deur die veld te verbeter  en grond te bewaar. 

Jy boer met Ngunibeeste. Waarom dié res?

Hulle is aangepas  by warm weer,  veral hier aan die bedompige Ooskus. Hulle bied ook weerstand teen bosluise, daarin hoef jy hulle minder  te dip. Laastens bied  hulle ook weerstand  teen subtropiese siektes. My plaaslike mark is Zoeloes wat trots is op  hul inheemse beesras en bereid is om meer daarvoor te betaal. 

Hoe is Ngunivleis se eetgehalte?

Ek dink nie ras het so ’n groot invloed nie. Dit gaan eerder oor die ouderdom en vetpersentasie. Die dier moet min stres tydens slag ervaar, die slagter moet die karkas goed laat ryp word in die yskas en dit professioneel  opsny en verkoop. Ek  glo diere wat op gras afgerond word, voorsien gesonder vleis as voerkraalbeeste. Dis ook omgewingsvriendeliker  om só te boer en vleis te produseer, veral as  jou grondbewaring goed is. 

Watter problem kwel beesboere deesdae?

Daar is hoofsaaklik drie: produksiekoste,  produksiekoste en produksiekoste! Die onbetroubare  beskikbaarheid van entstowwe en politieke onsekerheid skep ook probleme. 

Dink jy die banters, mense wat glo jy moet meer proteïene en vet eet, het ‘n punt beet? Hoe help dié gier die vleisbedryf?

Ek hou baie van my brood, veral  as dit tuisgebak is. Maar die vleisbedryf  sal beslis by die dieet  baat vind, want as meer mense  vleis eet, behoort ons beter  pryse te ontvang. 

Eet jy self graag beesvleis? Wat is jou gunsteling-snit of gereg?

O ja, ek hou van enige mooi, dik stuk vleis wat verkieslik oor inheemse doringhoutkole gebraai word.   

Peter se wenk:
As jy beesvleis koop, soek ’n bekwame, betroubare slagter. Kies beesvleis wat op gras  afgerond is. Doen kennis op  oor hoe om elke vleissnit op  die beste manier gaar te maak. 
Mnr. Peter Ardington.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.