Sy het onlangs die tweejaarlikse internasionale One Health-kongres in Saskatoon in Kanada bygewoon.

Die kongres word aangebied om akademici en beleidmakers op die gebiede van menslike, diere- en omgewingsgesondheid byeen te bring om oor knelpunte te praat.

Volgens die Julieverslag van dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), oor siektes wat deur veeartse in Suid-Afrika aangemeld is, word die uitbreek van dieresiektes internasionaal as ‘n bedreiging  beskou, met soönose die grootste gevaar. Dit behels siektes wat van ’n dier na ’n mens en van ’n mens na ’n dier oorgedra kan word.

Van Helden sê in haar verslag aan RuVASA ‘n miljard mense is jaarliks die slagoffers van soönotiese siektes, terwyl ‘n miljoen mense daaraan sterf. Dit plaas groot druk op gesondheid, welsyn en ekonomie in streke waar dié siekte endemies is. Strategieë wat in werking gestel kan word wanneer siektes uitbreek, moet gevolglik ingestel word. Dit moet nie net op reaksie gemik wees nie, maar ook op voorkoming en gereedheid.

Voorkomende maatreëls is die belangrikste. Volgens die Global Virome-projek is daar moontlik 1,67 miljoen eiesoortige virusse wat nog nie ontdek is nie en wat die potensiaal het om meer as een diersoort aan te tas. “Omdat dit onmoontlik is om alle uitbrekings te voorkom, is gereedheid net so belangrik soos voorkoming,” het sy gesê. Daarom is dit in almal se belang om openbare gesondheidstrukture te versterk.

Kliek hier vir die tabel wat siektes en toestande wat gedurende Julie by RuVASA aangemend opsom, te sien.