Soutbosmeel kan tot 40 % van lusern in die rantsoene van

slagvolstruise vervang. Die soutbosmeel is heelwat goedkoper as lusern en soutbos kan op uitvalgrond geplant word wat nie vir lusern geskik is nie.

Met 'n volle 50 ha onder soutbos (Atriplex nummularia) het mnr. Bertus de Jager, 'n volstruisboer van die plaas Buffelsdrift, Oudtshoorn, gewonder waarom hy nie dié gewas soos lusern kon bestuur en benut nie. Lusern word meestal gesny, gedroog en gemaal voor dit aan volstruise gevoer word.

Indien dieselfde met soutbos moontlik is, kan hy die lusernkomponent in sy volstruisrantsoene deels met soutbosmeel vervang en sy voerkoste beduidend verlaag. Voeding maak 60 % tot 70 % van 'n volstruisboerdery se regstreekse koste uit.

Talle kwelvrae moes egter eers beantwoord word. Soutbos bevat, soos die naam daarvan aandui, baie natrium. Dit is nog onbekend presies hoeveel sout volstruise in hul dieet kan verdra.

As boere weet hulle reeds dat volstruise van nature dikwels soutagtige plante uitsoek om hul soutlus te bevredig. Die vraag is hoeveel soutbos 'n volstruis mag vreet voordat produksie in gedrang kom.

Wat van moontlike nierskade? Hoenders en varke vaar nie goed as daar te veel sout in hul rantsoen is nie. Hoe gaan die gehalte van die eindproduk deur hoë soutbos-inname beïnvloed word? Is daar ander, vir die wetenskap nog onbekende, nie-voedingsfaktore wat produksie en/of produkte kan benadeel? Antwoorde word vir vrae soos hierdie gesoek.

Omdat voeding so 'n groot deel van 'n volstruisboerdery se regstreekse koste uitmaak, is voeding die plek om te begin as 'n boer wil bespaar. Dit moet egter nie die gehalte van volstruisprodukte in gedrang bring nie.

Die hoogste geldwaarde word aan 'n volstruiskarkas van 43 kg en meer gekoppel. Dit beteken dat 'n lewende volstruis 95 kg tot 98 kg moet weeg. Die mark verleen voorkeur aan velgroottes van 130 vierkante desimeter en meer. Dié twee aspekte moet met die samestelling van rantsoene in gedagte gehou word.

De Jager het besluit om kundiges van die departement van landbou in die Wes-Kaap se hulp in te roep. Dit is immers die taak van navorsers om na agronomiese en ekonomiese alternatiewe te kyk.

'n Projek waarin die vervanging van lusernmeel met soutbosmeel in groei- en afrondrantsoene vir volstruise nagevors is, is begin deur dr. Tertius Brand, kenner van dierevoeding verbonde aan Elsenburg en deesdae ook buitengewone professor aan die departement dierewetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, en mnr. Kobus Nel, 'n spesialisvoorligter (volstruise) van die Oudtshoorn-proefplaas.

Die uitslae van die proef was besonder gunstig. Volgens Brand beskik hulle nou oor betroubare riglyne waarvolgens soutbos suksesvol in rantsoene vir volstruise ingesluit kan word.

"'n Boer kan soutbos gebruik as 'n deel van sy gewone voervloeiprogram. Die uitslae van die proef wys duidelik hoe die byvoeding van broei- en slagvoëls moet lyk om goeie produksie te handhaaf.

"Jy kan nie volstruise in 'n kamp soutbosse injaag en dieselfde produksie verwag wanneer hulle 'n volledige rantsoen gevoer word nie. Soveel as 56 % soutbos in die rantsoen sal die produksie én voeromset benadeel, maar 'n boer kan iets byvoeg om dit te voorkom," sê Brand.

Soutbos kan nie lusern vervang nie, maar is 'n aanvullende proteïenryke gewas. Die resultate van die proef toon duidelik dat tot 42 % soutbos by 'n rantsoen ingesluit kan word. Daarna word produksie benadeel. Die veiligste is waarskynlik om nie meer as 30 % in te sluit nie. Daarna begin voeromset geleidelik daal, sê hy.

Brand sê produksie het selfs verbeter toe min soutbosmeel by die rantsoen gevoeg is. Meestal verhoog die inname tot by 'n vlak van 30 %. Daarenteen kom 'n duidelike afname in produksie én voeromsetting voor as 56 % ingesluit word (tabel).

Nog 'n belangrike voordeel, volgens hom, is dat wanneer soutbos by die rantsoen gevoeg word, daar 'n groter verskeidenheid onbekende voedingsbestanddele kan bykom wat moontlike verskuilde tekorte kan aanvul as wanneer 'n rantsoen net uit enkele bestanddele, soos mielies en lusern, saamgestel word. Die kans om foute te maak, is kleiner hoe meer verskillende grondstowwe in die rantsoen gebruik word.

In die Klein-Karoo word voerkrale meestal gebruik om volstruise as slagvoëls vir die mark af te rond. Lusern in 'n drooggemaalde vorm is die hoofbron van ruvesel in die krale.

Oudtshoorn is 'n belangrike besproeiingsgebied met goeie grond vir lusern. Die meeste boere het op lang termyn waarskynlik net genoeg water vir 60 % van hul besproeibare grond. Daarbenewens het sowat 5 000 ha van die bestaande besproeiingsgrond reeds só verbrak dat lusern nie meer suksesvol daarop gekweek kan word nie.

Dit is juis hier waar soutbos, as 'n droogteverdraagsame gewas, ter sprake kom. Dit word gewoonlik in gebiede gevestig wat jaarliks 100 mm tot 250 mm reën kry. In die Klein-Karoo reën dit in 'n groot gebied elke jaar 200 mm tot 300 mm.

Hoewel die reën dikwels nie genoeg is om 'n noemenswaardige invloed op die stand van besproeiingsdamme te maak nie, kan dit 'n merkbare verskil aan 'n stand soutbosse maak. Soutbos het die vermoë om op klein bietjies reën te reageer. As halofiete (soutliewende plante) floreer soutbosse ook meestal op verbrakte grond.

Groot hoeveelhede lusern word steeds van elders na Oudtshoorn gebring. Teen R500 per ton was die koop van lusern voorheen nie 'n probleem nie, maar dit kan deesdae tot R1 300 per ton kos om dit hier gelewer te kry.

Lusern lewer sonder twyfel 'n baie hoër opbrengs as soutbos as besproeiingswater nie 'n beperkende faktor is nie. Boere sal altyd voorkeur aan lusern gee as genoeg water en goeie grond beskikbaar is.

As daar brak grond is, is die keuse eenvoudig: Óf die grond lê kaal óf soutbos word daarop gevestig. Eintlik is soutbos ideaal vir 'n boer wat 10 ha of meer brak of ander ongebruikte grond beskikbaar het waarop nie lusern gevestig kan word nie.

Soutbosmeel en/of soutbosweiding kan egter 'n belangrike aanvullende bron van voeding wees. Daar is boere wat beweer dat hulle soutbosmeel teen minder as R300 per ton kan produseer.

Nel sê die beskadiging van hooimaak- en maaltoerusting deur harde soutbosstokke kan uitgeskakel word as die soutbosse van jongs af reg bestuur word. Dit spreek vanself dat soutbosse wat gewoonlik twee tot drie meter hoog kan groei, nie sonder probleme met gewone hooiwerktuie gesny kan word nie.

Die algemene metode om meel van soutbos te maak, is om die bosse tot op 'n hoogte van 200 mm terug te sny en hulle toegelaat word om weer tot 700 mm uit te groei. Sulke nuwe lootgroei is sag en sappig en kan maklik gesny word.

Die goedkoper keuse

Hoewel die waarde van gemaalde soutbos in volstruisrantsoene deur navorsing bewys is, sal beweiding aangevul met byvoeding die algemeenste metode wees om soutbos te benut, sê mnr. Kobus Nel, 'n volstruiskenner.

Soutbos is taamlik onsmaaklik, maar volstruise leer gou om dit te vreet. Daarom is die bestuur van soutbosweiding baie belangrik. As soutbosse van tyd tot tyd in afgebakende gebiede bewei word, moet energieryke byvoeding verskaf word omdat die proteïeninhoud van die soutbos voldoende is.

Volgens Nel is soutbos beslis die goedkoopste keuse. Die ander moontlikheid is dat boere byvoorbeeld tydens die rustydperk van broeivolstruise (gewoonlik vanaf Januarie-Februarie tot Mei-Junie) 'n kommersiële onderhoudsrantsoen teen 'n sekere koste verskaf. Daarenteen kan hulle in soutbosweiding gejaag en 250 g mielies per volstruis per dag bykomend gevoer word.

Gedurende die broeiseisoen sal volstruise in die Klein-Karoo gewoonlik lusern as die hoofbestanddeel van hul rantsoen gevoer word. As 'n boer dus in die rustydperk minder lusern kan voer, het hy soveel meer vir die broeiseisoen en die afronding van slagvolstruise beskikbaar. Sodoende sal hy minder lusern hoef te koop as hy nie self genoeg kan produseer nie.

Dr. Tertius Brand benadruk dat hul doel met die proef nie net was om na die moontlikhede van soutbosmeel as plaasvervanger vir lusernmeel te kyk nie. Die proef moet dus in die eerste plek nie gesien word as 'n poging om die gebruik van soutbosmeel as sodanig te propageer nie.

Met die kennis oor die voedingswaarde van soutbosmeel kan akkurater aanbevelings oor aanvullende voeding op soutbosweiding ook nou gedoen word.

11 Februarie 2005