Die koei JM 101141 is die sewende Elitekoei wat hul Winstonstoetery oplewer. Vrugbaarheid, swaar speenkalwers en aanpasbaarheid is eienskappe waarmee dié Elitekoeifinalis se familielyn spog.

Die ondernemingsgees van James, die derde geslag Miller op die familieplaas, en sy pa, John, se beproefde teelbeleid het dié stoetery ’n hupstoot gegee sodat die kudde se huidige doelgrootte van sowat 300 stoetkoeie bereik is.

Die stoetery is volgens registrasie vanjaar 32 jaar oud, maar die Millerfamilie teel reeds meer as ses dekades met die ras. John se pa, Jack, het die eerste South Devons na Winston gebring, maar toe hy in die 1960’s oorlede is, het die stoetery se registrasie verval. Die beesras is egter suiwer gehou en toe John in die 1980’s na die plaas terugkeer, het hy weer die stoetery geregistreer.

James het hom sowat vyf jaar gelede by sy pa aangesluit op die plaas nadat hy drie jaar gestudeer het, meer as drie jaar by ’n bankgroep gewerk het en selfs een seisoen klubkrieket in Surrey, Engeland gespeel het.

In die veranderende klimaatstoestande in die Oos-Kaap se hooggeleë suurveld tussen Cathcart en Hogsback vaar die South Devonras goed, ondanks die somers wat ál droër word. Danksy John en James se seleksie spog hul stoetery vandag met ’n eenvormige mediumraambees wat sy of haar kondisie relatief gemaklik in die moeilike toestande behou.

“Vandag het ons ’n vrugbare mediumraam-bees met goeie vleiseienskappe. Die natuur het vir ons voorgeskryf hoe die diere moet lyk waarmee ons boer; nie andersom nie.”

ELITEKOEI

Die koei JM 101141 se moederlyn strek vier geslagte terug tot een van Winston se beste presteerders, JM89 0004, wat 11 kalwers tot op die ouderdom van 13 jaar gespeen het, met ’n tussenkalfperiode (TKP) van 364 dae. Vier van die huidige Elitekoei se vyf verskalwers vaar tot dusver uitstekend in die kudde.

Volgens James is JM 101141 ’n voorbeeld van ’n produktiewe koei wat oorgenoeg melk lewer om haar kalwers met uitstekende vleisproduksie jaarliks op die veld groot te maak. “Haar nageslag sal na verwagting dieselfde goeie resultate lewer.”

Die Millers gebruik die jaarlikse bevrugtingskoers, vrugbaarheid en TKP as aanduiding van die kudde se prestasie. Die mikpunt is om ’n TKP van gemiddeld 390 dae te handhaaf. ’n Waarde nader aan 365 beteken goeie vordering.

Die diere word aangehou volgens ’n eenvoudige, ekstensiewe rotasiestelsel. Die beeste en skape wei saam en die skape vreet die oorblywende onbenutte weiding. “Die South Devons vaar goed in die streek omdat hulle ’n effense haarbedekking in die winter het, wat hulle in die somer verloor.”

VLEISPRODUKSIE

Die Millers het ook ’n kommersiële kudde, afkomstig uit ’n kombinasie van rasse, soos die Bonsmara, Angus, Beefmaster en Brahman. Volgens James moes hulle diere aankoop toe nog grond beskikbaar geraak het. Hy gebruik South Devon-bulle om die vleiseienskappe van die kalwers te verbeter. “Deur hierdie rasse te gebruik, word die meeste uit basterkrag verkry.”

Hy sê hul kruiskalwers word jaarliks vooruit bespreek deur bepaalde voerkrale danksy die speenkalwers se goeie voeromsetting. “Ons klante is meestal kommersiële telers wat die South Devon vir kruisteling gebruik.”

Die boerdery het ook op vleisgehalte begin konsentreer. “Die resultate tot dusver was goed, en die volgende stap is om karkasmarmering in die abattoir te monitor sodat ons tasbare resultate het,” sê James.

NAVRAE: Mnr. James Miller, e-pos: james@breede.co.za, 082 517 4887.