Volgens me. Julia Hackland, sekretaris van die Royal-skou se vee-seksie, is daar vanjaar aansienlik meer inskrywings vir die speenkalfskou-geleentheid as verlede jaar.

“Die belangstelling in dié item het so gegroei, dat dit vir ons ’n effense logistieke uitdaging gebring het, maar dis ’n goeie probleem om te hê en ons kon darem ’n oplossing daarvoor vind,” verduidelik Hackland.

Die skou, wat van 25 Mei tot 3 Junie in Pietermaritzburg plaasvind, het twee jaar gelede die speenkalf-kompetisie van stapel gestuur met die oog daarop om meer kommersiële boere by die skou te betrek en sodoende die tradisie wat voorskryf dat slegs stoetboere by skoue kan baat vind, uit te daag.

Baie boere buite KwaZulu-Natal skryf in

“Ek dink die feit dat die skou bewys het dat speenkalwers hier in KwaZulu-Natal beter pryse as elders verdien, het die kommersiële boer se aandag getrek en dan moet Andrew Adams se werk om die kompetisie onder kommersiële boere te bemark, nie uit die oog gelaat word nie. Die speenkalfkompetisie skep die geleentheid vir boere om goeie verhoudinge te bou en vandaar dink ek die neiging vanjaar dat baie meer boere van buite KwaZulu-Natal vir hierdie kompetisie ingeskryf het,” verduidelik Hackland.

Oudergewoonte sal die gewilde Landbouweekblad-Royal-skou-karkaskompetisie, waar reeds talle wêreldrekords in die verlede opgestel is, vanjaar op Dinsdag 29 Mei plaasvind. Die speenkalf- en lammerkompetisie sal volg wanneer die wenkarkas ná die beoordeling van die diere lewend vergelyk sal word.

Hoewel die skou vir alle rasse oop is, is dit die gebruik van die Angus, Brahman, Hereford, Limousin, Pinzgauer, PinZ2yl, Simmentaler, Simbra en Sussex om die skou te onderskryf. Daarbenewens sal die Hampshire Down vanjaar sy nasionale kampioenskapsbyeenkoms by die Royal-skou aanbied.

Oudergewoonte word ook ’n jeugskou van 25 tot 27 Mei aangebied. Die Toyota-jongafslaerskompetisie, wat op Maandag 28 Mei plaasvind, sorg ook vir groot opwinding en daar is ’n jeugklas vir dié van 19 jaar en jonger en ’n klas vir jong mense van 20 tot 30 jaar oud.

Vir meer inligting, kontak me. Julia Hackland per e-pos by: livestock@royalshow.co.za