’n Oplewing in die vraag na lewende hawe op veilings die afgelope weke, ná die instelling van vlak 4 van die inperking, het die produsenteprys van speenkalwers laat begin herstel, terwyl ’n tekort aan stoorlammers die prys van skape die hoogte laat inskiet het.

Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder vir vee, eiendomme en afslaers by BKB, meen die vraag na beesvleis het verbeter omdat mense beesvleis bestel en by hul huise laat aflewer. Die aanbod van speenkalwers is ook goed, aangesien aanteelvee in die herfstyd van plase af bemark word ter voorbereiding van swakker weidingstoestande in die winter.

Op van die groot veeveilings het speenkalwers selfs teen meer as R30/kg vir ’n groep verhandel.

Die ander neiging wat deur vlak 4 gekenmerk is, is ’n seisoenstekort aan skape wat die prys van stoorlammers aansienlik laat styg het.

“Die rooivleisbedryf is skynbaar oorgehaal om in vlak 3 en vlak 2 diere uit voerkrale in Julie en Augustus te voorsien, wanneer meer van die spysenieringsbedrywe hul werksaamhede kan hervat,” sê hy.

Op BKB se aanlyn veiling in die tweede week van Mei is groepe skape teen tot R41,50/kg verhandel. Op die veiling ’n week later was die gemiddelde prys van ongeskeerde stoorlammers (ouderdom vier tot ses maande) R39,50/kg met die duurste groep R41,25/kg. Geskeerde stoorlammers is teen ’n allemintige gemiddelde prys van R37,25/kg verkoop met die hoogste prys vir dié groepe R39/kg.

“Dorperlammers, wat soms as die weeskinders van die bedryf beskou word, het teen gemiddeld van R38/kg verhandel en ou ooie (C-graad) teen R23/kg,” sê hy.