Die vleisbeesbedryf het vanjaar deur ’n moeilike fase beweeg. Ekonomiese groei was skerp negatief in die eerste kwartaal van 2019, wat die verbruikersvraag geknou het. Dit het saam- geval met die uitbreking van bek-en-klouseer en ’n gevolglike verbod van etlike maande op die uitvoer van rooivleis.

Verlede jaar is 4 000 ton tot 6 000 ton ge- sogte snitte beesvleis na die Midde-Ooste en lande in Afrika uitgevoer. Daardie vleis moes noodgedwonge in die eerste paar maande van 2019 binnelands bemark word. Boonop was die voerkrale in daardie stadium redelik vol, wat ’n groot opeenhoping van speenkalwers in voerkrale veroorsaak en pryse laer gedruk het.

Swak klimaatstoestande het die veevoermark geknou. Die prys van veevoer het gestyg en groot dele van die weidingsgebiede gaan steeds gebuk onder ’n jare lange droogte en die uitdunning van kuddes. Namibië, wat oor dekades deel was van die voorsieningsketting van speenkalwers aan Suid-Afrikaanse voerkrale, gaan ook gebuk onder een van sy ergste droogtes in menseheugenis. Gevolglik kwyn die aanbod van speenkalwers uit die land.

Die probleem is dat veevoer skaars en baie duur is in Namibië. Dit maak dus nie ekonomies sin om voerkrale op redelike skaal in die land te bedryf nie. Botswana het kwessies met die staatsbeheerde Botswana Meat Commission, die onderneming wat die alleenreg het om beesvleis uit te voer. Die droogte knou ook dáár produksie, en kuddes is aansienlik uitgedun.

Die ekonomie en vraag na vleis

Die ekonomiese groeikoers neig die afgelope tien jaar ál hoe laer. In 2018 en 2019 is in sekere kwartale dalende ekonomiese groei aangeteken. Daarmee saam het die amptelike werkloosheidsyfer toegeneem tot rekordvlakke van sowat 30%. Die staat betaal jaarliks sowat R220 miljard in maatskaplike toelaes aan 18 miljoen tot 19 miljoen mense.

Ten spyte hiervan het die per capita- besteebare inkomste van die bevolking laer geneig. Die afgelope weke het verskeie voedselkleinhandelaars met die bekendmaking van hul jaarlikse resultate verliese aangekondig, in sommige gevalle hul eerste verliese in dekades. Dit dui op die swak koopkrag en die uitwerking van kostestygings wat verbruikers se beursies platter laat.

Die verwagting is dat Suid-Afrika se ekonomie tóg in 2020 effe beter sal groei as in 2019. Dit gaan egter ’n rowwe rit wees, aangesien die land nog in die drif vassit wat die hervorming van ekonomiese beleid betref. Die ekonomie moet eers kop optel voordat die vraag na en besteding op veral bees- en skaapvleis gaan groei, omdat dit die duurder vleissoorte is.

Slagsyfers, staangetalle en uitvoer

Die swak binnelandse vraag die afgelope paar jaar het saamgeval met kleiner worden- de bees- en skaapkuddes. Slaggetalle het redelik stabiel gebly, soos in grafiek 1 gesien kan word. Dié grafiek toon die maandelikse slagsyfer van beeste die afgelope sowat 18 maande. Jaarsyfers toon ’n effens dalende neiging in slaggetalle die afgelope twee tot drie jaar. Dit neem egter nie die toename in die gewig van karkasse in ag nie.

Ongelukkig is daar nie betroubare data oor die daling in teelkuddes in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika en in Namibië nie. Alles dui egter daarop dat ’n deel van die huidige slagsyfer nog die bonormale uitslag van vroulike produksiediere insluit. Dit beteken die aanbod van slagdiere sal in die volgende paar jaar beperk wees, ongeag die klimaat.

Met normale weerstoestande in die volgende drie tot vier jaar sal daar ’n stadige opbou in kuddegetalle wees. Dit sal keer dat die aanbod vinnig reageer. Hopelik kan dit saamval met ’n nuwe groeifase in die ekonomie, wat die vraag en prys van rooivleis kan ondersteun.

Die groot verandering wat die afgelope paar jaar stilweg in die vleisbeesbedryf aan die gang was, is die groei in uitvoer van bevrore en verkoelde beesvleis na veral markte in Afrika en die Midde-Ooste. Daar was ook beperkte uitvoer na China. grafiek 2 toon die aansienlike groei in die uitvoer van vars en verkoelde beesvleis (as voorbeeld) die afgelope paar jaar. Die uitvoer van bevrore vleis toon ’n soortgelyke neiging.

Die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo in Januarie vanjaar het gelei tot die opskorting van die uitvoer van rooivleis. Uitvoer het eers in die tweede deel van 2019 effe begin toeneem, maar het skynbaar nog nie herstel tot die vlakke van 2018 nie. In die eerste deel van 2019 is 4 000 ton tot 6 000 ton beesvleis wat vir uitvoer bestem was, na die binnelandse mark gekanaliseer. Uitvoer het eers in Mei en Junie begin herstel. Voorts moes sowat 400 ton tot 500 ton varkvleis wat per maand uitgevoer is, ook op die binnelandse mark geabsorbeer word.

Gerugte doen die ronde dat daar in die jongste weke lewende skape per skip uitgevoer is na ’n land in die Midde-Ooste. Die eerste besending van 40 000 diere is glo uit Oos-Londen verskeep.

In die georganiseerde rooivleisbedryf is daar sterk sprake dat heelwat beesvleis binnekort na China uitgevoer kan word, nadat lank onderhandel is oor die uitvoerprotokol en siektebeheermaatreëls in Suid-Afrika. Die verwagting is dat dit ’n belangrike mark gaan word wat in die komende paar jaar ’n gunstige uitwerking op die vraag na speenkalwers gaan hê. Die risiko van siektes en ’n gevolg- like verbod op uitvoer bly egter ’n realiteit.

Pryse

Die uitwerking van die aansienlike hoeveelheid gesogte bees- en varkvleissnitte wat in die eerste deel van 2019 nie uitgevoer kon word nie, het die verkoopprys van beesvleis ’n erge knou gegee, soos grafiek 3 aantoon. Die prysverloop vir varkvleis het ’n dieper insinking gehad en skaapvleispryse het ook daaronder geknak. Gelukkig begin pryse herstel. Die verwagting is dat verkooppryse meestal sywaarts of effe opwaarts gaan beweeg. Die prys van klas A-beesvleis kan teen die einde van die jaar R45 tot R47 per kilogram wees.

Die verloop van sake was ’n redelike skok vir voerkrale. Vanweë die verbod op uitvoer het hulle te staan gekom voor hoër staangetalle en ’n eindmark wat skerp gedaal het. Speenkalwers het begin ophoop in voerkrale. Volgens statistieke van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging het staangetalle van nét meer as 600 000 tot sowat 710 000 opgeskiet. Die aanduidings is dat hierdie bottelnek begin uitwerk.

Vanselfsprekend het dit die vraag na speenkalwers ernstig gedemp en grafiek 4 toon die insinking in speenkalfpryse in die eerste deel van die jaar. Dié grafiek toon ook die verloop van geelmieliepryse oor die afgelope jaar. Dit het ’n redelike sterk stygende neiging getoon vanweë die droogte, ’n kleiner oes en die invoer van graan.

Pryse het begin stabiliseer en herstel stadig van die lae vlakke van sowat R23/kg tot R24/kg aan die begin van die jaar tot die huidige vlakke van sowat R28/kg tot R30/kg. Voerkraalkenners meen dat speenkalfpryse verder gaan verbeter tot sowat R32/kg teen die einde van die jaar. Die neiging behoort in 2020 voort te duur. Met ’n normale reënjaar en ’n goeie mielie-oes kan voermarges verbeter, wat speenkalfpryse verder sal ondersteun.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.