Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status vir rooivleisuitvoer is in Januarie opgehef ná ’n uitbreking van dié siekte in Limpopo. Die land se internasionale uitvoer van alle rooivleis het van Desember tot Januarie met 71% gedaal.

Die gevolg was ’n skerp daling van beesvleisuitvoer na Wes-Asië en Afrikalande, onder meer die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Suid-Afrikaanse Doeane- unie (SADU). Uitvoer na Asië het met 69% gedaal, na SADU-lid- lande met 79% en na SAOG-lande met 67%.

Hoewel uitvoer skerp gedaal het, het die uitvoerprys van rooivleis op dieselfde vlakke as voorheen gebly. Suid-Afrikaanse rooivleis het die afgelope 12 maande, tot einde Februarie, ’n gemiddelde uitvoerprys van R62/kg gerealiseer. Die uitvoerprys vir rooivleis het van R58,60/kg tot R67,70/kg gewissel. Die gemiddelde uitvoerprys wat in Februarie behaal is, was R60,80/kg.

Ná die uitbreking het Suid-Afrika se uitvoer na ánder wêrelddele skerp gestyg, met ’n gemiddelde rooivleisprys van R67,40/kg wat in Februarie behaal is. Bek-en-klouseer het daartoe gelei dat Suid-Afrikaners gedwing is om ander uitvoerbestemmings as Afrika en Asië te ontwikkel.

Vóór die bek-en-klouseeruitbreking het Suid-Afrika sowat 60% van sy rooivleis na Asië uitgevoer, 23% na die SADU-lidlande en 15% na die SAOG-lande. Ná die uitbreking het uitvoer na Asië tot 46% gedaal, terwyl uitvoer na ander wêrelddele van 2% na 16% toegeneem het.

Laat reënval het paniek oor mieliepryse veroorsaak. Mieliepryse het met 16% van R2 403/ton in November 2018 tot R2 788/ton in Februarie gestyg. Die uitbreking van bek-en-klouseer het daartoe gelei dat klas A-beesvleispryse met 14% gedaal het van R45,62/kg in Desember 2018 tot R39,42/kg in Februarie. Gevolglik is voerkraalmarges onder groter druk en voerkrale begin óf gelykspeel óf verliese aanteken.

Vanweë ’n hoër mielieprys en laer karkasprys kom die prysaanbod vir speenkalwers onder groot druk, ondanks die feit dat Suid-Afrika weens die droogte en kleiner kuddes nie voldoende speenkalwers het om in die plaaslike vraag te voorsien nie. Goeie speenkalfpryse behoort die produksie van speenkalwers aan te moedig. Speenkalfpryse het met 17% gedaal, van ’n gemiddelde prys van R33,30/kg tot R27,79/kg in Januarie.

RSA uitvoer van rooivleis (ton)
Klas A-pryse, speenkalfpryse (R/kg) en mieliepryse (R/ton)
Vergelyking van prysindeks met beesvleis-mielieprys-verhouding en gelykbreekpunt vir voerkrale

Vooruitsig

Die verwagting is dat speenkalfpryse vandeesmaand tot gemiddeld R29,70/kg kan herstel. Mielies behoort teen R2 700/ton te verhandel en klas A-beesvleis behoort ’n gemiddelde prys van R39,70/kg te behaal. Voerkrale wat nie klein marges realiseer nie, speel met koste gelyk. Klas A-karkaspryse behoort tot Junie met 2% te daal, mieliepryse met 3% en speenkalfpryse met 3,5%.

Die nadraai van die verkiesing kan bepalend wees vir sake- en beleggersvertroue. Met ’n onderwaardeerde rand wat onder ideale toestande teen R9,75 teenoor die Amerikaanse dollar behoort te verhandel, kan ’n sterker rand tot laer mieliepryse lei en speenkalfpryse ondersteun.

Indien die rand ná die verkiesing verder verswak en mieliepryse ondersteun, sal voerkrale minder vir mielies of speenkalwers moet betaal om marges in stand te hou. Met goedkoop ingevoerde hoendervleis sal plaaslike verbruikers nie méér vir rooivleis betaal nie. Dit is belangrik om uitvoer te bevorder en Suid-Afrika se biosekuriteit in die rooivleisbedryf te verbeter. Dit is in die belang van alle produsente, nie net die rooivleisbedryf nie.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.