Volgens mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), wag die NWKV steeds op terugvoering van die Nasionale Tesourie oor sy aansoek om die verlenging van die ramprojek en dus die meegaande finansiering wat daarmee verband hou. 

“Dit is ’n baie suksesvolle projek en ons kan nie verstaan waarom die staat so sukkel om te besluit of ons moet voortgaan of nie. En dit terwyl ons reeds in Desember 2015 ’n aansoek ingedien het om die projek te verleng,” sê De Beer.

As deel van die projek versprei die NWKV jaarliks ongeveer 3 000 wolramme met goeie teelmateriaal in die kommunale gebiede in die Oos-Kaap. Die doel daarvan is om die wolskaapkuddes te verbeter sodat wolproduksie en -gehalte kan toeneem. Die staat dra jaarliks nagenoeg R10 miljoen by tot die projek.

Geen terugvoering

De Beer sê die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is al party wat die Tesourie kan oorreed dat die NWKV die enigste diensverskaffer is met die nodige dienste om die projek te ondersteun. Die NWKV wag egter steeds op terugvoering van dié departement oor die kwessie.

Hy sê dit is ’n deurlopende projek wat nie vir ’n jaar of meer gestaak kan word nie, aangesien daar spesifieke ramme vir die projek geteel word.

Weens die gesloer kon vanjaar nog geen ramme versprei word nie. De Beer sê die NWKV kan nie tot later as einde Mei wag om ramme te versprei nie, aangesien die ramme voor die winter reeds by die boere moet wees as deel van hul produksieskedule. 

Suksesvol

Die ramprojek is een van Suid-Afrika se suksesvolste transformasieprojekte. Wolproduserende gemeenskappe in die kommunale gebiede van die Oos-Kaap, soos die Transkei en Ciskei, het verlede jaar ’n totaal van R300 miljoen verdien – alles te danke aan wolverkope.

Danksy hierdie projek kan die nagenoeg 27 000 boere uit die kommunale gebiede onder meer op internasionale markte met wolboere van Australië meeding.

Die NWKV het sedert 2002 meer as 45 000 ramme met goeie teelmateriaal aan die kommunale boere beskikbaar gestel. Daarvolgens het wolproduksie uit dié streke wat deur die formele mark bemark is van 223 000 kg in 2002 tot 5,8 miljoen kg verlede jaar gestyg.