Ses Bonsmara-, twee Beefmaster-, ’n Angus- en ’n Drakensbergerstoetery is as die land se tien beste vleisbeeskuddes aangewys.

Dié 10 stoeterye uit die Wes- en Oos-Vrystaat, die Wes-Kaap, Noordwes en Limpopo het elk dubbele goue status op SA Stamboek se virtuele Elite-toekenningsgeleentheid verwerf.

Die Oos-Vrystaat se ontvangers van dubbelgoud is Germar-Bonsmaras van mnr. Gert Nel en sy seun, Gerhard (Reddersburg), mnre. Daan Viljoen en sy broer Dirk (Bonsmara, Bethlehem), en mnr. Fourie Scheepers (Bonsmara, Fouriesburg). Die twee ontvangers van dubbelgoue status in Limpopo is dr. Hendrik Meyer (Beefmaster, Naboomspruit), ’n voormalige nasionale wenner, en mnr. Thinus Maritz (Bonsmara, Vaalwater). Nog ’n voormalige nasionale wenner, mnr. Christopher Melamu (Lamus-Bonsmara, Vryburg), is ’n topkandidaat uit Noordwes.

In die Wes-Kaap bedryf mnre. Robert Hobson en Stefan Terblanché die Angus-kuddewenner van die Fredericksburg-landgoed. In die Wes-Vrystaat was die wenners van dubbele goue status mnr. Wihelmus van der Schyff en sy broer C.J. van die plaas Rietfontein by Soutpan, mnre. Gawie en Frik Roux (Drakensberger, Ventersburg), en Sernick-Bonsmara van mnr. Nick Serfontein en sy kuddemeester, mnr. Pieter Booysen (Edenville).

SA Stamboek se elf Elite-streekwenners in die vleisbeeskategorie is: Oos-Kaap: Disco-Bonsmaras van mnre. Boeram Venter en kuddemeester Phillip Taylor (Kirkwood); Oos-Vrystaat: Germar-Bonsmaras; Gauteng: Le Fre-Bonsmaras van mnr. Frik Venter van Bronkhorstspruit; KwaZulu-Natal: mnr. Chris Owen (Beefmaster, Underberg); Limpopo: dr. Hendrik Meyer; Mpumalanga: mnr. Nico Pieterse (Syferfontein-Bonsmaras, Standerton); Namibië: dr. Joggie Briedenhann (Bonsmara, Windhoek), Noord-Kaap: mnr. Charl Uys (Marochel-Bonsmaras, Jan Kempdorp); Noordwes: Lamus-Bonsmaras; Wes-Kaap: Fredericksburg-landgoed, die Wes-Vrystaat: mnr. Wilhelmus van der Schyff.

Altesaam 107 brons, 108 silwer en 102 goue toekennings is op die geleentheid  aan telers toegeken.

Kleinvee-wenners

Die nege beste kleinveekuddes vir 2020-’21 is soos volg: Noord-Kaap: mnre. Esjay Visser (Meatmaster, Kenhardt); Robbie Meintjes (Dorper, Griekwastad), Christo van Deventer (Dorper) en Johannes Human (Wit Dorper), albei Prieska; Noordwes: mnr. Gert van der Linde (Ile de France, Mareetsane); Wes-Kaap: mnre. Dirkie Uys (Komarsekraal-Merino’s, Bredasdorp), Jan de Villiers (Merino, Moorreesburg) en Jacques Neethling (Verfheuwel-Merino’s, Bredasdorp) en Wes-Vrystaat: mnr. Johan Hoffman (Merino’s, Bothaville).

Die streekwenners uit dié groep ontvangers van dubbelgoue status is: Noord-Kaap: mnr. Esjay Visser, Noordwes: mnr. Gert van der Linde, Wes-Kaap: mnr. Dirkie Uys en Wes-Vrystaat: mnr. Johan Hoffman (2019-’20 se nasionale kleinveewenner). Ander streekwenners is: Oos-Kaap: mnr. Geoff Kingwill (Merino, Graaff-Reinet); Oos-Vrystaat: mnr. Lodie van Reenen en dr. Carl Scholtz (Dormer, Clocolan); Gauteng: mnr. Freddie Schmidt (Dohne-Merino, Memel); Mpumalanga: me. Zella Penn (Ile de France, Morgenson) en Namibië: mnr. Philip Strauss (Dorper, Keetmanshoop).

Altesaam 54 brons toekennings is op die kleinveegeleentheid toegeken, 55 silwer en 46 goue toekennings.