Dié belangrike projek sloer reeds jare weens geldtekorte.

Intussen staar uitvoerverliese van R6,4 miljard Suid-Afrika in die gesig indien ’n uitbreking van bek-en-klouseer nou sou voorkom, waarsku dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR. Dit het tydens ’n voorlegging van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en van sy entiteite aan die Parlement se staande komitee oor toedelings aan die lig gekom dat die departement 19,5% van sy begroting vir die eerste kwartaal van die 2018-’19-boekjaar nie bestee het nie.

Dit beloop R442,7 miljoen. Die LNR kort R414 miljoen om sy fabriek vir die vervaardiging van ’n bek-en-klouseerentstof te voltooi. Me. Yvonne Nkwenkwezi Phosa, voorsitter van die komitee, sê dit is die komitee se taak om te bepaal of die departement sy hulpbronne doeltreffend gebruik om goeie diens te lewer.

Buiten die enorme onderbesteding het sy uitgewys daar was ’n vertraging in die oordrag van geld wat boere moet ondersteun en swart ekonomiese bemagtiging moet bevorder. Verder is daar ook vertragings om vakante poste te vul.

Mnr. Mooketsi Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal van die departement, het gesê heelwat vordering is gemaak om teikens te bereik wat nie in die eerste kwartaal behaal kon word nie.

MILJARDE VERLOOR

Die bek-en-klouseerprojek is al in 2010 van stapel gestuur nadat die LNR die vervaardiging van entstof in 2005 beëindig het weens tegniese probleme en onvoldoende infrastruktuur. Suid-Afrika het tans nie ’n entstoffabriek nie en is afhanklik van die entstofinsti- tuut in Botswana (BVI) vir hierdie entstof.

Die BVI voorsien ook entstof vir verskeie ander veesiektes aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Moephuli het die komitee toegespreek oor die jare lange gebrekkige finansiering van die LNR. Besparings en verbeterde doeltreffendheid sedert 2009 het die LNR in staat gestel om sy geldelike tekort sodanig te verminder dat hy ’n gunstige balansstaat in 2014 en 2015 gehad het.

Anders as ander staatinstellings, soos SAA en Eskom, het hy nie spesiale finansiering gekry om sy tekorte aan te vul nie. Begrotingsbesnoeiings van R280 miljoen wat die Tesourie in 2016 op mediumtermyn ingestel het, het meegebring dat die LNR weer geldelike tekorte ervaar.

Sekere staatdepartemente het ook nie hul skuld aan hom betaal nie. Boonop sukkel hy om sy geld te kry van private kliënte aan wie hy dienste gelewer het.

KABELDIEFSTAL

Moephuli het verder gesê kabeldiefstal vererger die LNR se geldelike probleme, want krag- opwekkers is noodsaaklik as daar nie bykomende geld is om die kabels te vervang nie.

“Die kabeldiefstal bring mee dat ons dieselkragopwekkers moet gebruik, want ons bedrywighede moet aangaan. Ons het van die gevaarlikste virusse in ons laboratoriums wat in spesiale vrieskaste gehou moet word.” Meer as tien voorvalle van kabeldiefstal het die LNR se bydrywighede by Onderstepoort in Pretoria geraak.

Volgens Moephuli het die LNR altesaam 102 vakante poste. Hy benodig R20 miljoen om dit nog in hierdie boekjaar te vul.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.