Mnr. Deon Saayman, besturende direkteur van Sybokhaar Suid-Afrika, sê dit is nie genoeg dat die bedryf slegs aan Suid-Afrikaanse wetgewing voldoen nie.

“Ons moet besef dat dit wat in ons land wettig is, nie noodwendig genoeg is om die wêreldmark gerus te stel nie. Ons moet bedryfstandaarde stel wat ons binne internasionale riglyne hou en sodoende ons hele bedryf outomaties binne Suid-Afrikaans wetgewing plaas.”

Die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV) sê boere moet aan dié riglyne voldoen om ’n volhoubare status te ontvang, anders sal kopers nie hul bokhaar op veilings koop nie. Die verskerpte maatreëls volg in reaksie op die Mense vir die Etiese Behandeling van Diere (Peta) se aantygings van wreedheid en mishandeling wat begin Mei in ’n verslag en ’n video “ontbloot” is.

Volgens mnr. Andries Greeff, voormalige voorsitter van die SASKV, het die video die hele bedryf onkant gevang, maar dit was ’n ernstige wekroep. “Dit is uiters belangrik dat ons die produksieriglyne deurlopend hersien en aanpas sodat ons altyd ’n stappie voor kan wees. Die wêreld kyk na ons en ons sal daadwerklik moet optree om relevant te bly.”

TOESIG

Die nuwe maatreëls wat deur die bedryf ingestel word, behels dat boere te alle tye toesig moet hou oor alle bedrywighede by skeergeriewe. Andersins moet ’n betroubare mens in beheer wees of kameras moet opgestel word om die skeerproses te monitor. Boere word gemaan om streng by riglyne oor bokhantering en skeergeriewe te hou, en gekontrakteerde skeerspanne moet opleiding ontvang om binne dié riglyne op die tree.

Die bestaande riglyne oor genadedood vir bokke en die kastrasie van ramme sal ook aangepas word in ooreenstemming met internasionale riglyne. Boere mag slegs was- en dipmiddels wat deur die bedryf goedgekeur is, gebruik. Dié middels is nie skadelik vir bokke nie.

PRYSE HOU

Die somerseisoen het op 26 Junie op ’n hoë noot afgesluit toe ’n rekordprys van R360/kg op die laaste veiling vir ’n baal grootbokhaar van mnr. Charles Fitzhenry van Aberdeen betaal is. Charles het nog ’n rekord op sy kerfstok gevoeg nadat hy ook die beste gemiddelde prys vir sy totale skeersel, teen R404,66/kg, gekry het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.