Suid-Afrika se Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Namibië se Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) het kommentaar gelewer na aanleiding van die nuutste verklaring van die Amerikaanse beesboervereniging oor hul kommer dat Amerika vanuit Afrika-lande met bek-en-klouseer besmet kan word.

Mnr. Gerrit Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, het aan Landbouweekblad gesê Suid-Afrika is baie bekommerd oor bek-en-klouseer, veral in sy buurlande waar die siekte endemies is. In Zimbabwe en Mosambiek is die siekte tot ’n groot mate buite beheer. Daarteenoor het Namibië en Botswana bek-en-klouseervrye areas en hulle is in hierdie stadium in ’n goeie posisie vir die uitvoer van rooivleis.

Suid-Afrika het sowat twee jaar gelede sy status as bek-en-klouseervrye sone by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) verloor met die uitbreking van hierdie gevaarlike siekte in Limpopo. Die uitbrekings bly egter beperk tot die noorde van Limpopo. “Al het ons oornag ons uitvoerstatus verloor, het ons oor tyd weer daarin geslaag om vleis deur bilaterale handel na 26 lande uit te voer. Dit is ’n aanduiding dat daardie lande darem weer vertroue in ons stelsel het. Dit is veral bemoedigend dat ons steeds na China uitvoer,” sê Schutte.

Suid-Afrika moet meer na ’n stelsel van kompartemente kyk waarvolgens ’n gebied waar ’n siekte uitbreek, sinvol afgesonder kan word. Daar was die afgelope jare in agt van die nege provinsies geen uitbrekings van bek-en-klouseer nie. Daarom kan provinsies dalk as kompartemente beskou word.

’n Ander voordeel is Suid-Afrika se groot aantal voerkrale wat ook as kompartemente beskou kan word. Voerkrale word baie goed bestuur. As ’n speenkalf in ’n voerkraal beland, geld ’n volledige naspeurbaarheidstelsel. “Die groot kwessie sal wees om hard te werk aan naspeurbaarheid vanaf die plaas na die voerkraal. Dit sal samewerking tussen die staat en private sektor verg, veral vir die ontwikkeling van ’n stelsel vir naspeurbaarheid in die gebiede waar bek-en-klouseer voorgekom het.” 

Namibië het begrip

Die LPO sê hy het begrip vir Amerika se kommer. Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die LPO, wys egter daarop dat Namibië ’n lewendehawestelsel het wat siektevry, hoogs gereguleerd en individueel naspeurbaar is. Daarom is die land reeds vir die afgelope 60 jaar vry van bek-en-klouseer, “ ’n prestasie waarop Namibië trots is,” volgens Pretorius. “Die LPO kan hom egter met Amerikaanse beesboere se kommer vereenselwig omdat ’n uitbreking van bek-en-klouseer suid van ons veterinêre kordonheining ’n ramp vir die Namibiese rooivleisbedryf sal wees.”

Namibië het ’n klein vermoë vir beesvleisproduksie wat slegs 0,5% van die internasionale mark uitmaak. Dit klink min, maar 72% van die bevolking is van die landbou afhanklik en lewende hawe is die ruggraat van die landelike gebiede.

Namibië is die enigste land in Afrika wat geakkrediteer is om vleis vanuit die sone wat vry van bek-en-klouseer is na basies die hele wêreld uit te voer, sê Pretorius. As die land hierdie uitvoermark kwyt raak, sal veeboere hul voortbestaan verloor. Dit sal die land se hele ekonomie skaad. Daarom sal die landbousektor alles in sy vermoë doen om sy siektevrye status te behou.