In die vorige rubriek (“Ophou of aanhou melk?”, LBW, 16 Augustus 2019) het ek op grond van markseine aangedui dat kopers deur die stadiger produksiegroei en gunstige vraag gedwing sou word om produsentepryse opwaarts aan te pas. Dit het nie gebeur nie. Iewers in die bedryf is daar ’n skroef of selfs ’n paar skroewe los.

Vanuit sekondêre bedryfsoorde word die feit dat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf binne ’n vryemarkstelsel bedryf word gereeld beklemtoon, met die veronderstelling dat pryse as gevolg daarvan by markseine sal aanpas. As produksie styg en die vraag daal, sal dit tot laer pryse aanleiding gee. Indien produksie daal en die vraag na suiwelprodukte groei, kan melkprodusente hoër pryse verwag, wat dan tot hoër produksie gaan lei, tensy insetpryse en veral voerpryse skerp styg.

Amptelike syfers van Statistieke SA dui aan dat terwyl ex-fabriekpryse van suiwelprodukte gestyg het, het produsentepryse gedaal. Sedert Januarie 2019 was daar ’n matige herstel in produsentepryse, maar sedert April 2019 is pryse stagnant. Melkverwerkers dui aan dat hulle nie pryse hoef te verhoog nie aangesien hulle voldoende voorrade melk teen huidige pryse kry.

Soos een verwerker teenoor my opgemerk het: “Hoekom sal ek boere meer betaal? As ek melk nodig het, tel ek net die telefoon op en dit word teen R4,50 per liter by my afgelaai.” Produsentepryse het stagneer en gaan nie gou styg nie.

Markbalans dui op hoër produsentepryse

Volgens die Melkprodusente-organisasie (MPO) is die totale aanbod van melk, bestaande uit plaaslike produksie en netto invoer in die eerste vier maande van 2019 altesaam 6,2% laer is as in die ooreenstemmende tydperk in 2018. Indien die totale aanbod oor die 12-maande-periode tot einde Maart 2019 met dieselfde tydperk in 2017-’18 vergelyk word, is die aanbod 2,3% kleiner.

Nielsen-syfers wat onlangs verskaf is deur die sekondêre bedryfsorganisasie Sampro, dui aan dat daar opwaartse groei in die vraag na suiwelprodukte in 2018-’19 was. Die vraag na langlewemelk het met 14% gestyg, terwyl die vraag na ander vars melk met 4,5% gedaal het.

Gegrond op die verhoudelike samestelling van die langlewe- en varsmelkmark, beteken dit ’n 6%-groei in die totale vloeibaremelksektor. Die vraag na maas het met 19,9% gestyg, voorafverpakte kaas met 7%, jogurt met 6,3% en botter met 5,4%. Die vraag na room en roomkaas het met onderskeidelik 1,8% en 2,2% gedaal.

Totale kleinhandelverkope is moeilik kwantifiseerbaar. Indien slegs die groei in die Nielsen-syfers gekwantifiseer word, dan het die mark met meer as 3,7% gestyg. As die aanbod van ’n produk met meer as 2% daal en die vraag daarna styg terselfdertyd met meer as 3%, dan behoort pryse te styg. Kleinhandel- en ex-fabriekpryse het wel matig gestyg. Produsentpryse het egter gedaal.

Dit is ’n klinkklare aanduiding dat alles nie pluis is in die suiwelbedryf nie. Daar is verskillende moontlike verklarings vir die onvermoë van die suiwelmark om op vraag- en aanbodfaktore te reageer. Dit is hoogs onwaarskynlik dat melkkopers saamwerk om pryse laag te hou; die kompetisie tussen hulle is te sterk en almal is steeds baie versigtig ná die vorige bloutjie wat met die mededingingstribunaal geloop is. Die fout lê dus waarskynlik in ’n onderskatting van die totale aanbod bestaande uit plaaslike produksie en netto invoer.

Word die aanbod onderskat?

Dit is moontlik dat die totale melkaanbod meer is as wat die syfers van Melk SA en die MPO aandui. Melk SA se gerap- porteerde innamesyfers word streng gekontroleer en ge- oudit en is waarskynlik bykans 100% akkuraat. Dieselfde is moontlik nie waar vir in- en uitvoerstatistieke nie. Daar word dalk meer suiwelvastestowwe ingevoer as wat in invoerstatistieke aangedui word.

Die bedryf monitor invoer onder die suiweltariefposte (04.01–04.06). Suiwelbevattende produkte word ook onder ander tariefposte, soos die tariefpos vir voedselbestanddele, ingevoer. Die invoer van formulemelk en roomys word ook nie as suiwel- invoer beskou nie. Benewens die wettige invoer wat nie as suiwelprodukte gereken word nie, kan daar ook suiwelprodukte wees wat onwettig ingevoer word.

Hoewel Agri Inspec invoerstatistieke maandeliks eva- lueer, word fisieke inspeksie van ingevoerde produkte nie meer gedoen nie. Jare gelede is verwerkers vervolg wat maas “gerek” het deur plantvette en plantgebaseerde proteïen te gebruik. Die spesifieke geval is stopgesit, maar die gebruik kan weer kop uitsteek.

Daar kom wel gevalle voor waar suiwelprodukte met nie-suiwelprodukte vermeng word en dan as ’n suiwelproduk bemark word. Die kosskrywer en -konsultant Annelien Pienaar het onlangs laboratoriumresultate aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling verskaf wat die departement gedwing het om sekere botterverpakkings van winkelrakke te verwyder. Die gebruik van nagemaakte kaas in pizzabolae is algemeen.

Struktuurprobleme

Struktureel is daar ook kwessies. Terwyl die vraag na langlewemelk teen dubbelsyfers groei en die vraag na vloeibare melk daal, is daar steeds ’n groot deel van die verwerkingsbedryf wat net op die vloeibaremelkmark konsentreer. As gevolg van hul krimpende mark ervaar die verwerkers ’n ooraanbod van melk.

Nasionale melkkopers het in die surplustyd van kleiner produsente ontslae geraak. Dit het hierdie kleiner produsente aan melk-karweiers uitgelewer wat pryse van boere afwaarts kon aanpas.

Die verskuiwing van melkproduksie van die binneland na die kusgebiede veroorsaak dat transaksiekoste in die binneland styg. Die enkele oorblywende melkprodusente in die binneland raak dus al hoe meer geïsoleerd en verloor enige prysbedingingsmag. Gerugte dat een van die groter suiwelverwerkingsaanlegte in die binneland gesluit gaan word, is ook kommerwekkend.

Kan die skroewe weer vasgemaak word?

Die beheer oor invoer behoort opgeskerp te word. Dit is waarskynlik nie voldoende om bloot maandeliks invoerstatistieke te ontleed nie. Dit het nodig geraak vir Agri Inspec om weer ’n teenwoordigheid op die hoofinvoerhawens te hê. Mnr. Jompie Burger se suiwel- standaarde-agentskap doen sy bes om seker te maak dat produkgehalte verbeter.

Die verbruiker behoort egter ook oor produkte van swak gehalte ingelig te word. Sulke produkte is egter steeds volop. Verskeie verbruikers verkies om eerder die duurder ingevoerde produk van bewese gehalte te koop as om die risiko te loop om ’n plaaslike produk van swak gehalte te koop. Nagemaakte suiwelprodukte en suiwelprodukte wat met plantolies gemeng is, is volop op winkelrakke. Die verbruiker behoort ten volle ingelig te word oor die verskille in voedingswaarde tussen suiwel- en nie-suiwelprodukte.

’n Paar jaar gelede het die MPO probeer om ’n termynmark vir melk te stig. Skerp kritiek veral van MPO-direkteure het die poging ongelukkig laat skipbreuk lei. ’n Termynmark kan daartoe bydra dat vraag en aanbod meer in balans kom. Dit gaan egter moeilik wees om aan die gang te kry, aangesien die huidige ondeursigtige stelsel in belang van die kopers is. In die vryemarkstelsel bepaal markkragte pryse. Produsente sal net inspraak in pryse kry deur hul markkrag te verhoog.

Boerbeheerde besighede bied wel ’n oplossing vir boere wat bereid is om individuele vryhede op te offer en saam te werk. ’n Goeie plek om beheer oor die produk terug te kry, is om die vervoer van melk uit kopers en karweiers se hande te neem. Dr. Koos Coetzee is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.