Kleiner skaapboere konsentreer uit onkunde ongelukkig só op wurmbekamping dat hulle ’n weerstandige wurmbevolking skep wat hul situasie gaan vererger.

Dit word veral by intensiewe skaapproduksiestelsels gesien. Afgesien van wurms en ’n paar besmettingstoestande, vermoed ek boepenslammers is die gevolg van onvoldoende maternale en/of lammervoeding.

Is dit so? Indien die boepenstoestand voor speentyd voorkom, is dit meestal omdat die ooie nie lank genoeg en nie ’n voldoende hoeveelheid deurvloeiproteïene voor en ná lamtyd gekry het nie. Die ooie het gevolglik onvoldoende bies- en melkproduksie, wat tot boepenslammers lei.

Hoë vlakke van deurvloeiproteïene moet aan ooie gevoer word vanaf ses weke voor lamtyd tot minstens agt weke ná die lam gebore is. Boere gebruik dikwels verkeerde bronne van deurvloeiproteïene, soos kanola-oliekoekmeel, lupiene en sonneblomoliekoekmeel.

Dít is almal swak bronne van deurvloeiproteïene. Ons beveel slegs vismeel en soja-oliekoekmeel aan. Indien katoenoliekoekmeel gebruik word, moet dit minstens 38% proteïene bevat, anders moet dit nie gebruik word nie.

Die nuutste navorsing toon dat boere steeds te min deurvloeiproteïene vir lammerooie voer — 20% meer deurvloeiproteïene as die huidige riglyne moet tydens laatdragtigheid gevoer word (Vipond et al., 2009).

Die nuutste aanbeveling is om laatdragtige ooie daagliks minstens 100 g van ’n goeie deurvloeipro- teïenbron per fetus in laatdragtigheid en minstens 200 g per lam in vroeë laktasie te voer (Macrae, 2013).

LAMSTELSEL

Eintlik gaan dit oor die benutbare noodsaaklike aminosure en nie sodanig oor die deurvloeiproteïene nie. Daarom formuleer ons deesdae lekke en volvoerrantsoene volgens benutbare, noodsaaklike aminosure sodat hulle die korrekte aminosuurprofiel voorsien vir hoë bies- en melkproduksie.

Boepenslammers kan ook voorkom indien die verkeerde (ondoeltreffende) lamstelsel gebruik word en daar ’n skeiding tussen die ooi en haar lam of lammers plaasvind en hulle dus onvoldoende of geen bies en melk inneem nie.

Ooie met tweelingfetusse, asook alle jong ooie wat die eerste keer lam, moet in lamhokke lam, terwyl volwasse ooie met enkelfetusse in klein troppies kan lam. Indien ooie kunsmatig gesinchroniseer is, moet ál die ooie in lamhokke lam omdat die meeste ooie dan binne drie tot vyf dae lam.

Dit kan groot verwarring veroorsaak, wat tot die skeiding van die ooi en haar lammers kan lei. Dit kan tot lae of geen bies- en melkinname aanleiding gee en gevolglik tot boepenslammers en vrektes. Sekere spoorelementtekorte kan ook tot boepenslammers lei.

Daarom moet die spoorelementstatus van hierdie lammers deur ’n lewerontleding bepaal word. Indien spoorelementtekorte voorkom, moet organiese spoorelemente voor speentyd gedoseer word, en ná speentyd moet organiese spoorelemente ingespuit word.

PRODUKSIE

Daar is nog ander faktore wat meebring dat lammers ná speentyd boepense ontwikkel. Sommige lammers sukkel ná speentyd om goed uit te groei. Australiërs beskou hierdie mislukking van speenlammers om te gedy en goed uit te groei (bekend as weaner ill-thrift) as een van die algemeenste, maar ingewikkeldste siektesindrome.

Dit lei tot swak groei, ’n hoë vrektekoers, ’n laer leeftydproduksiepoten- siaal en ’n laer reproduksiepotensiaal. ’n Hoë voorkoms van weaner ill-thrift dui op ondoeltreffende voeding- en bestuurs-praktyke.

Volgens prof. Andrew Vizardvan Australië is die sorgvuldige bestuur en voer van ooie (jong ooie se moeders) vanaf besetting tot die eerste paring van die jong ooie self nodig om die voorkoms van hierdie toestand te beheer. Dit is meestal die gevolg van onvoldoende proteïen-, energie- en spesifieke spoorelement-inname (Gordon, 1981).

Sowel die proteïen- as energie-inhoud van weiding is dikwels onvoldoende om optimale groei by jong gespeende lammers te verseker. Daar is veral ’n tekort aan deurvloeiproteïene vir liggaams- en wolgroei. Jong ooie se voeding (weiding, lek en aanvulling) moet ná speentyd tot geslagsrypheid minstens 14% proteïene voorsien vir optimale uitgroei.

Speenooilammers moet vanaf speentyd tot eerste paring geen gewig verloor nie. Na gelang van hul speengewig en paarouderdom moet hulle teen sowat 70-125 g per dag groei om minstens 80% van hul volwasse gewig te weeg met paartyd voor 12 maande, en minstens 90% indien hulle ná die ouderdom van 12 maande gepaar word.

Dr. Jasper Coetzee is ’n kleinveespesialis

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.