Daar is selde goeie nuus wanneer die polisie aan jou deur klop. En die Oktober-oggend in 2013 wat kaptein Johnny Kotze van die Van Zylsrus-polisiekantoor, vir me. Lorraine de Bruin gaan sien het, het ’n besonderse hartseer lentedag geword. Haar man, Flippie, het die vorige aand net buite die klein Kalaharidorpie verongeluk. Lorraine en die twee kinders, Gerhard (13) en Anelda (14), was in Kuruman waar hulle in die skool was.

“Ten spyte van die skok en hartseer het ek in daardie oomblik vir Johnny gesê, as iemand vra, die plaas is nie te koop of te huur nie. Ek het nie geweet hoe ek dit gaan doen nie, maar ek het geweet ek moet die boerdery aan die gang hou. Vir die kinders se onthalwe. En veral vir Gerhard. “Ek wou hê hy moet weet daar is vir hom die geleentheid om te boer, as hy dit sou wou doen,” vertel Lorraine.

Lorraine se gunsteling-bokkie, Nommer 30.
Van links: Gerhard de Bruin (Lorraine se seun), Janele Cloete (Gerhard se meisie), Lorraine de Bruin, Anelda de Bruin (Lorraine se dogter) en Johan Strydom. Almal is tans saam ingeperk op Leeupan.

‘Ons was ’n goeie span’

Sy het nie as plaaskind grootgeword nie. En haar ouerhuis in Kuruman was boonop Engels. In die Kalahari word Engels net so min gepraat soos Latyns. “Darem net Kuruman-Engels,” voeg sy by, al is sy vir hoërskool na Kimberley Girls’ High toe.

Ná skool het sy in Port Elizabeth gewerk en later ook ’n ruk oorsee. Dit was met ’n kuier in Kuruman dat sy en ’n paar vriendinne na ’n dans op Van Zylsrus toe is. Daar het sy en Flippie ontmoet. Twee jaar later, in 1994, is hulle getroud. “Snaaks genoeg het Flippie se ma glo altyd vir hom gesê hy moet eendag met ’n Engelse vrou trou,” vertel Lorraine.

Om skielik op ’n Kalahariplaas, net ’n paar kilometer van die Botswanagrens, te bly kan ’n groot aanpassing wees. Maar Lorraine sê dit was vir haar maklik. “Ek dink nie ’n mens hoef op ’n plaas groot te word om hierdie soort leefstyl te verstaan en te geniet nie. Ek het gehou van die buitelewe en avontuur. Dit was dadelik vir my lekker om hier te wees. As Flippie veld toe gegaan het, het ek saamgegaan. Baie keer te perd. Ek was saam met hom as hulle met die diere gewerk het, hoewel ek vrek bang was vir die beeste.

"In hierdie afgesonderde deel van die land is dit belangrik dat vroue ook betrokke is by die boerdery. Meestal is dit net jy en jou man op die plaas. As albei nie belang stel in die plaas se bedrywighede nie is daar eintlik min om met mekaar te deel. Dit is dus goed om hier as ’n span te werk. En ek en Flippie was ’n goeie span.”

Toe hul kinders begin skool toe gaan, was Lorraine minder betrokke op die plaas. Daar moes skoolkar gery word en later het sy baie keer saam met hulle deur die week op Kuruman gebly. Flippie se dood het dit skielik en drasties verander.

“Ek vrek oor ’n bulveiling,” sê Lorraine. Hierdie bul se naam is Rambo. “En is hy nie mooi nie?”

Plaaswerker haar leermeester

Haar kinders het deur die week by haar ouers op Kuruman gebly en Lorraine was alleen op die plaas. “Ek wou self boer. Ek wou dit nie oorlaat aan iemand anders nie. En ek was gelukkig nie bang om alleen hier te wees nie. Maar dit was definitief nie maklik nie. Daar was baie dinge wat ek nie geweet het nie en dit was sommige dae ’n groot gesukkel.

"Ons het byvoorbeeld een slag pype in ’n boorgat laat afval. Ek moes iemand laat kom om dit uit te haal en dit het die ou ’n week gekos om hulle uit te kry. Dan breek een van die Lister-enjins by die boorgate en is dit weer ’n gespook met water. Van die boorgate het later begin opdroog en vir nog benoudheid gesorg. Noudat ek daaraan dink, ek het regtig al baie gesukkel met water.”

Van veesiektes, doseerprogramme en die verskillende voere en lekke het Lorraine ook nie veel geweet toe sy begin boer het nie. “Daar is soveel wat ’n boer moet weet en in gedagte hou. Ek het baie by die koöperasie uitgevra oor wat om die diere te spuit of watter voer om te gee, maar ek het steeds ’n hele paar duur lesse aan die begin geleer.”

Dit is ’n groot verantwoordelikheid om aan die stuur van ’n boerdery te staan en dit het Lorraine ook ’n ruk gekos om daaraan gewoond te raak. “Dit het my ’n lang tyd gekos om besluite te begin neem en beheer te neem oor die beplanning van die boerdery. Ek het eintlik eendag besef ek beter dinge regruk toe die werkers na my toe kom en sê ek moet vir hulle duidelikheid gee oor wat om te doen.”

Een van die werkers, Jan Olyn, wat al ’n paar jaar saam met Flippie gewerk het, het Lorraine se belangrikste leermeester geword. “Sonder Jan sou ek dit nie gemaak het nie. Hy het die plaas geken, hy het die diere geken en hy het al ’n baie goeie idee gehad van wanneer Flippie wat gedoen het. Ek het so baie by hom geleer. En dit help verskriklik baie dat hy so handvaardig is. Hy kan amper alles regmaak.”

Benewens Jan het die boere in haar omgewing Lorraine baie ondersteun en haar pa het ook baie raad gegee. “Die belangrikste ding is om nie bang of skaam te wees om vrae en raad te vra nie,” sê Lorraine.

“Nee wat, dit is nie soveel anders om saam met mevrou Lorraine te werk ná meneer Flippie se dood nie. Ons werk goed saam en die boerdery loop mooi. Dit is wat Meneer sou wou gehad het,” sê mnr. Jan Olyn, wat al tien jaar saam met die De Bruins werk.

om ’n vroueboer te wees is nie grappies nie

Tog het dit vir haar lank gevoel asof sy haarself heeltyd moet bewys. “Die boerdery is nou maar ’n manswêreld en die Kalahari is ’n harde landskap met meer konserwatiewe mense. Om dus hier vrou-alleen te boer, is nie maklik nie. Dit was moeilik om tussen die mans ernstig opgeneem te word. En soms was vroue weer snaaks met my omdat ek eerder saam met die mans wou wees en oor boerdery gesels.

“Ek het probeer om deel te raak van die VLV, maar ek het gou gesien ek is nie ’n bakker en naaldwerker nie. Dit was asof ek nêrens ingepas het nie. Deesdae is dit baie beter. Hoewel veilings nog vir my moeilik is. Dit is asof afslaers net nie kan aanvaar my diere is net so goed soos die ander boere s’n nie.”

Mnr. Klaas Koper is ’n permanente werker op Leeupan en hy sê hier word hard maar rustig gewerk.

Sy koop die buurplaas

Die enigste ding wat dalk kan verklap dat ’n vrou aan stuur van sake is op Leeupan, is die feit dat die bulle name het. Daar is Queensland, Rambo, Pieter Kotze en Draadspringer. “Gerhard wou op ’n rugbytoer na Australië gaan, maar ek moes in daardie stadium ’n bul koop. Daar was nie geld oor vir sy toer nie en die bul word toe Queensland genoem. Dit is vir ons ’n herinnering aan die opofferings wat ons as gesin moes maak om die boerdery aan die gang te hou.

"My kinders moes baie prysgee en ek voel regtig sleg daaroor. Hulle het nie net hul pa verloor nie, hulle het eintlik ook hul ma verloor. Hulle kon nie getroos word deur ’n ma wanneer pa die taai besluite geneem het nie, want ek het daai besluite geneem. Ek kon ook nie altyd daar wees vir hulle nie, want die boerdery het al my aandag nodig gehad.”

Om ’n gemengde boerdery met Brahmane, Simbras, Dorpers en Boerbokke op Leeupan en op huurgrond naby Kuruman aan die gang te hou is reeds ’n groot storie. Om dit sedert 2013 in erge droogtetoestande te doen, kan enige boer knak. Maar Lorraine het nie net uitgehou nie, sy het die buurplaas bygekoop.

“Dit voel seker altyd soos ’n waagstuk om grond te koop, maar die plaas lê reg teen my en daar is pyplynwater wat my waterprobleme tot ’n groot mate gaan oplos. Ek was gelukkig om ’n gevestigde boerdery te kon oorneem. En Flippie was ’n goeie boer. Dit het my ’n fantastiese grondslag gegee. Maar ek wil daarop kan bou en uitbrei. Gerhard is ook nou op die plaas, wat baie help, maar dit beteken die grond moet vir ons albei sorg.”

Sy het Simmentalerbulle by Flippie se Brahmankoeie begin gebruik en werk stelselmatig na ’n Simbra-kudde toe. “Ek hou van die Simbras. Dit lyk asof hulle die gehardheid van die Brahman behou het en dit is belangrik in ons taai wêreld.”

Haar Dorpers hou sy skoon, hoewel sy met Wit Dorperramme begin eksperimenteer. En omdat haar veld baie bosse het, is bokke ’n goeie byvoeging tot die boerdery. “Ek het ’n klompie Kaapse Skilderbokke by my pa gekry, maar gou gesien hulle kort bietjie vleis. Nou sit ek Boerbokramme by.”

Daar was altyd Brahmane op die plaas toe haar man, Flippie, nog geboer het. “Daarom is dit lekker om hulle steeds hier te hê. Maar ek neig al hoe meer na Simbra-kruisings toe,” sê Lorraine.
So bang soos wat Lorraine eens vir beeste was, so lief is sy nou vir hulle. “Dit is my gunstelingdeel van die boerdery. Ek het gesien as jy mooi en rustig met jou diere werk, is hulle ook rustig. Dit is ’n belangrike ding wat ek verander het op die plaas en nou is ons beeste baie mak.”

Ekstra inkomste in droogtetyd

Die afgelope paar jaar se droogte het Lorraine geleer dat elke ekstra inkomste dit ’n bietjie makliker maak om aan te hou boer in sulke taai tye. Sy het ’n gastehuis en boskamp op Leeupan ingerig, wintermaande laat jag en elke dag ontbyt en aandete voorsien aan ’n buurplaas, waar al jare lank navorsing oor stokstertmeerkaaie gedoen word en die reeks, Meerkat Manor, geskiet is.

“Al daai bietjies-bietjies wat inkom, help dat jy nie skoolgeld uit jou boerdery hoef te betaal nie of diere moet verkoop om weer voer aan te koop nie. Dit help dat meer geld wat uit die boerdery kom, weer teruggesit kan word vir uitbreidings, opknappings of om jou diere in kondisie te hou. Dit beteken vinniger groei. En in ’n tyd wat boere eintlik baie seergemaak het, beteken dit jy gaan makliker uithou.”

Sedert sy die boerdery in 2013 oorgeneem het, was dit droë jare, vertel Lorraine. Vanjaar het sy weereens min reën gehad en daar het amper net suurgras opgekom. “Dit is ’n teken van hoe seer ons veld die afgelope paar jaar gekry het,” sê sy.

‘Ek kan ’n slag asemhaal’

Vier jaar gelede het die winterjag meer as net ’n paar rand vir Lorraine ingebring. “Johan (’n finansiële raadgewer van Pretoria) het saam met familie van my hier kom jag en ons het lekker gekuier en daarna kontak gehou, maar dit was als heel vriendskaplik.

“Ek het nie eintlik gedink ek sal weer iemand ontmoet met wie ek in ’n verhouding sal wil wees nie. Maar Johan het weer en weer plaas toe gekom en dit was regtig lekker om hom hier te hê. Hy en die kinders het ook van die begin af goeie vriende geword. Als het spontaan en natuurlik verder ontwikkel tot hy my verlede jaar gevra het of ek wil trou. En ek wil. Dit is nou die regte tyd.

“Ek moes eers die pad tot hier op my eie stap. Ek moes bewys ek kan dit doen. Ek moes eers my eie stempel op die boerdery afdruk en seker maak dit sal vir my en my kinders sorg. Dit beteken nie ek hoef nou niks verder te doen nie. Die buurplaas moet nog afbetaal word en daar is nog baie planne vir die toekoms, maar ek kan nou ’n slag effens asemhaal. Dit is ’n goeie plek om te wees.”

Lorraine laat haar bokooie in krale naby die huis lam en daarna hou sy die lammers vir ’n ruk op kraal wanneer die ooie bedags uitgaan veld toe. “Hulle loop teen die wind in en stap ver deur die dag en die lammers kan nie byhou as hulle klein is nie.”

‘My ma is ’n briljante boer’

Al voel Lorraine sy was nie altyd daar vir haar kinders ná haar man se dood nie, het Anelda en Gerhard groot bewondering vir dit wat hul ma alles op haar eie reggekry het. “En sy wás daar as daar groot goed gebeur het,” sê Anelda.

“Sy kon nie elke liewe geleentheid bywoon nie, maar ons het altyd verstaan waaroor dit gaan. Sy was deursigtig en eerlik en ons het geweet sy werk moer hard om dit vir ons almal beter te maak. Vir ons was dit dikwels sleg om te sien hoe hard sy so op haar eie gewerk het. Dit was sleg om dit nie vir háár ook beter te kon maak nie.”

Gerhard het nie die tipiese pa-seun-verhouding soos wat in die meeste boerderye die geval is nie, maar hy sê dit is nie iets wat hom pla nie. “Ek dink die belangrikste vir enige jong mens wat wil boer, is dat hulle by ’n goeie boer leer. Dit het ek beslis. My ma is ’n briljante boer. Sy het ’n uitstekende grondslag gelê waarop ons net kan voortbou.

“En, ja, dit is anders om deur die oë van ’n vrou na die boerdery te kyk. Sy werk baie mooier met haar diere as meeste mans. Daarom het ek ook geleer om ‘saffies’ (sagter) te werk met ons diere, want soos sy altyd sê, dis ons kinders daai.”