Volgens Sybokhaar Suid-Afrika se sewende en laaste sybokhaarverslag van die somerseisoen was die gemiddelde sybokhaarprys tydens die seisoen R377,76/kg, ’n toename van 54% teenoor die gemiddelde van die 2019-’20-somer. Die prys is behaal ondanks die versterking in die rand oor die afgelope paar maande.

Die gemiddelde prys vir die laaste en sewende veiling van die seisoen was R373,50/kg, ’n afname van 5% in randwaarde teenoor die vorige veiling.

Wat ’n seisoen

Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van House of Fibre, het in ’n aanlyn markverslag ná die veiling gesê dit was die beste seisoen wat hy nog beleef het.

Volgens Van der Vyver kan dié hoë pryse toegeskryf word aan die pogings wat die sybokhaarbedryf aangewend het om sy naam in ere te herstel ná die Peta-voorval.

Een van die oplossings waarmee die bedryf vorendag gekom het, was die Responsible Mohair Standard (RMS), met die eienaars van dié standaard wat van die grootste modehuise ter wêreld is.

“Skielik het mense van sybokhaar kennis geneem wat nog nooit eers daarvan gehoor het nie,” het Van der Vyver aan Landbouweekblad gesê.

Daar was vanjaar dus verskeie nuwelinge op die mark, wat nog nooit voorheen sybokhaar gebruik het nie.

“Dit was baie duidelik dat RMS-gesertifiseerde sybokhaar die mees gesogte sybokhaar was gedurende die seisoen, met die modehuise wat aktief meegeding het in die segment van die mark,” lui SSA se verslag.

Van der Vyver het gesê hoewel daar steeds ’n mark vir ongesertifiseerde sybokhaar sal wees, moedig hy boere aan om te sertifiseer aangesien daar ’n duidelike prysverskil tussen die lotte vir RMS- en nie-RMS-sybokhaar te sien was.

Nog ’n verrassing die seisoen was ’n toename in die volume van die skeersel van 13%, wat weens droogtetoestande nie verwag is nie.

Rekords

In net een kategorie is tydens die seisoen nie ’n wêreldrekordprys behaal nie. Al die rekords is verbeter tydens die sesde veiling van die seisoen.

Die seisoensrekordprys van R922/kg is betaal vir somerkleinbokkiehaar van mnre. Billy en Fred Colborne van Willowmore. Van der Vyver glo die wêreldrekordprys van R1 256,10/kg, wat in 2018 tydens die Ermenegildo Zegna-kompetisieveiling vir kleinbokkiehaar van die Van Hasseltboerdery betaal is, is nog veilig. ’n Wêreldrekordprys van R855/kg is betaal vir van die Colbornes se jongbokhaar, wat as winterkleinbokkiehaar aangebied is.

Nog ’n wêreldrekordprys van R790/kg is vir somerjongbokhaar van mnre. Jan en Jannie Lategan van Aberdeen betaal. Die Lategans het nog twee wêreldrekordpryse behaal vir hul grootbokhaar, wat as winterhaar aangebied is. Dit is verkoop teen onderskeidelik R769/kg en R600/kg.

Vooruitsig

Van der Vyver het gesê laer pryse word verwag in die komende winterseisoen, wat op 17 Augustus begin. In die somerseisoen is pryse betaal wat nie weerspieël wat die wêreld bereid is om te betaal nie.

Die vraag na sybokhaar is egter steeds daar, en hy glo dat boere steeds goeie pryse sal kry.

Van der Vyver het die modehuise bedank wat sybokhaar aankoop aangesien die goeie pryse nie op ’n beter tyd kon kom nie.

“Die een ongunstige aspek van die seisoen is die reën wat wegbly, en die boere wat swaar kry. Indien dit nie vir die oplewing in pryse was nie, het ons groot probleme gesien.”