Dit lyk of geluk by die (Peta)-ongeluk waar geword het en in die guns van sybokhaarbedryf tel. Dié bedryf kry nou navraag van mense wat nog nooit voorheen verbruikers was nie.

Volgens mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder by House of Fibre, die grootste makelaar van sybokhaar in Suid-Afrika, is dit die faktor wat tans ’n verskil maak. “Dit is eerstens ’n gunstige uitvloeisel van die Responsible Mohair Standard, wat vroeër vanjaar in die sybokhaarbedryf ingestel is, asook weens die publisiteit verbonde aan die People for the Ethical Treatment of animals- (Peta) skandaal in 2018.”

Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf het tans ’n baie goeie naam in die buiteland en Van der Vyver sê dit is hoofsaaklik te danke aan me. Lindsay Humphreys, hoofbestuurder by Sybokhaar Suid-Afrika (SSA), se goeie werk en dr. Mackie Hobson, die bedryf se veearts, omdat hy bekend is oorsee en ’n groot vertrouensrekord het.

“Die mense is baie beïndruk dat die bedryf al voor die Peta-skandaal ’n toegewyde veearts vir die bedryf aangestel het. Dit dui daarop dat ons integriteit het en ons diere so goed as moontlik probeer onderhou. Die RMS sal vanjaar ’n groot rol speel in die verkope van Suid-Afrikaanse sybokhaar. Die vooruitsigte is baie gunstig. Ek is wel gewoonlik die eerste een wat sê dat enigeen wat die sybokhaarbedryf meer as ses maande vooruit voorspel, ken maar net nie die bedryf nie. Maar wat tans ’n verskil maak is die vraag van mense wat nog nie vantevore sybokhaar gebruik het nie.”

Sertifiseringsproses

Daar was aan die einde van die jaar ’n tekort aan RMS-haar en volgens Van der Vyver verwag hy dat dit sal oorvloei na die nuwe seisoen. “Die struikelblok is dat ons die nuwe seisoen gaan afskop met boere wat as RMS gesertifiseer is en dié wat nie-volhoubare haar produseer.”

Sybokhaar Suid-Afrika se standaard sal voorts nie meer geldig wees nie, en boere sal volgens die internasionale RMS-standaard gesertifiseer moet word.

Hy sê die sertifisering van Suid-Afrika se sybokhaarboere is tans halfpad, en met die aanvang van die nuwe seisoen sal die meeste nog nie getoets wees nie, wat beteken daar sal ’n groot hoeveelheid haar op die mark wees waarvoor daar tans ’n kleiner vraag is.

“Die fout wat ek egter aan die begin gemaak het, en ek erken dit, is om te sê dat RMS-haar nie gaan verkoop nie. Dit is nie so nie; daar sal ’n vraag wees.”

Hy verduidelik dat die res van die wêreld se haar, wat tans nie gesertifiseer word nie, ook tog ’n plek op die mark moet kry, en Suid-Afrika se ongesertifiseerde skeersel sal steeds beter wees as daardie haar.

SSA werk tans saam met ander sybokhaarproduserende streke om ander lande aan boord te kry om die RMS-ouditstelsel te gebruik. Dit sluit lande soos Australië, Engeland en Lesotho in. Hy sê indien Lesotho aan boord kom, kan hulle ook ’n groot rol speel.

“Daar is die indruk dat Lesotho ’n struikelblok sal wees, want RMS is ’n hindernis, maar dit sal nie noodwendig ’n groter probleem wees as enige ander plek nie. Lesotho se kwekersvereniging is baie gestruktureer, die boere skeer by ’n sentrale punt met goeie geriewe en dit is baie moontlik om Lesotho ook aan boord te kry.”

Gehalte bly hoog

Een van die struikelblokke is die knellende droogte in die meeste produksiegebiede, wat die Wes-, Oos- en Noord-Kaap insluit, en volgens Van der Vyver sal dit die grootste enkele uitwerking op produksie hê. “Ons boere is op hul knieë en ons sal milde reën moet kry om verligting te bring.”

Die gehalte van die sybokhaar wat gelewer word, is egter steeds verbasend goed ondanks die droogte. “Ons behaal steeds rekordpryse en jy sal dit nie behaal as jy nie ’n goeie baal sybokhaar kry nie.”

Volgens Van der Vyver is die huidige vraag op die mark baie gevoelig vir fynheid met aansienlike prysverskille tussen mikrons.

Die vraag na lewende diere is ook goed en dit is tans maklik om diere te verkoop. Pryse styg egter nie noodwendig nie omdat daar tans klein hoeveelhede diere verhandel word. Hy sê die vraag is daar en indien dit goed reën, sal daar ’n tekort wees, aangesien die droogte tans die grootste invloed op die vraag na diere het.

Daar is tans ook ’n hernude vraag na bokvleis, en boere sal nie sukkel om van bokke ontslae te raak nie.