Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van sybokhaar by CMW, sê die prys van sybokhaar is nie so uitgelewer aan die wisselkoers as wat die geval met ander natuurlike vesels soos wol is nie, grootliks omdat bokhaar hoofsaaklik plaaslik verwerk word. “Op langer termyn is daar wel ’n invloed, maar kleiner skommelings in die rand het min invloed.”

Die vraag na sybokhaar is steeds baie goed, ten spyte van druk deur diereregte-organisasies vroeër vanjaar. “Die bedryf is sterk daarby betrokke om die skade te beperk en markvlakke kon moontlik selfs hoër gewees het as daar nie aanslae was nie. In die omstandighede presteer die sybokhaarbedryf egter vanjaar uitsonderlik goed.”

Mnr. Riaan Marais, media en-kommunikasiebestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika, sê die markvolumes van sybokhaar stem tans baie ooreen met die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

“Ons sien ’n volume van sowat 2,4 miljoen tot 2,5 miljoen kg, wat min of meer dieselfde is as in September 2017. Terselfdertyd het die prys egter van R202,34 per kg tot R292,27 per kg gestyg. Dit is egter nie net toe te skryf aan ’n groter aptyt vir sybokhaar nie, maar ook aan ’n swakker ekonomie. Uitvoer bedra reeds sowat R1,5 miljard vir die jaar, met ’n aantal veilings wat nog voorlê.” 

Marais sê die droogte wat die bedryf vanjaar ’n groot knou toegedien het, het ’n onverwagte uitwerking gehad met verskeie sybokhaarboere wat ’n hoër lampersentasie in hul Angorakuddes gesien het.

“Verskeie boere het lampersentasies van tussen 140 tot 150 in hul kuddes aangemeld. Ons vermoed die rede hiervoor is dat verskeie boere gedurende die droogte voer moes inkoop en dat die hoër gehalte voer ’n rol kon speel. Die bedryf hou dus duim vas dat die droogte nou op ’n einde kan wees en dat daar ’n sterk aanvraag na lammers is van boere wat weer kuddes wil opbou.”

Daar is egter gebiede wat steeds in die droogte se greep is. “Oudtshoorn en omstreke veral trek nog swaar, maar ons hoop dat daar binnekort goeie reën sal val.”

Volhoubaarheid is die wagwoord

Van der Vyver sê die ander groot kwessie vir die sybokhaarbedryf, afgesien van die droogte, is volhoubaarheid.

“Dit het uiters belangrik geword vir die bedryf om te kan bewys dat sy praktyke volhoubaar is. Uitvoerders wil by makelaars weet of boere aan die volhoubaarhiedsriglyne voldoen. Hoewel die bedryf reeds meer as ’n dekade gelede hierdie riglyne ingestel het, was daar minder voldoen hieraan omdat dit nie aan ’n prys gekoppel was nie.

"Ons sien egter al hoe meer dat boere wat kan bewys dat hulle aan hierdie riglyne voldoen, ’n beter prys vir hul produk ontvang. Dit is belangrik dat elke boer wat sybokhaar produseer, aan hierdie riglyne voldoen, aangesien slegs ’n kilogram wat nie daaraan voldoen nie, ’n hele besending van topgehalte se prys kan afbring.”

Volgens Van der Vyver behoort die bedryf teen volgende jaar heeltemal gereed te wees om te verseker dat elke skeersel wel vir volhoubaarheid getoets kan word.

“Die grootte van die bedryf het sy voordele en nadele: Ons is klein genoeg dat aanslae die bedryf ’n groot knou kan toedien, maar terselfdertyd is ons ook klein genoeg dat ons die nodige toetse sal kan doen om te verseker dat die meeste van ons sybokhaar wel volhoubaar geproduseer sal wees.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.