Die trop Dohne-Merino’s skuil by mekaar in die tierende wind wat die Karoo-winterkoue deur murg en been dryf. Eenkant sit Harry, ’n Maluti-veewaghond. Die wind vleg deur sy dik pels, maar hy soek nie skuiling nie. Dié skape is sy familie, hy pas hulle op.

Mnr. Dave Stern is sy eienaar en veeboer op die plaas Quaggasvlei in die distrik Sneeuberg naby Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap. Hy sê die tien jaar oue Harry “is sweerlik die oudste werkende Maluti-veewaghond in Suid-Afrika.” Harry se linkeroog is rooi – dit lyk na ’n ou besering.

“Ja,” beaam Stern se vrou, Maryke, “hy het die besering opgedoen in ’n geveg met ’n bobbejaan.” Die Maluti val slegs die diere aan wat ondanks die hond se weghoupogings steeds op die aanval bly, verduidelik Stern. Die bobbejaan, wat ondanks dié waarskuwings aanhou naderkom het, het die geveg nie oorleef nie.

’n Entjie verder van Harry lê Zinzi, nóg ’n Maluti-veewaghond. Jy sien haar eers raak as jy byna op die hond trap, só is sy in die gras en grond gekamoefleer. Dit is opvallend hoe jy as vreemdeling nie vir hierdie twee Maluti’s bestaan nie – solank jy wegbly van hul skaapfamilie.

Hulle reageer wel op Stern, en in ’n mindere mate op Maryke. Een van die redes daarvoor is dat Stern elke dag die honde se kos na hulle in die veld bring en dat Maryke hom dikwels vergesel. Die hoofrede vir hierdie soort gedrag is dat die Maluti as babahondjie (tussen ses en agt weke ná geboorte) by ’n ooi en haar lam(mers) geplaas word.

Skape word dus ingeprent as die hondjie se familie, en nie mense nie. Die hondjie leer ook sy “skaapmaniere” by die ooi. “Deur hierdie prosesse word skape gevestig as die Maluti se familie, wat hy sal beskerm. En omdat ek elke dag kos gee, word my posisie as hoofleier van die hele pak bevestig,” verduidelik Stern.

Sy veeverliese staan deesdae op 3% en dít, beklemtoon Stern, is vanweë natuurlike oorsake. Dit klink ongelooflik dat byna géén van sy skape (Dohne-Merino’s) wat deur Maluti’s op die Karooplaas van 5 000 ha beskerm word, deur ’n roofdier gebuit is nie.

Mnre. Matthew Berry (links) en Dave Stern, twee van die grootste Malutikenners in Suid-Afrika.

Roofdiere se patroon verbreek

“Die Maluti is inderdaad só doeltreffend,” sê Stern en kyk na mnr. Matthew Berry, honde-opleier en dieregedragkenner van KwaZulu-Natal, wat ook op die dag van Landbouweekblad se besoek op die plaas was.

“Laat Matthew maar vir jou vertel hoekom,” sê Stern, “hý het die Maluti-veewaghond uit Lesotho na Suid-Afrika gebring. “Dié jagpatroon van die roofdier is: Oriëntering (ten opsigte van homself en die prooi), blik vasgenael op die prooi, bekruip, jaag, gryp, byt, doodbyt, uitmekaarskeur, opvreet.”

Stern sê die Maluti-veewaghond word opgelei om bogenoemde patroon aanhoudend te verbreek. “Die Maluti storm nie dadelik nader wanneer die bedreiging nader kom nie, maar loop heen en weer tussen die roofdier en die skaap. Dít het tot gevolg dat die roofdier oplaas sal wegloop omdat hy nie sy gewone jagpatroon kan volg nie.”

Berry val in. “Die roofdier, wat ondanks die veewaghond se jagonderbreking steeds nader kom, sal deur die Maluti afgekeer word. Eers wanneer die roofdier verby hom probeer kom, sal die Maluti tot die aanval oorgaan.” Roofdiere vermy dié soort konfrontasies, voeg Stern by.

“Instinktief, want indien die roofdier beserings tydens ’n geveg sou opdoen, kan hy nie meer jag nie en sal gevolglik ’n hongerdood sterf. Bobbejane het nie dié soort instink nie, dié dat hulle hulle in die Maluti vasloop.” ’n Rooikat het eenkeer ook dié fout op Stern se plaas gemaak en met sy lewe daarvoor geboet.

Onwrikbaar lojaal. Harry het as babahond op Quaggasvlei aangekom en het ’n noue vertrouensband met sy eienaar, maar keer altyd terug na sy skaapfamilie.

‘Nie ’n robot nie’

Voor die Maluti’s het Stern Anatoliese honde gehad. Vroeg in 2008 het dié honde egter weggedwaal en teen Julie, Augustus van dieselfde jaar was sy veeverliese weens roofdiere 35%. Teen daardie tyd het Stern al gehoor hoe uitstekend die Maluti’s as veewaghonde werk en het toe na Berry in KwaZulu-Natal gery om sy eerste Maluti-babahondjie te kry.

Hy is Max gedoop en is as deel van die opleiding by ’n ooi en haar lammers geplaas. Stern het die ander opleidingsriglyne ook nougeset gevolg. “ ’n Hond is nie ’n robot wat jy net kan aanskakel en verwag om te presteer nie,” verduidelik hy.

“Jy moet saam met hom, veral gedurende die eerste 18 maande, deur die opleiding gaan. Jy moet onder meer geleidelik ’n begrip by die hond vestig jy is leier van die hele trop. Vrees- en/of intimidasietegnieke sal nié werk nie.”

Die vertrouensband tussen Harry en Stern by die skape in die veld het inderdaad opgeval. Harry het kort-kort na Stern aangedraf gekom en dan na sy “skaapfamilie” teruggekeer. Harry het kort ná Max as babahondjie op Quaggasvlei aangekom. Max is intussen dood.

Stern beklemtoon dat die Maluti-veewaghond die beste kos, maar nié vleis nie, gevoer moet word. Laasgenoemde is om te voorkom dat hy aan die jag raak. ’n Vleislose dieet het volgens Stern ook tot gevolg dat die Maluti nié die vleis van ’n roofdier, wat hy in ’n geveg vrekgemaak het, sal vreet nie.

Moet ook nie ’n selfvoerder in die veld sit nie, dit maak die hond te onafhanklik, waarsku Stern. “En stel hom bloot aan die ander diere op die plaas – beeste, bokke en perde. Een van my Maluti’s het nie die vaagste benul gehad wat ’n bok is nie.” Berry luister kopknikkend terwyl Stern praat. Die een se Maluti-kennis is so goed soos dié van die ander.

“Ja,” beaam Berry, “Stern het die pionierpad saam met my gestap. Benewens my, is hy die enigste ander Maluti-hondeteler in Suider-Afrika.”

Mev. Maryke en mnr. Dave Stern by Harry. Omdat Dave elke dag die honde kos gee, word hy outomaties as tropleier geag, maar die honde sal ook in ’n mindere mate op Maryke reageer omdat sy af en toe saam kom. Ander mense word geïgnoreer.

Voorkoms nie belangrik

Berry skets kortliks die pad wat hom op die pad van die Maluti-veewaghond geplaas het: “In 2003, 2004 het ek as veeboer en honde-opleier begin soek na ’n veewaghond met beter eienskappe as die Anatoliese hond. Omdat ek vroeër, tydens my studie in dieregedrag, uitgebreide kennis oor die inheemse Africanis opgedoen het, het ek na die geskikte hond uit die Africanis-genepoel begin soek.”

Oplaas het hy in Lesotho se Malutiberge op die hond, ’n afstammeling van die Africanis, afgekom. Omdat dit ook ’n sterk, gehoorsame hond is wat maklik gedissiplineer kan word, het Berry gereken dié dier sou goeie diens as veewaghond in Suid-Afrika kon doen.

“Dié honde was reeds deel van die pastorale stelsel, maar omdat hulle saam met die veewagters beweeg en nie self vee opgepas het nie, was daaropvolgende seleksieprosesse vir die veewaghond-genepoel nodig.

“Die belangrikste gemene deler vir seleksie is die gedrag van die hond, nie voorkoms nie. Gevolglik is die Maluti se gedrag vandag ongeveer dieselfde, maar anatomies is geen twee honde identies nie.

“Die een lyk amper soos ’n boerboel, die ander soos ’n kleiner weergawe van ’n St. Bernard, die een is hoog op die pote en die ander weer korter. Maar hul geaardhede stem baie ooreen: Ongeïnteresseerd in mense wat hulle nie ken nie, outomaties ondergeskik aan hul ‘mensebaas’ en beskermend teenoor hul skaapfamilie.

“Ons trek nou by die vyfde geslag Maluti-veewaghond,” sê Berry, “dis die brein, die gedrag wat tel, dít moet reg wees om ’n doeltreffende veewaghond te wees. Die voorkoms skeel nie.” Benewens skape kan die Maluti-veewaghond beeste, bokke of perde ewe suksesvol help oppas. Alles hang daarvan af waar hulle as babahonde uitgeplaas word.

Ook gebruik teen renosterstropery

Volgens Berry het die Maluti selfs al sy staal teen veediewe getoon en word sowat 30 Maluti’s ook deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) in die Wes- en Oos-Kaap aangewend om renosterstropery te help hokslaan.

As gevolg van sekerheidsredes wou hy nie verder daaroor uitbrei nie, maar verduidelik wel een aspek: “Die Maluti tel maklik ’n vreemde of onbekende reuk op en sal nader hardloop om ondersoek in te stel. Hierdie honde kan kilometers op ’n slag hardloop. Selfs wanneer sy mensebaas nader kom en hy tel die reuk op, sal die Maluti ook nader hardloop om seker te maak dit is hy.”

Stern beaam dit. “Ons het Harry met ’n GPS getoets – in een aand het hy 20 km in ’n 20 ha-kamp geklok.” Stern pas, net soos sy pa, mnr. Douglas Stern, van die plaas Rietpoort naby Nieu-Bethesda, die hoëdruk, vinnig wisselende weidingskampstelsel vir sy 1 600 Dohne-Merino’s en 70 Tuli-beeste toe.

(Sien ook “Kampdrade en veldbestuur my droogteversekering”, LBW, 20 Julie 2018.)

Nie net maak ’n weidingskampstelsel die bewakingsrol van die Maluti makliker nie, maar dit werk ook gedurige veldverbetering in die hand, sê Stern.

“Dit beteken beter beweibare plantegroei. ’n Gebrek aan goeie voedingsbronne speel ’n groot rol in veevrektes – veral by lammertjies. Ek het my veldbestuurplan rondom my vee se voedingsbehoeftes aangepas. ’n Ooi met ’n lam het, nes ’n vrou met ’n baba, die beste voeding nodig.”

Benewens die beste voeding het die ooi en haar lammers ook spesiale beskerming nodig in hierdie kwesbare tydperk, sê Stern.

“Daarom bring ons die lammers en ooie nader aan die huis, want lammers is hoog op die roofdier- én bobbejaanspyskaart.

‘Die Maluti’s werk uitstekend, maar jy kan nie net alles aan die honde oorlaat nie; jy moet jou kant óók bring.’

Jy moet besef die Maluti’s is één van die maniere om roofdiere af te weer, dit is nié die enigste instrument nie.”

Stern waarsku ook dat ’n boer nie voor die voet roofdiere die skuld vir vrektes moet gee nie. Stel vas hoekom die skaap of lam gevrek het, kýk of daar bytmerke is, want dalk het die dier ’n giftige plant gevreet. Jy móét weet wat op jou plaas aangaan.”

Regte opleiding belangrik

Nét so moet ’n veeboer presies weet hoe om die Maluti-veewaghond op te lei en te behandel voor hy met die dier huis toe kan gaan, voeg Stern by.

“Voornemende kopers moet hom of haar eers deeglik vergewis van die opleiding van die hond. Vroeër jare was daar tot 20 voornemende eienaars wat vir opleiding gekom het. Daar is nie sprake van ’n hondjie net in ’n krat plaas en dit na die koper stuur nie.”

Nóg ’n interessante aspek is dat teling slegs op aanvraag geskied. “Met ander woorde, ons teel nie en soek dan kopers nie. Voornemende kopers kom op ’n waglys,” sê Stern. Indien al die hondjies in ’n betrokke werpsel nie verkoop word nie, hou Stern die hondjies en lei hulle ook as veewaghonde op.

Nuwe eienaars moet ’n onderneming onderteken dat hulle hul Maluti op vier of vyf maande sal laat steriliseer. “Hormone gooi ’n werkende hond van koers af, want sodra ’n teef op hitte kom, dryf haar instink haar daartoe om ’n reun te vind. Reuns wil ook net by die teef uitkom,” verduidelik Stern.

Sterilisering is seker ook nodig om verkeerde teling te voorkom? “Ja,” antwoord Berry, “daar was enkele pogings. Dit het nie uitgewerk nie. Jy móét met die regte genepoel werk en om dit te kan doen, het jy deeglike kennis én ondervinding nodig.

“Onthou, wanneer jy ’n hond in die veld sit, sit jy met ’n ‘roofdier’ wat sy veefamilie oppas in die roofdier se plek. Dié hond moet die nodige eienskappe hê om sy werk goed te kan doen. Roofdiere se habitat, en dus hul jagveld, krimp – gevolglik word die roofdierdruk op vee al hoe groter.”

Die beste eienskap van die Maluti, sê Berry, is sy deurlopende waaksaamheid – hy sal nie sy “vee-familie” verlaat nie.

“Die naasbeste eienskap is sy trou en voorspelbare karakter – hy sal nie ander diere beseer of ander kleinwild jag nie. Derdens is hy wel aggressief genoeg om die roofdier, wat deur sy afkeerpogings breek, aan te val.

“Om alles te kroon, is die Maluti rateltaai,” voeg Berry by. Die Malutihonde laat hul skaapfamilie nooit uit die oog nie. En neem nou in ag dat Harry al 10 jaar oud is, dan praat jy in hondejare van ’n 70-jarige wat nog sy man teen alle natuurelemente kan staan om sy werk ordentlik te doen.

Navrae: Mnr. Dave Stern, e-pos, dave@blueskysa.com; tel. 049 841 1250; sel 082 770 5960; mnr. Matthew Berry, e-pos: boavida@saol.com; sel 082 869 9366.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.