Die navorsingspan van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling skryf in sy verslag oor belangrike kwessies waarop die komitee moet konsentreer, dat Suid-Afrika ’n goed gekoördineerde agentskap vir voedselsekuriteit en -veiligheid kort.

Die afgelope paar jaar het uitermatige weerstoestande weens klimaatsverandering voorgekom, wat gepaardgegaan het met die uitbreking van verwoestende plant- en dieresiektes. Die navorsingspan skryf dat sekere siektes voorkom kan word met strenger waarneming, veral rakende die sanitêre en fitosanitêre maatreëls, by die land se toegangspoorte.

Van 2012 tot 2018 was daar ’n merkbare styging in die uitbreking van diere- en plantsiektes soos brucellose, bek-en-klouseer, Afrika-perdesiekte, voëlgriep, Afrika-varkpes, slenkdalkoors, listeriose, salmonella, Oosterse vrugtevlieg en die Panama-piesangsiekte.

KAPASITEIT

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het aan die portefeuljekomitee erken dat die veeartsenydienste, veral ten opsigte van personeel, nie so sterk is soos dit moet wees nie. “Om hierdie rede ondersoek ons hoe dieregesondheidtegnici gebruik en werklose gegradueerdes in die veeartsenyberoepe ingebring kan word om kapasiteit te bou.”

Sy het gesê dat hoewel geld vir veeartsenydienste aan provinsies bewillig word, word die geld nie altyd vir hierdie dienste aangewend word nie. Sy het in ’n vergadering met die provinsiale LUR’e klem daarop gelê dat geld aangewend moet word vir waarvoor dit toegestaan is.

In die vorige mediumtermyn-bestedingsraamwerk was daar sprake dat ’n oorhoofse gesondheidsbenadering die lig sal sien, maar niks het daarvan gekom nie. Verskeie sektore, insluitend die departemente van gesondheid, landbou, bosbou, visserye en omgewingsake, sou saamwerk om op ’n stelselmatige en ingeligte manier die beheer en voorkoming van belangrike soönotiese siektes te verbeter.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.