Mnr. Petrus van Heerden van die plaas Kliprivier by Rankinspas het die klag teen twee van sy buurmanne aanhangig gemaak. Hy beweer dat hulle nalatig opgetree het deur nie billike stappe te neem om die verspreiding van dieresiektes te voorkom nie.

Landbouweekblad kon nog nie bevestig of die beskuldigdes al gewaarsku is om in die hof te verskyn of in hegtenis geneem is nie. Albei beskuldigdes is bekende wildboere van Alma en bekendes in die wildbedryf.

Van Heerden se klag volg op ’n soortgelyke saak in Noordwes. Mnre. Theunis Marthinus Petrus Snyman, Werner Jan Stieger, Ronnie Ras en Dirk Zillem Venter het verlede jaar in die streekhof op Swartruggens verskyn op aanklag dat hulle dat artikel 11 (1) van die Wet op Dieregesondheid oortree het. Dit volg nadat hul buurman sedert 2006 al meer as 110 beeste weens snotsiekte verloor het. 

Miljoene rande verloor oor 25 jaar

Van Heerden sê die wiel is besig om teen wildebeeseienaars te draai nadat beesboere die afgelope 25 jaar miljoene rande se weens snotsiekte gely het sonder enige vergoeding of hulp.

Snotsiekte is ’n virussiekte wat deur blou- en swartwildebeeste gedra word. Wanneer beeste dit kry, is daar geen behandeling nie.

Hoewel daar ’n entstof teen die siekte ontwikkel is, is dit nie tans in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die enigste beskermingsmaatreël wat tans bestaan, is om ’n buffersone van verkieslik 1 kilometer, tussen beeste en wildebeeste te handhaaf.

Van Heerden beskryf die vervolgingsgesag se klagte teen wildboere as ’n welkome verligting vir die druk wat die siekte op beeskuddes plaas sedert snotsiektebeheer in die 1990's afgeskaf is. Die siekte is onlangs weer op die direktoraat dieregesondheid se lys van aanmeldbare siektes geplaas.