Mnr. Ben Raath, voorsitter van die Tuli-beestelersgenootskap, sê die ras ervaar die afgelope vyf jaar ongekende groei, want vir die boer gaan dit oor rand en sent en die Tuli is ’n gewilde keuse met die oog op winsgewende vleisproduksie.

Volgens die jaarlikse Logix-verslag, wat deur dr. Helena Theron opgestel word, het die gemiddelde koeiwaarde sedert die vorige boekjaar met 20 indekspunte verbeter. Dit beteken die lede selekteer vir die regte eienskappe en in ’n regte balans.

Van die 25 telersgenootskappe wat by Stamboek geregistreer is, het die Tuli-genootskap die agtste meeste lede (45 kuddes) en die sewende meeste geregistreerde diere (7 519 beeste bestaande uit 1 927 bulle en 5 592 vroulike diere).

Die eerste groepie Tuli-beeste is in 1976 vanuit Zimbabwe ingevoer. In 1987 is ’n informele klub met wyle mnr. Jan Mouton van Vrede as voorsitter gestig. Die ras het in 1995 amptelike erkenning van Stamboek as ’n ontwikkelende ras gekry. Mouton was die eerste voorsitter van die genootskap en is later deur mnre. Stephan Weltz, Russell Clarke, Johan van Rijswijk, Werner Gouws, Callie Barnard en Raath opgevolg.

Die Tuli het oor ’n tydperk van sowat 2 000 jaar in klipharde Suider-Afrikaanse toestande aangepas en ’n natuurlike weerstand teen in- en uitwendige parasiete en siektes ontwikkel. Die beeste handhaaf hul kondisie puik op die veld met net die minimum byvoeding; vandaar die hoë vrugbaarheid. Hulle het ’n uitstekende temperament, kalf maklik en gereeld, produseer genoeg melk vir hul kalwers en verseker só ’n mededingende speenkalf. Die Tuli is sterk in aanvraag by voerkrale en vaar ewe goed in ’n osstelsel.