Die impak wat uitheemse en indringersoorte op ekologiese stelsels kan hê, is omvattend – slegs die nadele van habitatvernietiging is erger. Uitheemse diere kan siektes versprei, oeste vernietig, vee en visse parasiteer en met inheemse soorte meeding om kos en habitatte.

In Suid-Afrika is tien uitheemse voëlsoorte wat as indringers beskou kan word. Dit is die Asiatiese patrys, Europese spreeu, gryskoppie, huiskraai, huismossie, Indiese spreeu, mak pou, ringnekparkiet, tuinduif en natuurlik die groenkopeend. Die Europese spreeu en gryskoppie is deur Cecil John Rhodes na die Kaap ingevoer, terwyl ’n verdere vier voëlsoorte ook doelbewus in ander dele van Suid-Afrika gevestig is.

Drie van die soorte is ornamenteel aangehou, maar het uit aanhouding ontsnap en suksesvol aangepas in natuurlike en mensgemaakte omgewings. Die huiskraai het waar- skynlik per boot hier aangeland. Groenkopeende (Anas platyrhynchos) is inheems aan die Noordelike Halfrond en is oorspronklik na Suid-Afrika gebring om as mak eende aangehou te word.

Baie van hierdie eende het hulle egter in ’n verskeidenheid vleilande en mensgemaakte habitatte, soos rioolplase, tuisgemaak. Dié selfonderhoudende wilde eendbevolkings kom veral in die Wes-Kaap en Gauteng voor, hoewel sulke bevolkings ook soms in ander gebiede aangemeld word.

Hulle is uiters aanpasbaar en kan ook by strandmere voorkom. Die eende kan kwaai versteuring deur mense verdra. Hulle benut plantaardige materiaal en slakke, paddas en krappe.

Suksesvolle broeiers

Die mannetjie word gekenmerk deur ’n geel bek en ’n bottelgroen kop en nek. Die bors is oorwegend kastaiingbruin en word deur ’n wit band van die nek geskei. Die stertvere is tipies gekrul. Die wyfie is bruin en oor die algemeen gestreep, met ’n grysgeel bek en perserige vere op die vlerk.

Groenkopeende is veral ’n probleem omdat hulle met inheemse eende verbaster en het al oor die wêreld heen die genetiese integriteit van inheemse eende benadeel. Nog ’n probleem is dat ’n baie hoë reproduksiekoers by hierdie eende aangemeld word – broeisels van tot 18 kleintjies is nie uitsonderlik nie.

In Suid-Afrika is dit is veral die bevolkings van geelbekeende, Kaapse slopeende en in ’n mindere mate swarteende wat nadelig deur hierdie verbastering beïnvloed word. Dit is ook welbekend dat die groenkopeendmannetjies tydens broeityd in die lente nie nee vir ’n antwoord vat nie!

Hierdie toestand word vererger omdat die kleintjies vrugbaar is en sodoende die bevolking van die inheemse eende nog verder kan verbaster. Buite seisoen is geelbekeende nomadies en dit is al aangemeld dat hierdie eende tussen die Wes-Kaap en Zambië kan rondbeweeg.

Dit kan meebring dat die hele Suider-Afrikaanse bevolking van geelbekeende verbaster word. Die groenkopeende ding ook met die inheemse eende mee om dieselfde kos en broeiplekke. Weens hul aggressiewe gedrag kan die groenkopeende maklik Suid-Afrika se inheemse eende uit ’n gebied verdryf.

Bestryding

Die bestryding van groenkopeende is opspraakwekkend en lei gereeld tot debatte wat baie emosioneel kan raak. Aan die een kant is daar groepe wat die uitwissing van die eende aanmoedig deur hulle te skiet of te vergiftig. Diereregte-organisasies staan dit uit die aard van die saak teen.

In die verlede is opsigtelike bekampingsmaatreëls met groot openbare teenkanting ontvang. Wetgewing stel dit duidelik dat niemand groenkopeende mag invoer of met hulle handel dryf of teel nie. Die eende moet ook bestuur word as deel van ’n indringerbestrydingsplan.

As ’n indringerbestrydingsplan in ’n streek van krag is, mag niemand groenkopeende sonder ’n permit aanhou nie. Pogings om ’n nasionale bekampingsprogram vir groenkopeende te vestig het weens openbare druk skipbreuk gelei. BirdLife Suid-Afrika ondersteun wél ’n genetiese navorsingstudie wat kyk na moontlike basters in die omgewing van Barberspan, die Rietfontein-natuurreservaat in Gauteng en ook gebiede in en om Kaapstad.

Die projek word deur dr. Jean Mollett van die Universiteit van Witwatersrand gelei, met die samewerking van drr. Craig Symes en Chevonne Reynolds. Watter bydrae kan gewone mense lewer om ’n oplossing vir die probleem te vind? Die mees praktiese benadering is om by iSpot te registreer by www.ispot.org.za.

Digitale foto’s kan dan van die eende geneem word waar hulle ook al aangetref word. Dit is ook belangrik dat die datum en spesifieke plek, verkieslik met GPS-koördinate, aangeteken word. Die inligting en foto’s kan dan op die iSpot-webwerf gelaai word. Wetenskaplikes verwerk die inligting en sal, indien nodig, ’n span na die plek stuur om die probleem onder die loep te neem.

Inligting oor die teenwoordigheid van groenkopeende kan ook by provinsiale natuurbewaringskantore aangemeld word. Om groenkopeende te skiet of maar te laat aanteel, sal nog lank tot roerende debatte lei. Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.