Dr. Michael Bradfield, hoof- uitvoerende beampte van Wagyu Suid-Afrika, sê die karkas van 490 kg wat op die WagyuX-verhandelingsplatform aangebied is, is vir R40 425 aan Palman Foods in die Wes-Kaap verkoop. Dit was dus steeds ’n goeie bedrag. Prima snitte behaal R1 500-R3 000 per kilogram in Suid-Afrika, wat min is teenoor die sowat R15 000 per kilogram wat oorsee betaal word.

“Boere maak goeie wins as hulle ’n minimum van R65 per kilogram kry, wat tans die geval is. Dit is egter nie waar hulle in die volgende dekade met Wagyu-karkasse wil wees nie.

“Hierdie vleis raak ál meer in kettingwinkels beskikbaar, veral hamburgerpatties. Prima snitte soos kruisskyf, lendeskyf en riboog verkoop vir R700-R1 500 per kilogram.

“Die uitvoermark bly egter moeilik. Wagyu-produkte is verlede jaar na die Midde-Ooste uitgevoer, maar dit is deur die Covid-19-pandemie gekortwiek. ’n Besending Wagyu-vleis is weer in Januarie na die Ooste uitgevoer sodat dié partye die Suid-Afrikaanse produk kan evalueer. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die internasionale mark vir ons oopgaan,” sê Bradfield.

China koop tans weens politieke woelinge minder Wagyu-vleis in Australië. Gevolglik kry Suid-Afrika feitlik daagliks navrae van China.

Mnr. Johan Strydom van Prime Wagyu wat by die WagyuX-verhandelingsplatform betrokke is, sê baie Suid-Afrikaanse verbruikers besef nog nie die waarde van voorkwartsnitte en marmering nie. Hulle is gewoond aan snitte soos filet, T-been, kruis- en lendeskyf, maar ken nie die minstens vyftien voorkwartsnitte soos flat iron, oyster blade en chuck role nie.

“Covid-19 het die lewe vir ons moeiliker gemaak, maar ons het die afgelope jaar groot vordering gemaak,” sê Strydom.