’n Bonsmarabulletjie wat 474 kg geweeg het, is as die grootkampioen aangewys met ’n Boranbulletjie van 461 kg as reserwegrootkampieon.

voerkraal, voerkraalkompetisie
Die Bonsmarabulletjie wat met die beoordeling van lewende diere as die grootkampioen aangewys is. Die reserwegrootkampioen, ’n Boranbulletjie, staan links. Foto: Gerrit Bezuidenhout

Die beoordelaars was mnre. Johan Berg, senior beoordelaar en bestuurder van Obaro se landbouadvies-afdeling, Joseph Tanki Mokoena, voerkraalprojekbestuurder van Obaro, en Ampie de Jager, bestuursagent van Voermol.

Die beoordeling, wat deur amper 600 kykers aanlyn gevolg is, het wye belangstelling uitgelok. Boere wat kalwers aan die projek geskenk het, is genooi om te sien hoe hulle diere in voerkraalomstandighede presteer het.

Vir prof. Eddie Webb, vise-dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe, is die kompetisie die ideale geleentheid vir die akademie en die veebedryf om nader aan mekaar te beweeg. “Die navorsing en projekte wat deur ’n instelling uitgevoer word, is soms nie heeltemal in lyn met wat ’n bedryf verlang nie. Deur ’n kompetisie soos hierdie word die akademie en die veebedryf nader aan mekaar gebring en kan die bedryf regstreeks vir ons sê waar sy fokuspunte lê. Dit beteken dat ons deur ons navorsing werklike oplossings vir die bedryf kan skep wat voordeel vir die hele vee-waardeketting inhou.”

Die kompetisie, wat in Februarie vanjaar begin het, was nie sonder probleme nie, sê Webb. “Eers was daar die uitbreking van bek-en-klouseer wat die verskuiwing van diere verhinder het en wat die kompetisie kon knou, en daarna het die Covid-19-pandemie en die inperking ook ontwrigting gebring. Desondanks het die studente deurgaans hul kant gebring en uiteindelik diere van hoë gehalte gelewer.”

Praktiese ondervinding

Me. Amelia du Preez, lektor by die Universiteit van Pretoria se departement veekunde en mede-organiseerder van die kompetisie, sê die doel van die kompetisie is om studente te leer om op ’n praktiese manier al die aspekte van ’n voerkraal te leer ken en te bestuur. “Die vak Grootveekunde 420 leer hulle byvoorbeeld hoe om formulasies vir grootvee saam te stel en al die bestuur wat daarmee saamgaan, maar ons almal weet ook dat dit wat jy in die klas leer, prakties uitgevoer moet kan word. Vir ons studente is dit ’n groot geleentheid omdat hulle op hierdie manier nader beweeg aan die bedryf wat hulle gaan moet bedien.”

Die kompetisie het bestaan uit 119 beeste en 10 spanne studente. Elke span, buiten een, het 12 beeste gehad wat volgens die beginsels van ’n kommersiële voerkraal bestuur moes word. Deeglike aantekening van data is van die studente verwag, wat die verwerking van voerinnames en diere se gemiddelde daaglikse gewigstoename, asook voeromsettingsverhoudings ingesluit het. “Hierdie, saam met algemene bestuurspraktyk, spansamewerking en die beoordeling van die lewende diere en die karkasse sal die wenner van die kompetisie bepaal.”

Die kalwers word ná die kompetisie by die Cavalier-groep se abattoir buite Cullinan geslag, waarna die karkasse beoordeel sal word.