Sy departement verbruikerswetenskap en die sentrum vir volhoubare landbou, landelike ontwikkeling en voorligting (CENSARDE) het onlangs saamgesmelt tot die departement volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling, terwyl die afdeling voedselwetenskap nou onder die departement mikrobiologie en biochemie val.

Die departement vee-, wild- en weidingkunde staan nou as die departement veekunde bekend. Luidens ’n verklaring deur die UV gaan vleiskunde, melkproduksie en wolwetenskap weer binne dié departement aangebied word. Dié besluit gaan gepaard met nuwe aanstellings.

Volgens prof. Frikkie Neser, hoof van die departement veekunde, gaan ’n vleis- en melkproduksie-eenheid ook gestig word, asook een gemoeid met veeteeltgenomika en bio-informatika. ’n Eenheid vir die verwerking van melk sal op die Paradys-proefplaas buite Bloemfontein gesetel wees.

Konsultasiedienste wat tot nut van die bedryf is, sal ook beskikbaar wees. “Studente sal aan die volle waardeketting van vleis, melk en wol blootgestel word, en navorsing en produkontwikkeling kan doen by ons volledig toegeruste geriewe,” volgens Neser.