“Ek meen ons is deur die dal,” sê mnr. Johann Kotzé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo).

Aan die begin van die jaar was produsentepryse reeds laer as in 2019, maar die inperking het varkvleis se roetes na sy formele en informele markte seergemaak.

Kotzé sê baie varkvleis word in die informele handel bemark en dié handelaars kon aanvanklik nie werk nie. Verder was dit vir groot- en kleinhandelaars baie moeilik om te voorspel hoe verbruikers gaan reageer. Omdat varkvleis ’n bederfbare produk is, het dit die aanbod op die rakke beïnvloed.

“Dit was net die roete na die markte wat seergekry het. Die prys het gedaal omdat die aanbieding nie daar was nie, maar die vraag na diereproteïen het nie gedaal nie.”

In vlak 4 lyk sake beter en is daar ’n groter vraag in die groothandel. “Met die lae plaashekprys is ons nou in ’n goeie posisie.”

Kotzé sê omdat varkboerdery ’n kapitaalintensiewe bedryf is, het boere ’n prys bo produksiekoste broodnodig.

Bemarking

Savpo het reeds sy bemarking aangepas by die feit dat verbruikers se bestedingspatrone en -vermoë weens die inperking verander het. “Ons bemark baie op sosiale media en is baie teikengerig om seker te maak ons konsentreer op die regte markte. Ons gebruik onder meer al Media24 se kanale.

“Ons plaas baie aandag op vars vleis en hoe mense dit self kan voorberei. Ons spits ons toe op maklike, bekostigbare resepte wat vinnig is om voor te berei. Varkvleis is ’n veelsydige, bekostigbare produk wat maklik is om mee te werk. Mense moet steeds eet en ons moet sorg dat varkvleis in hul inkopiemandjies is.”

Kotzé is opgewonde oor die bemarkingsprojekte en sê Savpo kan reeds resultate sien.

Kompartemente

Kommersiële varkboerderye word in kompartemente bedryf en Kotzé sê die gedagte van inperking is dus vir boere niks nuuts nie. “Ons biosekerheid was reeds beter as wat in vlak 4 of 5 vereis word.”

Kotzé sê die varkbedryf is baie dankbaar dat hy, as deel van die landbou, as noodsaaklik geag word en deel kan wees van die waardeketting wat voedsel aan die land voorsien.