Só lui ’n verslag oor die varkvleiswaardeketting wat die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) onlangs in samewerking met die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo) saamgestel het. Luidens die verslag is hoërinkomsteverbruikers tans die grootste verbruikersgroep van varkvleis en word hulle deur formele bemarkingstrukture bereik. Laerinkomsteverbruikers word dikwels deur informele kanale bereik, wat verder ondersoek moet word.

Dié verslag is die eerste stap in ’n groter inisiatief om die verbruik en koopvoorkeure van laerinkomsteverbruikers in spesifiek informele gebiede, beter te verstaan.

Suid-Afrikaners eet luidens die verslag min varkvleis vergeleke met die res van die wêreld. In Suid-Afrika verteenwoordig varkvleis 8% van die vleis wat verbruikers koop, vergeleke met 37% internasionaal.

Onlangse studies het bevind dat sommige Suid-Afrikaanse verbruikers varkvleis steeds as ’n minderwaardige produk beskou en bekommerd is oor kwessies soos gehalte, bederfbaarheid en voedselveiligheid.

Dit is daarom nodig om verbruikersvoorkeure rakende beide ekonomiese en nie-ekonomiese faktore te verstaan. 

Goedkoper alternatief

Verbruikers wat varkvleis as minderwaardig beskou, se opvatting is besig om te verander, veral in swart gemeenskappe, lui die verslag. Verbruikers koop al meer varkvleis omdat dit ’n goedkoper vleisalternatief is. In die laaste vyf jaar, gemeet aan karkaspryse, het varkvleis teen sowat 45% laer verkoop as beesvleis en sowat 65% laer as skaapvleiskarkaspryse.

In die afgelope dekade het varkvleisverbruik jaarliks met gemiddeld 3,5% gegroei, vergeleke met hoendervleis se jaarlikse gemiddelde groei van 2,5% en beesvleis se 1%.

BFAP verwag dat varkvleisverbruik die volgende dekade beduidend gaan groei, maar weens druk op verbruikers se bestedingsvermoë stadiger as in die afgelope dekade.

Van 2018 tot 2020 was die gemiddelde jaarlikse varkvleisverbruik per Suid-Afrikaner 4,3 kg, teenoor 13 kg/jaar beesvleis en 35 kg/jaar hoendervleis.

Produksie

Suid-Afrikaanse varkvleisproduksie verteenwoordig 5% van die bruto waarde van totale diereproduksie. Die bedryf groei wel goed en sy bruto produksiewaarde het die laaste dekade jaarliks met gemiddeld 9% gegroei. Beesvleis se nominale produksiewaarde het met gemiddeld 10%/jaar gegroei, bokhaar met 15%/jaar en wol met 12%/jaar.

Min inligting is egter oor die informele varkvleiswaardeketting beskikbaar. Volgens Statistieke SA se 2016-gemeenskapsopname was 210 504 huishoudings in 2015 by varkboerdery betrokke, 87% meer as in 2011, wat op groei van byna 22% per jaar dui.

Savpo het in ’n vorige afsonderlike bedryfsopname bevind dat sowat die helfte van klein varkvleisprodusente varke aan slagplase verkoop, buiten verkope aan plaaslike verbruikers. Indien produsente met 10-50 varke (31% van die informele kudde behoort tot hierdie groep) meer kommersieel gerig is en die helfte van hul varke aan slagplase verkoop, beteken dit dat slegs 18% van klein varkvleisprodusente se varke die mark deur formele kanale betree.

BFAP raam dat die batewaarde van die informele kudde in 2016 sowat R1,24 miljard beloop het (26 600 tonne vark). Die informele sektor, net soos die formele sektor, het groot potensiaal om tot inklusiewe groei by te dra. 

Luidens die verslag is dit dus nodig om die vloei van varkvleis deur die hele waardeketting te verstaan om sodoende groei in verbruik te maksimeer en te verseker dat die eindproduk by die regte verbruiker uitkom, in die regte produkvorm.

Dit is ook dus nodig om kleiner produsente te ontwikkel. Baie van verbruikers se voorkeure rakende varkvleis word gevorm deur kleiner produsente se produksiepraktyke in hul nabye omgewing en gevolglik kan verbetering dié opvattings ook beïnvloed.

Biosekerheid

Vir die verslag is ’n opname onder 50 abattoirs gedoen wat 70% van die nasionale slag van varke verteenwoordig.

Slegs 2% van die respondente se slagtings was diere vanaf ongekontrakteerde produsente, wat klein produsente insluit. Kleinboere kan slegs klein hoeveelhede diere verskaf en slegs wanneer hulle diere beskikbaar het. Die heersende neiging in die bedryf is om diere vanaf gesertifiseerde produsente te verkry, wat aan die vereiste biosekerheidstandaaarde voldoen.

Luidens die verslag is dié neiging goed vir groeiende verbruikersvertroue en die bestuur van voedselveiligheidsrisiko’s, maar dit maak dit moeiliker vir klein produsente om sodoende die formele waardeketting binne te dring. 

Bemarking

Die deelnemende slagplase in die opname verkoop 88% van hul produkvolume aan kleinhandelaars (insluitend slaghuise en die gasvryheidsbedryf), verwerkers en groothandelaars. Informele handelaars is verantwoordelik vir 4% van die produk en 'n verdere 4% word deur slaghuise se eie winkels verkoop

Hoewel die slagplase nie regstreeks aan informele markte bemark nie, ondersteun hulle wel bedryfsbemarkingsveldtogte om produkbewustheid en opvoeding in hierdie gebiede te bevorder en het hulle ’n styging in die vraag na varkvleis opgemerk.

Respondente het ook opgemerk dat verbruik van varkvleis groei danksy veranderings in produksiepraktyke asook in die voorbereiding van die vleis, in reaksie tot verskeie bemarkingsveldtogte.

Volgens respondente is die gewildste produkte braaisnitte, tjops, stowevleis en geprosesseerde produkte soos russiese worsies. Hierdie verwerkte produkte bied ’n goedkoper bron van diereproteien en omdat dit bevrore, voorafberei of gerook is, kan dit langer opgeberg word.