Al is die Van Zyls van Prairie, Ladybrand, meer bekend in veekringe, gee hulle die toon aan in hul omgewing met vogbewaringspraktyke, die regstelling van grondsamestellings en breedwerpige kalktoediening. Hulle verbou jaarliks graan op dubbel die oppervlakte as dié streek se gemiddelde.

Dis danksy mnr. Theo van Zyl en sy seuns se strewe na vernuwing dat hulle aangewys is as ’n finalis in Graan SA se kompetisie vir die Graanprodusent van die Jaar. “Ons is nooit tevrede met die status quo nie, ons wil voortdurend verbeter,” sê Theo jr.

Mnr. Theo van Zyl jr. (links) by sy ouers, mev. Gerda van Zyl en mnr. Theo van Zyl sr.
Mnr. Cobus Van Zyl met FJ (3 jaar) en sy vrou, Chantelle, met Abigail (8 maande) tydens die doop van Abigail etlike maande gelede. Foto: Verskaf

Hul diversifikasie oor die jare heen, die toepassing van goeie bestuursbeginsels, ’n praktiese aanvoeling en bowenal die onverdienstelike seën van Bo het bygedra tot hul erkenning as gerekende graanboere. Vanjaar se ander finaliste is mnre. Johan en Dirkie van As van die plaas Kinko, Swellendam, en mnr. Louis Wilken en sy seuns van die plaas Juriesbaken, Hofmeyr, Oos-Kaap.

Die sukses van die Van Zyls se gemengde boerdery is oor vyf dekades heen geskoei op ’n konserwatiewe finansiële benadering waarvolgens die gebied se marginale gewasverbouing met ’n veefaktor verskans is en waarin berekende besluite oor risiko’s geneem word.

Hul familietrust bestaan uit verskeie eie en huureenhede met ’n bestendige produktiwiteit. Theo sr. het aanvanklik ook sy kontantvloei met ’n melkery aangevul. Sy veefaktor het toe twee derdes van die boerderyomset uitgemaak teenoor die huidige vlak van die graanproduksie van sowat 70%.

Hegte driemanskap

Sy seuns, Cobus en Theo, is dit eens dat hul pa se deursettingsvermoë die deurslag gegee het om hul boerdery op ’n wenpad te plaas. Hulle het sy uitsonderlike werksetiek geërf. Nóg ’n eienskap is die hardwerkendheid van hul ouma, wyle mev. Ella van Zyl, deur wie se toedoen die plaas Prairie meer as 50 jaar gelede bekom en ontwikkel is.

Theo sr. sien op 72-jarige ouderdom kans vir die boerderyprobleme. Een van die teenvoeters vir die gebied se vele moontlike misoeste is ’n uitbreiding van die boerdery se veekomponent. Sy ideale mikpunt is die aanhou van 1 GVE per hektaar waarop gewasse verbou word om die saaiery teen droogtes te verskans.

“Dit is nogal ongelooflik hoe ’n aanvoelingsbenadering ons driemanskap oor die jare kon aanvuur tot die huidige hoë vlak van die boerdery,” sê Theo jr. “Dit kan teruggevoer word na ons liefde vir die grond en diere. Dit is asof ’n mens daarin slaag om die regte besluite op die regte tyd te neem met die gunstige finansiële voordele wat daaruit spruit.”

Die mielies op Prairie wat meer as 5 ton/ha gemiddeld in dié blok opgelewer het. Mnr. Cobus van Zyl is in die stuurkajuit.

mielies, sonneblom en soja

Die produksie van mielies, sonneblomme en soja maak sowat 70% van die boerderyomset van die huidige plantseisoen uit op onderskeidelik 700 ha, 700 ha en 400 ha op grond van medium-opbrengspotensiaal. Die twee Theo’s is vir die veevertakking verantwoordelik, terwyl die 35-jarige Cobus die gewasboer is.

Sy take behels alle meganiese bewerkings, soos met die skeurwerktuig en plant, beheer van die stroper se presisiekaarte en die kalibrering van die hoogloopspuit. Hy behartig die daaglikse plaasbedrywighede en die werkers, asook die weeklikse beplanning van die aankoop van gifstof, kunsmis, saad en diesel.

Dié Jan Knaphand met sy sweisvaardigheid hou die toerusting in stand. Op die grond met ’n lae opbrengspotensiaal wat nie vir gewasverbouing geskik is nie, word hawer en aangeplante weiding (’n mengsel van Eragrostis en tef) vir die oorwintering van die vee aangeplant.

aanpasbare Kultivars

Cobus glo in die kontinuïteit van kultivars.

“Ons oorweeg eienskappe soos volhoubaarheid en aanpasbaarheid by die omgewing, opbrengs en weerstand teen siektes.” Stabiele kultivars word in nat asook droë seisoene beproef met die jaarlikse byvoeging van ’n kultivar om sy potensiaal te toets. Die sojaboonoes word in Maart-April gestroop, gevolg deur die sonneblomme en mielies.

Die soja-oes het die stremming van die droogte ervaar nadat dit in ongunstige toestande in Oktober 2017 geplant is en in Februarie 2018 geblom het, met die gevolglike gemiddelde opbrengs van 0,8 ton/ha.

“Die soja in ons geweste volg die patroon van óf wen óf verloor,” sê hy. Die gewaagdheid van dié produk is ook die rede hoekom hulle nie die soja bemes nie, maar net die stikstofneerlegging daarvan vir die daaropvolgende mielieverbouing benut. Die mielies het vanjaar gemiddeld sowat 5 ton/ha opgelewer.

Die winsgewendste gewas in hul portefeulje is sonneblomme, wat die gehardste in droë jare is. “Maar wat die mielies vir ons van belang maak, is die oesreste waarop die beeste die winter kan oorleef. Derhalwe sal dit dwaas wees om nie mielies te plant nie.”

Die saaiery se toepassing van verminderde bewerking stel die saadmaatskappy Pioneer jaarliks in staat om die Clearfield-sonneblomkultivars op die plaas te beproef.

’n Laat winterreënbui het die onkruid op ’n sonneblomland wat vir sojabone voorberei word, ’n aansienlike hupstoot gegee. Die Van Zyls gebruik ’n John Deere 4630-hoogloopspuit met ’n spuitbalk van 24 m om onkruid te bestry.

Wisselbou klop onkruid

Voorkoming is beter as duur bestryding. Die beste strategie is wisselbou, ook vir onkruidbestryding, sê hy.

Cobus ondervind soms ’n oesverlies weens sclerotinia wat weens nat toestande kopvrot in die sonneblomme veroorsaak. Hy sê beter waterbeplanning en dreinering is noodsaaklik. Gewasrye moet in die regte rigting gemaak word sodat water uit die lande kan vloei, pleks van daarin op te dam.

Vir die volgende produksiejaar sal die grond genoeg vog hê vir vroeë aanplantings, al is die reënvalpatroon onbekend. Hy sorg ook dat besmette lande laaste gestroop word en dat die stroper daarna behoorlik skoongemaak word.

Springhaasrotte

Die Oos-Vrystaat word sporadies tydens planttyd deur springhaasrotte geteister wat op ontkiemende saad teer. Dié knaagdiere word met lokaas in hul gate bestry. Tydige bestryding is nodig in die geval van onkruid, soos skraalhanse (Conyza spp.), wat hulle vroeg probeer doodspuit, wanneer dit nog plat op die grond groei.

“As dit eers groot is, sukkel ’n mens om dit uit te roei weens die klein oppervlak waar die onkruiddoder vatplek kan kry.” Die omvattende wortelmassa van kweek bemoeilik ook die bestryding daarvan. Tandbewerking is geneig om die verspreiding van kweek aan te help wanneer dit oor ’n groter gebied verplaas word.

Die boerdery se John Deere 4630-hoogloopspuit met ’n spuitbalk van 24 meter word gebruik vir die toediening van alle chemikalieë. Valarms word meestal by die mielies gebruik om die gif doeltreffender op die grond te kry weens die mielies se groot blaaroppervlak wat die gif se doeltreffendheid om die grond te bereik, beperk.

Fyn uitgewerkte onkruidbestryding Cobus wissel sy program vir onkruidbestryding af volgens elke seisoen. Ná die strooptyd en die benutting van die oesreste, word die kweekkolle met ’n skottelploeg bewerk om die kweek se wortels bo die grond te kry sodat die ryp daarmee kan klaarspeel.

“Dit is gewoonlik wanneer ons die lande met ’n skeurwerktuig bewerk en kalk vir die komende jaar se mielie-oes strooi. Onkruid word terselfdertyd bespuit, na gelang van die onkruiddruk.” Sodra genoeg somerreën voorgekom het en die onkruid ondervind nie meer die droogtestremming van die winter nie, word ’n bespuiting, gewoonlik teen die middel van Oktober, gedoen.

Vooropkoms-bespuiting word ingevolge die aanbeveling van die gifmaatskappy in die geval van mielies, soja en sonneblomme gedoen. Dieselfde aanbevelings word gevolg in die geval van skoffelbespuiting volgens die korrekte plantstadium.

Wisselbou

Mielies word met sojaverbouing afgewissel vir ’n hoër mielie-opbrengs, en tussen sonneblomme en mielies vir die wisseling in onkruiddoder om die weerstand van onkruid teen die chemiese middels te probeer voorkom.

Sojabone word jaarliks op slegs sowat 400 ha verbou om die stropery vinniger af te handel en die stroper vir die ander gewasse te gebruik, en ook weens die wisselvallige opbrengs wat dit in dié deel van hul distrik oplewer.

Die res van die beskikbare hektare word om die helfte tussen mielies en sonneblomme verdeel.

Presisieboerdery

Cobus volg ’n soort minimum bewerking vir vogbewaring in die geval van penwortel- gewasse, soos sonneblomme en sojabone. In die geval van mielies met sy bywortelstelsel het hy gevind dat bewerking met ’n skeurwerktuig die opbrengs daarvan verbeter.

Hul grond met ’n medium-opbrengspotensiaal kan net 400 mm diep bewerk word voordat die potkleilaag bereik word. Die skeurwerktuig hef die verdigting tot op 300 mm tot 350 mm vir die mielies op. Ná strooptyd word die oesreste en die weiding in die wenakkers deur die beeste benut.

“Ons wissel plantdigtheid en kunsmis-toediening af in ooreenstemming met die uitslae van die grondkartering wat ons op al ons eie grond laat doen het, nie die huurgrond nie.” Cobus meen ’n oormaat misstof is onnodig vir winsgewende mielieproduksie, veral in droëlandtoestande met ’n medium-opbrengspotensiaal, soos hul mielielande.

Derhalwe dien hy bemesting met stikstif (N), fosfaat (P) en kalium (K) van die mielies toe vir ’n opbrengsmikpunt van 4,5 ton/ha.

“Boere moet daarteen waak om ’n swaar NPK-inset te maak om die een of ander denkbeeldige groot oes na te jaag – en dus te veel te bestee, met die gevolglik onnodige insetrisiko. Ons volg eerder ’n konserwatiewe benadering en gaan oordeelkundig te werk.”

Die ander nadeel is dat oormatige stikstoftoediening ernstige grondsuurheid veroorsaak, wat verreikende finansiële gevolge vir die boer inhou weens die ekstra koste van kalktoediening. Cobus dien sowat 2 ton/ha dolomitiese kalk jaarliks in ’n vierjaarlikse siklus op sowat 400 ha toe.

Sy bemestingsvlak vir die sonneblomme is gemik op ’n oes van 2 ton/ha.

Goeie waterverspreiding

Een van die probleme in die Oos-Vrystaat is die voorkoms van kontoere vir goeie waterverspreiding in die hellingagtige landerye. “Wanneer jy nié die praktyk toepas nie, gaan haal jy al jou bogrond by die buurman.”

Volgens Cobus kan hulle nie dieselfde groot oppervlaktes beplant soos in ander platter saaidele nie, waar bewerking nie kort-kort onderbreek word om van een lappie grond na ’n ander te beweeg nie. Hul lande beslaan 60 ha tot 70 ha elk, teenoor ander gebiede se landerye van etlike honderde hektare elk.

Die boerdery se 12 trekkers, met kraglewering van 50 kW tot 200 kW, word weekliks nagegaan. Tans word alle ou trekkers behou as gevolg van ’n boerdery wat uitbrei. Trekkers word slegs vervang wanneer die boerdery se begroting dit toelaat en ’n behoefte aan ’n bepaalde werktuig ontstaan.

Kontrakteurs word net in noodgevalle gebruik, soos wanneer die soja-oes se invordering met die stroop van die sonneblomme bots. Die verskansing van graan vind plaas deur kontrakte met die landboumaatskappy OVK. Graan word daar vir eie gebruik en as ’n bemarkingsgeleentheid opgeberg.

Mnr. Theo van Zyl sr. se eerste liefde is sy veevertakking. Hy is deesdae vir die Boranstoetery verantwoordelik.

Veevertakking

Die Sussexstoetery behels vroulike diere met kalwers, vervangingsverse en ’n bulkalfgroep wat uiteindelik minstens 50 tweejarige bulle vir die teelmark oplewer. Hul Boranstoetery behels vroulike diere met kalwers, vervangingsverse en 20 bulle van 1 tot 3 jaar oud vir bemarking.

Die kommersiële kudde bestaande uit F1-kruiskoeie (Sussex en Boran) en vervangingsverse. Die koeie word met ’n Sussexbul gepaar. Dié terminale kruisings en die uit- skot-bulletjies word in die plaasvoerkraal afgerond.

Ná speentyd in April word alle kalwers op hawergroenvoer (0,5 ha/GVE) aangehou om sodoende die verse op 12 maande te kan paar en die manlike uitskot vir die voerkraal op die veld af te rond. Alle verse wat gekalf het, word ook op die hawer aangehou, totdat die natuurlike somerweiding voldoende is.

Netjiese huise op Prairie waar die boerdery se werkers woon.

Werkbestendigheid

“As ’n aktiewe familieboerdery is dit nie nodig om werkers in ’n bestuursrol te gebruik nie,” sê Cobus. Hul 13 heeltydse werkers word om die helfte vir gewasverbouing en die veevertakking aangewend. Mnr. Ruan Hatting werk die afgelope jaar by die Van Zyls en hy en Cobus los mekaar op die stroper af.

Loonvasstelling raak nie die vergoeding van sy werkers nie. “Die huidige vlak van die minimum loon is aanvaarbaar. Dit is vir ons belangrik dat ons mense behoorlik vergoed word,” sê Cobus. Sowat 7% van die boerdery se omset word aan die loonrekening bestee

Navrae: Mnr. Cobus van Zyl, e-pos: fjcobus@yahoo.com; sel 082 675 0042; mnr. Theo van Zyl, theovanzyl@vodamail.co.za; sel 082 564 4921.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.