Dit was die boodskap van dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum (NAHF) by die jaarkongres van die Noord-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie in Kimberley.

Hy sê indien ’n identifikasiestelsel vir alle individuele vee nie vir die land ingestel word nie, sal die produsente hulle marktoegang verloor.

Hy het ook gesê die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf moet hom nie blind staar teen die verbruiker in die buiteland nie, aangesien Suid-Afrikaanse verbruikers ook op ’n veilige naspeurbaarheidstelsel aandring wat vertroue inboesem.

“Die plaaslike verbruiker dring óók aan op inligting oor waar sy kos vandaan kom, hoe dit verbou is en al die aspekte wat met veilige voedselproduksie gepaard gaan. Derhalwe is die vleisbedryf se kode van beste praktyke ook van belang,” se hy.

Vervoort sê die ander belangrike aspek van naspeurbaarheid is die monitering van dieregesondheid, wat regstreeks verband hou met toegang tot uitvoermarkte, en die verbruiker wat wil weet dat die kos op sy bord heilsaam is.

Bekamping van veediefstal

Mnr. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die RPO, sê die veebrandmerkstelsel waarvolgens die eienaar van ‘n dier geidentifiseer word, is reeds in plek.

“In die geval van ‘n naspeurbaarheidstelsel word die individuele dier geïdentifiseer, wat die bekamping van veediefstal bevoordeel,” sê hy.

Hy waarsku egter dat die brandmerkstelsel en herregistrasie van vee-eienaars eers verbeter moet word voordat die naspeurbaarheid op nasionale vlak ingefaseer kan word.

“Daar bestaan al ’n klomp hulpmiddels van die beoogde stelsel, maar dit is nog nie gekoördineer nie. Abattoirs wat vleis aan die groot winkelgroepe lewer, bedryf reeds elemente van naspeurbaarheid. Om die stelsel omvattend in te stel, behoort nie te moeilik te wees nie.”

Volgens Van der Ryst se beraming sal ‘n nasionale naspeurbaarheidstelsel oor minstens vyf jaar in die bedryf ingestel kan word.