Die Australiërs doen nogal baie moeite en navorsing om die verwagte landboumarkneigings in die wêreld te verstaan, te ontleed en vooruitskouings te gee sodat hul boere en landboubesighede ingeligte besluite kan neem. Die Australiese landboubedryf is in groot mate aangewese op uitvoermarkte – 80% van die Australiese landbouproduksie word uitgevoer teenoor sowat 33% van die plaaslike produksie.

Daarby is Australië een van die lande wat die minste subsidies aan die landbou gee. Begin Maart het Australië weer ’n konferensie gehou waarop vooruitsigte vir die volgende vyf jaar bespreek is. Veral vier aspekte waaraan die Australiërs baie aandag gee en waaroor hulle navorsing van wêreldgehalte doen, is in die kollig geplaas.

Die vier aspekte is:

  • Verwagte markneigings vir landboubedrywe;
  • Aanpassing by klimaatsverandering;
  • Tegnologie om internasionaal mededingend te bly; en
  • Die voorkeure en veranderinge in voorkeure by verbruikers in uitvoermarkte en hoe om daarby aan te pas.

Terloops, Australië probeer eerder op premiemarkte met goeie gehalte meeding as om met lae pryse mee te ding. Daarom is hy sterk ingestel op handelsooreenkomste met sy uitvoermarkte waar die regering die handelsroetes en markte vir sy boere oopmaak. Die Australiërs is optimisties oor landboumarkte in die volgende paar jaar.

Hul ontledings is hoofsaaklik gegrond op die verwagting dat die wêreld se ekonomiese groei hoog gaan bly – veral in die markte in Asië, waar ekonomiese groei van 5-7% per jaar verwag word. Dit sal verstedeliking aanmoedig en terselfdertyd sterk groeiende markte vir landbouprodukte van goeie gehalte skep.

Aan die aanbodkant is hulle effens konserwatiewer. Hulle meen dat produksiegroei in die meeste lande gaan afplat en dat die hoë voorraadvlakke in verskeie bedrywe na laer vlakke gaan beweeg, wat internasionale pryse gaan stut en selfs hoër kan laat neig. Interessant is ook dat hul diereproduksie en uitvoer (veral bees- en skaapvleis) sterk groei in die Oosterse markte. Veeproduksie maak sowat 50% van Australië se landbouproduksie uit.

Die verwagte wisselkoers is ’n groot faktor met die land se uitvoergerigte landbou. Na verwagting sal die Australiese dollar in die volgende vyf jaar stadig verswak teen die Amerikaanse dollar. Die rand het in die jongste drie jaar met die Australiese dollar tred gehou.

Die boerderyinkomste op Australiese veeplase kan in die volgende paar jaar betreklik vinnig groei namate die vraag na vleis en wol in die Oosterse uitvoermarkte groei. Die pryse van veeprodukte sal na verwagting stewig bly en verder styg. Internasionale graanpryse kan effens herstel namate eindvoorraadvlakke afneem.

Die Australiërs verwag dat saaiboere baie op produktiwiteit gaan konsentreer om hul inkomste te verhoog omdat pryse nie sterk gaan styg nie. Dit geld natuurlik ook plaaslike graanboere. Produktiwiteit en nuwe tegnologie gaan noodsaaklik wees om mededingend te kan bly.

Plaaslike boere kan nie bekostig om agter te raak met investering in nuwe tegnologie om produktiwiteit te verbeter nie. Ongelukkig is die beleidsomgewing teenoor die landbou tans van so aard dat nuwe investering gaan daal, wat kan meewerk dat plaaslike graanboere oor ’n jaar of drie gaan sukkel om mededingend te wees.

sterk groei in ooste

Die sterk groei in opkomende ekonomieë – veral in Asië en die Midde-Ooste – waar die lande se ekonomieë met 6-8% per jaar groei en die besteebare inkomste van inwoners dienooreenkomstig styg, wakker die vraag na vleis aan in die markte waarheen Australië uitvoer.

Die Australiërs steur hulle nie juis aan Europese markte nie, want buiten dat dit stadig groeiende en selfs stagnerende voedselmarkte is, is die markte in ’n mate oorvoorsien en onderworpe aan allerlei maatreëls waaraan moeilik voldoen kan word.

Dit bly vreemd dat plaaslike uitvoerbedrywe na Europa beur, terwyl die Australiërs ’n ander benadering volg deur hulle in vinnig groeiende markte te vestig en ook met die markte handelsooreenkomste aan te gaan. Grafiek 1 toon die verwagte verloop van Australiese vleispryse (bees-, lams- en skaapvleis) wat hoofsaaklik uitgevoer word – sonder staatshulp.

Grafiek 1

Dit is ’n goeie aanwyser van internasionale pryse en wat met plaaslike invoerpryse kan gebeur. Onthou, Suid-Afrika hef ’n 40%-invoertarief op bees- en skaapvleis, maar invoerpryse volg die neiging en die plaaslike markte – veral van skaapvleis – verhandel baie na aan invoerpariteit uit Australië.

Die rand verhandel na aan R10 per Australiese dollar en die wisselkoers was in die afgelope twee tot drie jaar redelik stabiel. ’n Mens kan sekerlik ’n stadig verswakkende neiging in die rand se internasionale ruilwaarde verwag met die nuwe beleidsrigting van nasionalisering van hulpbronne deur die ANC.

Skaap- en lamsvleispryse kan aanvanklik ’n stadig stygende neiging en daarna ’n effense sikliese daling toon na die einde van die tydperk. Natuurlik is die aanname dat hul produksie- en weidingstoestande normaal gaan wees. Die Australiërs verwag egter sterk groei in die uitvoervraag en boere gaan eerder geld maak uit volumegroei as prysstygings.

Wolpryse kan oor die volgende vyf jaar sterk met sowat 24% styg, wat ongetwyfeld vir Suid-Afrika voordelig sal wees. Internasionale suiwelpryse kan gemeng wees. Die prys van botter kan ná skerp stygings afplat, maar die pryse van melkpoeier en kaas gaan bly styg weens die stygende vraag in opkomende lande. Dit sal beteken dat invoerpryse nie ’n groot bedreiging vir die plaaslike melkbedryf inhou nie.

Akkerbougewasse

Internasionale graan- en oliesaadvoorraad kan in die volgende paar jaar verander (sien grafiek 2 , grafiek 3 en grafiek 4 ). Die vooruitsig is dat internasionale mieliepryse kan daal, ten spyte van die huidige droogte in Argentinië. Die koringprys kan marginaal styg, terwyl oliesaadpryse eers gaan daal, met verwagte stygings aan die einde van die tydperk van vyf jaar.

Grafieke 2, 3 en 4.

Dit is goeie nuus vir intensiewe veeboere omdat voerkoste na verwagting nie gaan styg nie. Ekonome voorspel dat die rand sywaarts of effe swakker gaan beweeg in die volgende paar jaar, wat beteken dat plaaslike saaiboere net hul winsgewendheid kan verbeter deur voortdurende investering in nuwe produksietegnologie om produktiwiteit te verbeter.

Dit is onwaarskynlik dat graanpryse gaan styg. Die neutebedryf groei in Suid-Afrika en wêreldwyd (ook in Australië) sterk. Die verwagting is dat Australiese mededingendheid gaan afneem namate die groter volumes op die internasionale markte beland. Wêreldproduksie het in die jongste tien jaar teen sowat 5-8% per jaar gegroei en pryse kan in die volgende vyf jaar effens laer neig.

Plaaslike boere wat nog in die neutbedryf uitbrei, moet dus nie in hul berekeninge staatmaak op voortdurend stygende pryse en aanvaar dat die wisselkoers van die rand deurlopend gaan verswak nie. Dit geld ook die meeste ander vertakkinge – wolskape is dalk die uitsondering – waar voortdurende belegging in nuwe tegnologie om produktiwiteit te verbeter noodsaaklik is.