Hy raai boere aan om waaksaam te wees en hul diere te ondersoek om seker te maak hulle het nie erge besmetting van hierdie inwendige parasiete nie. Die kleur van die oogslymvlies verklap dadelik as ’n skaap erg besmet is. ’n Ligte pienk tot wit kleur dui op besmetting. Die ligte kleur is weens bloedverlies omdat die parasiete van die skaap se bloed leef. ’n Rooi kleur is ’n teken van ’n gesonde skaap.

Diere wat geslag is of gevrek het, moet ook ondersoek word om te kyk of dit met knoppieswurm besmet was, wat deur witterige nodules in die derms verklap word.

Dr. Gretha Snyman van die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein sê navorsing oor die seleksie van skape met weerstand teen haarwurms word sedert 2011 gedoen. Net skape wat erg met haarwurms besmet is, word gedoseer en uitgeskot. Dié wat rooi oogslymvliese het, word as vervangingsooie gebruik. Vervangingsramme word ook op lae miswurmeiertellings geselekteer.

Dit is opmerklik hoe weerstandige skape se nageslag ook weerstandig is. In 2011 het 53% van die beste ram se lammers nie dosering nodig gehad nie, terwyl 74% van die swakste ram se nageslag gedoseer moes word. In 2016 het 97% van die beste ramme se nageslag nie dosering nodig gehad nie en 37% van die swakste ramme se lammers is gedoseer.

Genetiese parameters is intussen beraam en word gebruik om ’n protokol vir die seleksie van teeldiere met weerstand teen haarwurms te ontwikkel. ’n Genomiese ondersoek toon daar is genetiese verskille tussen vaarlyne en die weerstandige lyne het gunstige teelwaardes. ’n Meer diepgaande ondersoek is aan die gang om merkers of gene te identifiseer. 

Klik hier vir die tabel van siektes wat in Februarie by Ruvasa aangemeld is.