Die Rhenostervallei Beefmaster-stoetery van dr. Hendrik en me. Ronel Meyer het vanjaar die eerbewys as Vleissentraal en SA Stamboek se Vleisbeesstoetkudde van die Jaar ingepalm deur kuddes van verskeie ander telers en rasse na die wenpaal toe te klop. Die eerbewys is op die afgelope Bloemskou oorhandig.

Hendrik het ’n veeartspraktyk op Boksburg en hy en Ronel, ’n wiskundige, boer met die Beefmasters op die plase Roodepoort by Mookgopong en Rhenostervallei by Radium in Limpopo. Hy het sy graad in veeartsenykunde in 1982 aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ná sy weermagdae ’n praktyk in Boks- burg geopen. Sy dogter, dr. Rika Uys, seun, dr. Schabort Meyer, en dié se vrou, dr. Melissa Meyer, is ook veeartse en vennote in die praktyk. Hendrik en Ronel se ander dogters, Linda en Hettie, is albei geoktrooieerde rekenmeesters.

Hendrik sê die belangrikste rede hoekom sy Beefmaster-kudde die toekenning ontvang het, is omdat hy soveel klem op die bepaling van ouerskap lê. Hy kan met wetenskaplike akkuraatheid deur DNS-toetse elke bul, koei en kalf se ouerskap bewys. “As ek kan bewys wie ’n bul of koei se pa en ma is, kan ’n koper die syfers wat ek oor ’n dier aanbied, as die absolute waarheid aanvaar.”

Hy self koop nie ’n bul vir sy kudde as sy ouerskap nie bewys is nie. Dit laat reg aan hul leuse geskied: We value genetic traceability. Toe hy met stoetteling begin, het Hendrik soms agtergekom die dier wat hy gekoop het, is nie presies wie die verkoper gesê het hy is nie, omdat hy ’n ander pa het, soms omdat ’n bul oor die heining gespring het. Die akkurate bepaling van ouerskap kan slegs gedoen word deur sterthare met DNS te laat ontleed.

Wanneer ’n teler bevestiging van die ouerskap van sy hele kudde het, kan hy werklik vooruit boer en sy kudde se genetiese samestelling verbeter deur aan die hand van teelwaardes korrektiewe paring toe te pas. Só het Hendrik se stoetery se tussenkalfperiode (TKP) van 420 dae tot 370 dae verbeter, die speengewig van bulletjies van 240 kg tot 310 kg en versies van 210 kg tot 260 kg, en die ouderdom met eerste kalf van 33 maande tot 23 maande.

Reeds by teeldoelwit

Hendrik het in 1996 deeltyds begin boer; aanvanklik met wild en kommersiële Bons- maras op ’n plaas by Rust de Winter. In 2007 het hy die Beefmaster-stoetery op Rhenostervallei begin en in 2014 die plaas Roodepoort by Mookgopong gekoop, waar hy die koeikudde aanhou terwyl die bulle op die plaas by Radium loop. Hy het intussen van die wildboerdery ontslae geraak voor die pryse drasties getuimel het.

Hendrik se ervaring van boerdery kom van sy oupas aan vaders- en moederskant, dr. Tom Meyer van Bothaville en mnr. Hendrik Meyer van Bapsfontein. Uit die aard van sy werk as veearts het hy ook baie van die fynere kunsies van boerdery by sy kliënte geleer – volgens sommige mense ’n “onregverdige voordeel”. ’n Mens moet mos jou kennis benut, vertel hy oor ’n koppie koffie op die breë stoep van hul huis op Roodepoort.

Hy het sy eerste stoet-Beefmasters in 2007 by mnr. Mike Bosch van Bela-Bela gekoop wat soos sy pa, wyle mnr. Pieter Bosch, voorsitter van die Beefmaster-beestelersgenootskap van Suid-Afrika was. Hendrik het eers kommersieel geteel totdat hy in 2007 na stoetboerdery oorgeskakel het. Bosch is ’n keurder en het Hendrik se beeste gekeur. Hendrik het spoedig geweet watter tipe bees hy wil teel. Dit het lank geduur, maar vandag is hy by dié teeldoelwit.

’n Vroulike dier vir sy omgewing moet medium- tot grootraam wees, wigvormig, met ’n goeie uier, sterk bene, sterk bek en lang ore. “Hoe groter die ore, hoe meer is die Bos indicus-bloed in haar, wat op gehardheid dui.” ’n Bul moet sterk en manlik vertoon, met sterk oogbanke, bene en pote, goeie breedte, werkvermoë en ’n goeie skrotum, wat op vrugbaarheid dui.

Die storie van die ore kom van die samestelling van die Beefmaster, ’n sintetiese ras wat uit 50% Brahman-, 25% Hereford- en 25% Shorthorn-gene bestaan, met die behoud van elke ras se beste eienskappe. Die ras is geteel met een doel voor oë: vleis- produksie. Teling en bestuur word op ses eienskappe gemik, naamlik vrugbaarheid, temperament, gewig, bouvorm, gehardheid en melkproduksie.

Een van die topklas-Beefmasterbulle wat dr. Hendrik Meyer geteel het. Die kudde het reeds groot opgang gemaak, maar hy mik steeds hoër.
Dr. Hendrik Meyer by een van sy Beefmasterkoeie. ’n Goeie temperament is een van die Beefmaster se goeie eienskappe.

Voorkeur aan teelwaardes

Hendrik sê wanneer hy selekteer, gee hy eerste aandag aan teelwaardes voordat hy na voorkoms kyk, want genotipe is belangriker as fenotipe. As die dier goeie syfers het, beoordeel hy hom verder op voorkoms en bouvorm en besluit dan of dié bul of koei ’n rol sal speel om die kudde geneties te verbeter.

Die stoetery het al baie sedert daardie vroeë jare gevorder. Daarin speel voeding ’n groot rol. “Die sukses van ’n veeboerdery word grootliks deur die woordjie kos bepaal. Jy kan potensieel die beste bulle in die land gebruik om voortreflike koeie te dek, maar as hulle nie genoeg kos kry nie, help die gene nie baie nie. Boere wil dikwels by my as veearts weet wat hulle die beeste kan inspuit sodat hulle presteer. My antwoord is altyd: Gee hulle goeie kos. “Die vyf belangrikste, meetbare aspekte, naamlik speengewig, melk, tussenkalfperiode, ouderdom met eerste kalf en langlewendheid, is almal van kos afhanklik.”

Hy pas nie sinchronisering en kunsmatige inseminasie (KI) toe nie, omdat hy weens sy werk as veearts nie pal op die plaas is nie. Om koeie se hittesiklus te sinchroniseer om KI toe te pas, verg volgehoue toesighouding. Hendrik sorg egter dat die Beefmasters die regte kos gedurende bepaalde produksie- stadiums kry. “Niks is egter vas nie. Jy moet jou plaas, veld en die gras en bosse se voedingswaarde ken sodat jy weet wanneer om die lekke te verander. ’n Maer koei raak nie sommer drag- tig nie; ook nie ’n oorvet koei nie. ’n Kondi- sietelling van 3,5 is vir my die ideaal. Dan vat hulle byna oornag.”

Beplan voervloei

Die beplanning van ’n stoetboerdery is van goeie voervloei reg deur die jaar afhanklik. “Daar is nie foefies nie. Sorg net dat die beeste reg deur die jaar goeie kos kry.”

Weens die gereelde droogtes is dit nie maklik nie, maar dit neem nie die verantwoordelikheid weg van die boer nie. Albei omgewings waar Hendrik boer, het soetveld. Die somer is warm en die winter matig. Die plaas by Radium kry gemiddeld 550 mm reën per jaar en by Mookgopong 700 mm, hoewel dit die jongste jare minder was.

By Mookgopong loop die 170 stoetkoeie slegs op aangeplante weidings, juis omdat dit so belangrik is dat hul kondisie eksieperfeksie is om maklik dragtig te raak en swaar kalwers te speen. “Die plaas is baie sanderig en het swak, natuurlike weiding gehad. Ek het die plaas ontbos en smutsvinger- en Brasiliaanse gras op 40 ha gesaai nadat al die veldgras uitgeploeg is.”

Daarvan word 40 ha met spilpunte besproei en 210 ha is aangeplante droëlandweiding. Dit word reg deur die jaar benut; in die so- mer as groen weiding en in die winter as staande hooi. Die koeie wei in die winter ook op 40 ha hawerlande wat besproei word. As hy ’n oorskot gras het, sny hy dit af en baal dit vir gebruik gedurende die winter, of om te verkoop. Die droëlandweiding het verlede somer só goed geproduseer dat hy 3 000 bale kon maak.

Die laaste 40 ha veldgras gaan ook mettertyd met aangeplante weiding vervang word. Die koeie kry in die somer gedurende die drie maande ná kalftyd ’n produksielek teen 2 kg per koei per dag. Ná speen het hulle toegang tot ’n gewone somerlek. Wanneer hulle in die winter op die hawer wei, skakel Hendrik oor na ’n fosfaatlek.

Dr. Hendrik en me. Ronel Meyer met die trofee vir Vleissentraal en SA Stamboek se Vleisbeeskudde van die Jaar. FOTO: DRIES MYBURG

Bulle op veld

Die bulle loop by Radium deur die jaar op natuurlike veld, bestaande uit wit- en bloubuffelsgras. Hulle kry deur die jaar lekke om voedingstekorte te voorkom, want die bulle moet gedurende die dekseisoen in ’n goeie kondisie wees. Daar is ook baie rosyntjiebosse wat saam met witgatbome, raasblaar en jakkalsbessie goeie kos vir die bulle bied.

Die jong bulle ondergaan ná speen ’n fase D-toets op die veld, waar hulle gedurende die winter ’n produksielek teen 1,5 kg per kop per dag kry en in die somer ’n somerlek, ook teen 1,5 kg. Die eerste seleksie van bulkalwers is volgens speengewig. Dié wat redelik ver onder die gemiddelde van die kontemporêre groep speen, word uitgeskot en aan voer- krale verkoop.

Die bulkalwers wat hierdie seleksie slaag, word na die bulplaas verskuif en dan in die fase D-toets op die veld geëvalueer. Die beste presteerders in dié groeitoets word op grond van ’n kombinasie van groei én fisieke voorkoms geselekteer. Hendrik gebruik die heel bestes vir ’n jaar as teelbulle. Die res word op sy produksieveiling (vanjaar op 13 September) op Bela-Bela aangebied.

Die verse word volgens hul gewig op twaalf maande geëvalueer. Dieselfde beginsels as vir bulle geld dan en ligte verse word verkoop om geslag te word. Koeie word ook vervang as hulle een keer nie kalf nie of twee jaar ná mekaar ’n kalf speen wat nie vir die stoetery geregistreer kan word nie. “Dit is my eie seleksieriglyne en is strenger as die riglyne vir TKP en ander aspekte wat deur die Beefmaster-genootskap voorgeskryf word.”

Goeie spanwerk

Hendrik en sy vrou werk as ’n span saam; die een vul die ander aan. Hulle probeer een keer per week by die boerdery uitkom, wat deesdae makliker is omdat hul seun, dogter en skoondogter ook in die praktyk werk. Tussendeur is hul bestuurder, mnr. Rudi Yzelle, in beheer van die boerdery op Mookgopong, en die bejaarde mnr. Philemon Monaheng sorg op Radium dat alles klopdisselboom met die bulle verloop. Al is hulle tevrede met hul vordering, rus hulle nie op hul louere nie. Ronel bevestig hulle kan die stoetery verder verbeter. “Ons streef daarna om van elke koei elke jaar ’n geregistreerde kalf te kry,” sê sy.

In die algemeen konsentreer hulle nou op die verbetering van die teelwaarde-indeks vir geboorte — direk (die kalf se bydrae tot sy eie geboortegewig) en maternaal (die ma se bydrae tot die kalf se geboortegewig) — en die voeromsettingsverhouding. As ’n koei nie genoeg melk het nie, kan sy nie ’n swaar kalf speen nie.

Té veel melk is ook nie wenslik nie, want dan boet ’n koei op TKP in. Sowat 500 liter bloed vloei deur ’n koei se are om een liter melk te produseer. Dis harde werk vir die hart en kan die kondisietelling benadeel as haar voeding nie reg is nie, wat kan veroorsaak dat sy nie weer dragtig raak nie.

’n Té hoë melkindeks het ook ’n nadelige invloed op bulkalwers se manlikheid. ’n Teler moet dus die melkwaarde in toom hou om manlike bulle te teel. Uiteindelik is ’n goeie middeweg die antwoord, want dan pas die verskillende dele van die legkaart in mekaar. Hulle is baie tevrede met die koeie se fisieke voorkoms, maar wil nog verder werk aan die bulle se voorkoms.

Aangeplante weiding onder spilpuntbesproeiing. Die koeie het toegang tot aangeplante Brasiliaanse gras, smutsvingergras en hawer in die winter.
Bulle op die plaas by Radium. Hulle word op die veld grootgemaak, met net ’n lek om te verseker hulle het geen tekort aan noodsaaklike voedingstowwe nie.

Goeie kuddegesondheid

As veearts weet Hendrik wat die waarde van goeie kuddegesondheid is. Hulle toets die beeste elke jaar vir tering en brucellose. Hy ent die verse met speen, voordat hulle die eerste keer gedek word, en ná kalftyd met die RB51-stam teen brucellose in. Verder ent hulle die beeste in teen spons-, lam-, milt-, drie-dae-stywe-, knopvel- en olifantvelsiekte. Hartwater kom ook voor.

Voorkomende behandeling is ingewikkeld. Omdat daar soveel verskillende hartwaterstamme is, het Onderstepoort nie noodwendig altyd die regte entstof nie. Dan kan ’n bees van ’n ander stam vrek al is hy ingeënt.

Hendrik sê dis die beste as ’n kalf vir sy eerste 28 dae ná geboorte deur hartwaterbosluise gebyt word om immuniteit op te bou. In dié tyd moet hy bies kry om ook van sy ma af ’n mate van immuniteit te kry, maar hy moenie gedip word nie. Daarna moet die beeste goed dopgehou word en sodra hy koors kry, met oksitetrasiklien of sulfamiddels behandel word.

Dis hoekom Hendrik se kalfseisoen in die somer is wanneer die bosluisdruk hoog is. “Ons probeer dus ’n stabiele situasie in ons omgewing kry om hartwater te bestuur.”

Dis belangrik om hartwater vroeg aan die hand van koors waar te neem. As ’n kalf nie vreet nie en met hang-ore staan, het hy hart- water. Dus word hul beeste twee keer per dag deurgekyk sodat behandeling dadelik kan begin. Sodoende is vrektes weens dié siekte in Hendrik se kudde net sowat 4%, teen- oor 15-20% by sommige ander beesboere.

Grootste inkomste

Die verkoop van stoetvee is hul belangrikste inkomste. Hulle het al R200 000 vir ’n bul en R125 000 vir ’n vers gekry. Baie keer hou ’n stoetteler sy beste diere vir homself en bied die naasbestes op ’n produksieveiling aan. Hendrik sê hy verkoop egter nie ’n bees as hy nie bereid is om dit in sy eie stoetery te gebruik nie. Dié waarmee hy nie self tevrede is nie, laat hy slag. “By implikasie beteken dit ons sit nie ’n dier op die veiling wat onder die rasgemiddelde is nie, anders koop die koper mos beeste wat nie goed genoeg is om sy stoetery of kommersiële kudde mee te verbeter nie. “ ’n Bees moet siektevry wees, beter as die rasgemiddelde presteer en ’n groot invloed op die genetiese samestelling van die koper se kudde uitoefen.”

LBW vra . . .

dr. hendrik meyer

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery?

Selfone vir kommunikasie.

Wie het al vir jou die beste raad oor boerdery gegee en wat was dié raad?

Dr. Danie Nolte, my goeie vriend, het gesê ’n mens moenie in beeste belê wat uitskieters is nie.

Wat is die grootste fout wat jy in jou boerdery gemaak het?

Om troppies veilingbeeste te koop pleks van enkele geselekteerdes.

Wat is jou grootste probleme in die boerdery?

Droogtes, arbeid en politiek.

Beoordeling berus op drie bene

Die toekenning van Vleissentraal en SA Stamboek se eerbewys vir die Elite-vleisbeesstoetkudde van die Jaar berus op drie bene, sê dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van die SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging. Eerstens, volledigheid en omvattendheid van aantekening van die kudde, met ander woorde hoe tydig aantekeningdata SA Stamboek bereik, watter eienskappe ingesluit word en hoe akkuraat dit gedoen word.

Die eienaar doen alles reg, soos ’n mens van ’n goeie stoetteler verwag. Hy neem ook deel aan méér as die normale vereistes, sluit sy jong bulle ná speen by groeitoetse in, doen skandering en gebruik dienste ten opsigte van genomiese toetsing.

Tweedens, reproduksie-prestasie van vroulike diere relatief tot die betrokke ras. Hier word gekyk na die ouderdom met eerste kalf, tussenkalfperiode relatief tot die betrokke ras en op grond van die standaardafwyking waarvoor punte toegeken word, dae sedert laaste geboorte in die kudde, wat aandui of geboortedata betyds ingestuur word en of die vroulike diere weer betyds dragtig geraak het.

Die laaste belangrike maatstaf is die gemiddelde, genetiese vlak van die kudde, wat aandui of die teler die teelwaardes van diere reg aanwend. SA Stamboek konsentreer veral op die koeiwaarde, wat ’n genetiese meriete van wins per hektaar is. Elke deel tel min of meer ’n derde. “Die kompetisie is straf en dit is dikwels desimale punte wat die rangorde van die voorlopers bepaal.”

Navrae: 082 947 6607, hrmeyer@vodamail.co.za