Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, sê die veebedryf sal nou, ná die opheffing van die verbod op die samekoms van diere ten opsigte van bek-en-klouseer, sy verantwoordelikhede moet nakom. “Boere moet besef dat die ou manier van sake doen, waarvolgens diere lukraak verkoop is sonder die nakoming van voorkomende maatreëls, iets van die verlede is. Die hele veebedryfsketting sal voortaan die verantwoordelikheid vir die nakoming van dieregesondheid moet aanvaar,” sê hy.

Vervoort sê die eerste treë vir die instelling van 'n nasionale naspeurbaarheidstelsel is reeds gegee. Volgens sy beraming sal sowat R10 miljoen bestee moet word om die stelsel op 'n nasionale vlak in te stel. 

“Dit is egter kleingeld vergeleke met die beraamde skade van R10 miljard wat die veebedryf met die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer gely het,” sê hy. 

Die beraamde skade van die voorkoms van dié dieresiekte in 2014 het sowat R6 miljard beloop.

“Ons beskou die instelling van ‘n naspeurbaarheidstelsel net as 'n koste vir die bedryf. Indien ons die toepassing van naspeurbaarheid en die verantwoordelikheid ten opsigte van dieresiektes nie as 'n belegging beskou nie, het die veebedryf nie 'n toekoms nie,” sê Vervoort.

Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa),sê produsente dink dikwels dat dreigende dieresiektes nie hul kuddes sal tref nie.

“Ás dit gebeur, word die bedryf onverhoeds betrap en die nagevolge kos baie geld.”

Volgens Malan is die nagevolge van dieresiektes, soos trichomonas by bulle, 'n swak kalweroes en een skaap wat 'n kudde met brandsiekte besmet, lei tot 'n swak wolskeersel.